Liedjie vir julle eerste dans


Die liedjie waarmee julle die dansbaan open op julle troudag is baie spesiaal. Maak so seker dat julle die regte keuse maak…

Julle eerste dans as meneer en mevrou is baie belangrik omdat al julle gaste se oë op julle vasgenael gaan wees. Hier is raad om seker te maak julle kies die perfekte liedjie vir die geleentheid.

1. Kies iets met betekenis
As een van julle twee linkervoete het, is dit beter om eerder die gaste te bekoor met iets wat vir julle betekenis het. Julle emosies en passie wanneer hierdie betekenisvolle liedjie speel, sal die gaste se aandag aflei van julle voete en op die mooi oomblik fokus – stadige liedjies werk gewoonlik die beste as ’n paartjie nie goed dans nie.

2. Oorweeg julle opsies
Gaan loer bietjie op jou gunstelingliedjielys en in jou CD-versameling en gaan ondersoek ook sy gunstelinge en kyk wat julle in gemeen het wat uitstaan en julle harte of voete vinniger laat klop. Begin met daardie opsies en kyk hoe julle daarop dans. As die ritme van die liedjie te vinnig of dalk te rock ’n roll is, gaan soek ’n akoestiese weergawe en jy sal verbaas wees oor die juweel wat jy kan ontdek vir julle eerste dans.

3. Google dit
Google is ’n wonderlike bron van inligting en kan jou help om agter te kom watter liedjies ander paartjies verkies het of watter liedjie se woorde mooi sal pas by die geleentheid of op die oomblik gewild is… julle kan selfs liedjies gaan soek uit die jaar waarin julle ontmoet het, wat treffers was net soos julle liefde vir mekaar… sulke idees sal help om julle gedagtes aan die gang te sit, sodat julle ’n oulike liedjie kan kies vir julle eerste dans.

4. Stel julle opsies op die proef
As julle twee of meer liedjies het waaruit julle nie kan kies nie, dans daarop en kyk watter een dans die beste en laat julle die lekkerste voel. Dit gaan mos oor watter liedjie die beste vir julle sal werk.

5. Skep julle eie kombinasie
Die meeste DJ’s is buigbaar en gretig om liedjies te kombineer volgens julle unieke behoeftes. Doen iets anders en kombineer ’n paar van julle gunstelinge en werk ’n spesiale dans uit op die maat van die verskillende liedjies. Julle kan selfs wissel tussen iets stadig en romanties en ’n lekker ritmiese nommerjie om die partytjie aan die gang te kry!

6. Vra ’n kenner se opinie
Jou platejoggie het baie ervaring wanneer dit by troumusiek kom. Die beste idee is om wanneer jy vashaak vir voorstelle te vra. ’n Professionele platejoggie sal beslis ’n lys van opsies hê wat julle kan oorweeg.

Miskien is die liedjie waarmee julle die dansbaan moet open op een van die CD’s in hierdie fantastiese geskenkpak deur Starburst Promotions, wat in die nuutste uitgawe van Troukoors weggegee word. Kliek hier om meer te lees. Die nuutste uitgawe van Troukoors Tydskrif kan aanlyn of by uitgesoekte winkels gekoop word.

Written by Troukoors