Papierblomme as versiering by jou troue


Papierblomme, in alle vorms en groottes, is deesdae in die kollig by troues omdat dit ’n maklike manier is om jou venue te verfraai. Minette Badenhorst van Paper Envy vertel meer hieroor.


Papierblomme vir troues is ʼn groot tendens wat nou vlam vat. Daar is so baie opsies en verskeie maniere hoe dit gebruik kan word. Die papierblomme kan as die hoof-dekoritem gebruik word, maar dit kan ook in kleiner groepies of individueel gebruik word deur op ander fokus punte opgestel te word. Dit kan in verskeie kleure gemaak word om perfek by jou kleurskema en ander dekor in te pas. Ek kyk na ʼn paar van hierdie opsies en hoe dit gebruik kan word.

TROU-FOTOMUUR
Papierblomme kan gebruik word om ʼn agtergrond te maak vir julle fotomuur of hoekie. Die kleure van die blomme kan gemaak word volgens die troue se kleurskema en so ook ʼn ekstra dekor fokuspunt skep. Julle gaste kan ook nou lekker foto’s neem voor die muur terwyl hulle vir die bruidspaar wag en ook regdeur die aand. Sit ʼn mandjie met oulike foto-props daar neer vir jou gaste om pret te hê met hulle foto’s en selfies.

AGTERGROND-DEKOR VIR BRUIDSPAAR SE TAFEL
Is julle nie seker wat om as dekor agter die bruidstafel te gebruik nie? Papierblomme kan gebruik word om ʼn pragtige agtergrond te skep. Dit lyk ook vreeslik mooi op foto’s, en sal iets besonders wees.

AGTERGROND-DEKOR VIR NAGEREG TAFEL OF VIR TROUKOEK
Indien julle ʼn oulike en anderste tipe nagereg opsie het op julle troudag en julle wil dit ʼn fokuspunt maak, sal ʼn mooi papierblom-agtergrond dit verseker doen. Daar is soveel verskillende opsies en style, so dit kan aangepas word vir enige troutema. Van rustiek tot meer modern. Gebruik papierblomme om die agtergronddekor vir jou troukoek te laat uitstaan. Die meeste paartjies sny steeds die troukoek as deel van die tradisie, en dus word dit altyd deur die fotograaf vasgevang. Met ʼn unieke papierblom-agtergrond sal dit net nog meer spesiaal wees. Kleiner papierblomme kan selfs gebruik word as versiering op die troukoek.

PAPIERBLOM-TROUBOOG BY SEREMONIE
Papierblomme op die trouboog sal ʼn pragtige visie skep. Met die verskillende groottes en vorms wat mens in die papierblomme kan kry, sal dit ʼn pragtige visie skep vir daardie spesiale oomblik wanneer julle trou aan mekaar beloof.

RUIKERS
As jy lus is vir iets anders vir jou en jou bruidsmeisies se ruikers, is papierblomruikers verseker ʼn oulike opsie. Dit kan in verskillende kleure en blomvorms gemaak word wat sal pas by die res van jou kleurskema en dekor, maar sal steeds die oog vang van al jou gaste. Dit gee ook daardie prettige gevoel tydens die foto’s saam met jou gevolg.

AGTEROP BRUIDSPAAR SE STOELE
Met hierdie oulike idee kan jy papierblomme by jou dekor inbring sonder om dit die hoof dekor-items te maak. Dit gee net daardie ietsie ekstra aan die dekor vir die bruidspaar se stoele.

Wat ook lekker is van papierblomme is dat dit na die tyd weer vir iets anders gebruik kan word of dit kan weggegee word as ʼn geskenk vir jou gevolg of vir spesiale gaste. Indien dit ʼn fotomuur is, kan dit in jou huis opgesit word as ʼn mooi kunswerk om ʼn leë muur bietjie lewe te gee. Van die blomme kan ook mooi gerangskik word teen die muur van ʼn kleintjie se kamer. So gebruik mens iets wat sentimentele waarde hou van daardie groot dag as ʼn dekoritem in jou huis.

5 MINUTE MET PAPER ENVY…
WAT DOEN PAPER ENVY?
“Paper Envy maak handgemaakte papierblomme. Die blomme word per bestelling gemaak en kan gemaak word in verskeie kleure en style vir enige geleentheid. Gaan loer gerus na my Facebook-blad en Instagram, @paper_envy, om meer te sien. Hou dit ook dop vir nuwe produkte en dienste.”

WAAR IS JULLE GEBASEER EN WAAR VERSKAF JULLE ORAL?
“Ek is tans gebaseer in die Bloemfontein- en Port Elizabeth-area. Maar ek verskaf regdeur Suid-Afrika via koerier.”

JOU RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE WAT PAPIERVERSIERINGS WIL GEBRUIK BY HULLE TROUES?
“Maak seker dat jy die blomme vroegtydig bestel, want dit neem ʼn tydjie om die blomme te maak. Veral as dit in groot hoeveelhede is. Ons sit baie aandag en tyd in om elke blom perfek te maak en daarom is dit belangrik om genoegsame tydlyn te hê om die beste produk te verseker. Presiese afmetings van die areas waar jy die papierblomme wil gebruik is ook belangrik. Dit word gebruik om te bepaal hoeveel blomme jy gaan nodig hê om die area te dek en om die gevoel te skep wat jy wil hê.”

WEN, WEN, WEN!


Een gelukkige leser kan ’n stel van 10 papierblomme wen (verskillende groottes en in die kleurskema van jou keuse) van Paper Envy!
Skryf so in:
*LIKE en SHARE die inskrywing op Facebook;
*LIKE Paper Envy se Facebook-blad; en
*Gebruik die hutsmerk #PapierBlomKomp in die kommentaarblokkie onderaan.

Die kompetisie sluit op 27 Oktober 2017 en die wenner sal op 30 November 2017 aangekondig word.

Foto’s: Pinterest, Paperflora, Deerpearlflowers, Paper Envy.

Written by Troukoors