Soetgoed vir jou troudag

 Lorraine Swanepoel is nie net ’n suksesvolle besigheidsvrou en die eienaar van Cocovanilla Foods en Bang vir Bak nie, sy is ook ’n bekende gesig op die Suid-Afrikaanse kassie. Daarom is ons ongelooflik trots om aan te kondig dat Lorraine nou ook Troukoors se kosredakteur is en sien uit na al die opwindende projekte wat ons saam gaan aanpak! Lees hieronder meer oor hierdie dinamiese vrou en probeer gerus die heerlike soetgoed se resepte, wat sy spesiaal met ons deel.

ONTMOET ONS KOSREDAKTEUR

Lorraine Swanepoel se passie vir bak het reeds op ’n jong ouderdom begin, toe haar entrepreneursgees haar besig gehou het met die bak van soetgoed vir ekstra sakgeld. Sy het haar honneursgraad, in B. Verbruikerswetenskap en Koskleinhandel, met lof geslaag aan die Universiteit van Pretoria. Later het sy ook haar meestersgraad verwerf en gespesialiseer in Kos en Entrepreneurskap.

Tydens haar tweede jaar van voltydse studie, het sy Cocovanilla Foods begin. Sy wou oorspronklik net in fyngebak en koeke spesialiseer, maar kort voor lank het privaat- en korporatiewe spyseniering deel geword van die besigheid. Intussen het sy ook haar eie bakskool, Bang-vir-Bak, begin om haar liefde vir bak te deel met beginner-bakkers (wat bang is vir hulle oonde)! Hier bied sy halfdag-kursusse aan in fondantwerk, makrolletjies en botterversierseltegnieke.

Lorraine het al verskeie kere op die kassie verskyn, in televisieprogramme soos Pasella Tuiskokke (2011), Die Nataniël Tafel (2012), Dagbreek op kykNET (2014), My Sakpastroue (2015), Erfkos (2016) en Kom ons Trou Nou! (2017). Haar grootste prestasie was egter in 2014, toe sy deelgeneem het aan Kokkedoor 2, en die derde plek behaal het.

Hierdie jaar trek sy ook die baadjie aan van kosredakteur by Troukoors en wys vir ons die nuutste tendense in ons nuwe tydskrif, wat nou op die rak is! Cocovanilla Foods het gedurende die afgelope ses jaar gegroei tot ’n suksesvolle onderneming, wat spesialiseer in korporatiewe funksies, fyngebak, koeke, soetgoed, privaat-sjefdienste en spyseniering vir troues. Besoek haar webblad gerus vir meer inligting.

LORRAINE DEEL MET ONS TWEE RESEPTE

Maak seker dat die soetgoed– of nageregtafel op jou troue onweerstaanbaar is met hierdie heerlike resepte – wat nie net mooi lyk nie, maar ook heerlik smaak en maklik is om te maak…

BESSIE-GELATO
Hierdie soetgoed sal beslis ’n wenneer wees op jou troue.

Genoeg vir 8 gaste
Tyd: 10 minute voorbereiding (en vries oornag)

BESTANDDELE
750ml volroom melk
100g eiergele (5-6 ekstra-groot eiers)
180ml wit suiker
5ml vanieljegeursel
150g vars bessies (fyngekap – jou keuse van aarbeie, bloubessies of frambose)

METODE
1. Plaas die melk in ’n mediumgrootte kastrol en verhit totdat dit liggies begin borrel. Verwyder van die hitte af en hou dit eenkant.
2. Plaas die eiergele en suiker in die bak van ’n staanmenger (as jy nie een het nie, sal ’n mediumgrootte mengbak ook werk). Klits dit baie goed saam, teen ’n hoë spoed, totdat die mengsel liggeel, dik en romerig vertoon. Doen dit vir ongeveer 2 minute.
3. Verlaag die spoed van die menger en voeg die warm melk bietjie-vir-bietjie by die eier- en suikermengsel.
4. Gooi dan die mengsel terug in die kastrol op die stoof. Voeg die vanielje by en kook stadig, oor ’n mediumhitte, totdat die mengsel effens verdik het en dit die agterkant van ’n houtlepel bedek.
5. Verwyder van die hitte en roer die bessies deur.
6. Laat die mengsel afkoel, gooi dit in jou roomysmaker en volg die vervaardiger se aanwysings.

Interessante feit: Gelato is nie dieselfde as roomys nie. Dit bevat meer melk as room en moenie gevries word nie, anders verwys die Italianers na dit as roomys, en nie gelato nie.

 

OLIEBOLLE
Oliebolle is nog al die jare een van die gewildste soetgoed op partytjies en nou ook by troues!

Genoeg vir 30 gaste
Tyd: 120 minute

BESTANDDELE
100ml warm water (nie kokend nie)
150ml karringmelk
1 ekstra-groot eier
60g botter (gesmelt)
450g koekmeel
60g suiker
5ml sout
7.5ml kitsgis
Olie vir diepbraai
Bakpapier
5 x 80g stafies witsjokolade
50ml room
Sjokoladepoeierkleursel
Konfetti of versiering waarvan jy hou

METODE
1. Plaas die droë bestanddele in ’n mengbak. Strooi die gis oor die bakkie warm water. (Die water moenie kokend wees nie, anders sal die gis doodbrand, maar moet ook nie lou wees nie).
2. Maak ’n holte in die droë bestanddele en gooi die karringmelk, eier, gesmelte botter en gis by. Meng alles en knie vir 10 minute. Plaas dit terug in ’n skoon mengbak en bedek dit met kleefplastiek. Laat staan dit eenkant, in ’n warm plek, om tot dubbel die volume te rys.
3. Plaas die gerysde deeg op ’n meelbestrooide oppervlak en knie liggies af. Rol die deeg uit tot 2cm in dikte. Druk vorms met sirkels uit en gebruik ’n kleiner een in die middel. Plaas elke oliebol op sy eie bakpapier en plaas dit bo-op ’n bakplaat. Laat staan dit eenkant om weer tot dubbel die volume te rys.
4. Verhit kookolie tot 180°C. Wees versigtig, moenie jouself brand nie. Lig elke oliebol van die bakplaat af op en dop dit stadig om in die olie met behulp van die bakpapier.
5. Sodra dit goudbruin is, draai die oliebol om. Dreineer en laat dit afkoel.
6. Doop elke oliebol in gesmelte sjokolade, met room, en versier.

Vir nog soetgoed en mooigoed, kry gerus die nuutste uitgawe van TROUKOORS wat nou op die rak is, of bestel dit hier!

 

Written by Troukoors