Skryfbehoeftes – die tendense vir 2018


Skryfbehoeftes maak deel uit van elke paartjie se groot dag. Maar wat gaan gewild wees in 2018? Minette Badenhorst het by Soapberry Design gaan uitvind.

Skryfbehoeftes vir ʼn troue is ʼn belangrike komponent. Dit is die eerste glimpse wat jy aan jou gaste gee van jou troue, met die Save the Date en dan die formele uitnodiging. Ek gesels met Lizl Schmuhl van Soapberry Design oor die trou skryfbehoeftetendense vir 2018.

WAT GAAN DIE TENDENS WEES VIR SKRYFBEHOEFTES IN 2018?
“Iets wat nooit uit die mode gaan nie is goud. Ons werk ook aan iets om in plaas van foeliewerk te doen, ʼn goedkoper weergawe te gee, wat elke bruid se sak pas. DIY-troues is ongelukkig die toekoms, veral vir die grootste gedeelte van die mark. Ek dink geometriese ontwerpe is iets wat nou baie in die mode raak, maar dis moeilik om te sê wat die tendens gaan wees want elke bruid het haar eie idees – baie whimsical, baie rustiek en dan ook moderne simplistiese uitnodiging.”

WAT IS SKRYFBEHOEFTES WAT JY SAL AANBEVEEL OM EKSTRA DETAIL AAN JOU TROUDAG TE GEE?
“As jy die begroting het, sal ek die volgende opsies voorstel:
* Pragtige lasergesnyde name of papiervlinders vir op die glase;
* Mooi bordjies vir jou lekkergoedstasie, indien julle so iets het;
* Handwaaier met die inligting oor troue op;
* Bordjies vir verskillende stasies by die welkomdrankies (Jenewer, Sjampanje ensovoorts);
* Canvas of hout-gasteboek;
* Konfetti-kegels met oulike ontwerpe;
* Goue foelie-spyskaarte en/of -naamkaartjies;
* Interaktiewe tafelplan met klein borsspeld of so vir elk gas;
* Mooi strooitjies met vlaggies vir die welkomdrankies;
* Vonkelstokkies met ʼn oulike omhulsel;
* Nageregboksies vir elke gas.”

WAT STEL JY VOOR VIR ’N BEPERKTE BEGROTING?
“Oorweeg elektroniese skryfbehoeftes om geld te spaar, met jou onthou-die-datum- uitnodigings, asook trouwebblaaie. Ons spesialiseer in beide en ons sustersmaatskappy, Bridevibe, gaan dit op hulle webblad ook vrystel. Dit bespaar baie geld aangesien ʼn webblad jou so R1 000 uitwerk en alle inligting wat mens benodig vir op die dag is reeds daarop, van die spyskaart, akkommodasie, die gevolg, kaart na die venue, ensovoorts. Ons is ook tans besig om saam met Bridevibe klaar pakette te maak, waar ʼn bruid ʼn tema skryfbehoeftes by ons koop, dit dan self verander en print om geld te spaar. Almal het nie altyd die geld om alles deur iemand te laat doen nie, so dit help darem bietjie om geld te bespaar. Ek sal ook sê koerantjies op die dag is ʼn wonderlike idee. Hierin kan jy ʼn spyskaart en program sit, asook ’n tafellys. Dit help met besparing om dit alles saam te sit, eerder as om hierdie goedjies apart te doen. Ons is ook besig met ʼn reeks tafelnommers om geld te bespaar vir die bruid op die dag. Ons en Bridevibe wil hê elke bruid moet by ons kan koop en geld bespaar. Hulle kan spaar deur meer eenvoudige goedjies wat bekostigbaar is te koop, gebruik en dit kan na die tyd weggegooi word sonder om daaroor te huil.”

Skryfbehoeftes is ʼn item wat daardie ekstra bietjie detail aan jou troue gee. Doen dit met ʼn klomp verskillende klein items soos naamkaartjies en strooitjie vlaggies, of met een groot item soos ʼn welkom teken of persoonlike gasteboek. Jy kan dit maak soos dit by jou troutema en begroting pas. Gaan loer gerus op Soapberry Design se webblad vir nog oulike opsies en voorbeelde van hulle pragtige skryfbehoeftes.

Foto’s: Verskaf

Written by Troukoors