Groot vraag – wanneer gaan hy vra?


Die groot vraag hang soms soos ’n wolk oor ’n verhouding… omdat albei partye miskien ander verwagtinge hieroor het. An-Sophie Lourens verklap of jou frustrasie hieroor normaal is of nie.

Almal in jou vriendekring het nou al die knoop deurgehaak. Net nou die dag het julle, julle vyftien jaar herdenking gehad het. Is dit normaal om te begin wonder wanneer hy die groot vraag gaan vra?

Wees gerus, baie vrouens is al hierdeur. Jy is nie net moeg om elke maand jou naels te gaan doen en met elke geleentheid op te dollie nie, jou moed is besig om te breek en die teleurstelling word net groter. Hier is ’n paar gedagtes wat die verwagting, rondom die groot vraag, dalk ’n bietjie meer draaglik kan maak.

Wees eerstens seker dat julle albei wil trou. Het julle al gepraat oor trou? Wil hy ooit trou? As hy nie vra nie, omdat hy nie wil trou nie of nie gereed is vir trou nie, gee eers tyd sodat julle albei op dieselfde bladsy is oor die groot vraag. As jy weet dat julle al oor trou gepraat het, en hy wil graag met jou trou maar hy vra nogsteeds nie, kyk na ’n paar redes hoekom hy nie die groot vraag vra nie.

* Hy wil eers genoeg geld hê vir ’n droomwittebrood of om ’n ordentlike huis vir julle te kry. Trou is ’n baie duur storie en vir iemand wat erg let op spaar en finansies kan hierdie gebeurtenis dalk nie so makik kom nie.
* Mense wat uit gebroke huise kom, kan dit ook moeilik ervaar om so ’n groot stap te neem. As sy vertoue gebreek is oor vorige mislukte huwelike, kan vrees dat dit met hom sal gebeur dalk maak dat hy nie oorhaastig wil wees met die groot vraag nie

Daar kan so baie redes wees wat maak dat mans vasskop daarteen om die groot vraag te vra. ’n Moeilike werksituasie of vrees dat julle verhouding sal verander. Maak seker julle praat genoeg en eerlik met mekaar. Bou vertroue en versekering.

Dalk het jy ’n voëltjie hoor fluit dat die groot vraag naby is of dalk het jou oog iewers ’n kredietkaartrekening gevang en jy weet dat dit nou enige dag kan wees. Hier is tekens dat die groot vraag naby is… want ’n vrou moet darem mooi lyk vir die gebeurtenis.
* As ’n Poker-aand saam die manne of sy daaglikse bier saam ’n vriend nou nie meer so ’n vaste gewoonte word nie. Dalk begin hy sy ou universiteitsplakkate afhaal en meer oor ons planne vir die naweek praat in plaas van die ouens se planne vir die naweek.
* Wanneer hy eweskielik kliphard begin om sy sente te tel, maar voorheen het jy gedink hy dink geld groei op bome. Deesdae leef julle byna in die donker, want elke lig moet af. Jou storttyd, wat alreeds ’n gejaag was word met vyf minute geknip en van nou af stap julle kafee toe, maar hy is te lui om sy klere op te tel. Net dalk is hy besig om te spaar vir iets mooi en blink.
* Hy ken nie eers die verskil tussen goud en roosgoud nie, maar deesdae bestudeer hy elke stukkie juweel wat jy dra. Vra of dit die tipe juwele is waarvan jy hou (asof jy dit sou dra as jy nie daarvan gehou het nie). Dit is tien-teen-een nie omdat hy ’n nuwe loopbaan as ’n juwelier oorweeg nie, maar omdat hy die groot vraag beplan.

Jy hoef glad nie slapelose nagte te hê oor of hy die groot vraag gaan vra of nie. As julle weet waar julle met mekaar staan, sal dit die een-of-ander tyd gebeur wanneer hy reg is. As jy snuf in die neus kry dat dit dalk naby is, geniet elke oomblik van die opwinding. Dit gaan in ’n oogwink verby.

Foto: Bridal Guide

Written by Troukoors