Sprokiestroue in die bosveld


’n Sprokiestroue in die bosveld was die ideale manier om Rumano en Berdéne se liefde te vier. An-Sophie Lourens vertel meer oor hierdie geleentheid, wat ’n lewendige optrede deur Elvis se Seun ingesluit het.


Natuurliefhebbers, Rumano en Berdéne, het dadelik geweet hulle wil op ’n plaas of in die bos trou. Dié sprokiestroue was alles waarvan hulle gedroom het en het perfek by hulle persoonlikhede gepas.

Berdéne deel met ons hulle liefdesverhaal, van hoe sy na ’n paar jaar eers besef het Rumano is haar trouman tot ’n sprokiestroue vir twee plaasliefhebbers.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN EN WANNEER HET JY BESEF JULLE IS BEDOEL VIR MEKAAR?
Een van my beste vriendinne was saam met Rumano op skool en het ons aanmekaar voorgestel. Na drie jaar, wat Rumano nie ophou probeer het om my oog te vang nie, het ek ingestem om na sy verjaarsdagpartytjie toe te gaan. Ek het hom begin sien vir die man wat hy is en kon nie glo dat dit my so lank gevat het nie. Na ons ’n paar keer saam gekuier het, het ek geweet hierdie is my trouman.

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE VERLIEF RAAK OPMEKAAR?
Ons is albei liefdevol, sosiaal, en vol selfvertroue. Eienskappe wat ons baie belangrik ag is dat ons albei ’n liefde vir die Here het, ons kan opmekaar staatmaak en dra mekaar se belange op die hart. Ons deel ’n groot liefde vir diere en die plaas.

HOE HET JULLE VERLOOF GERAAK VOOR JULLE SPROKIESTROUE?
Ons het Komati Gorge Lodge toe gegaan vir ’n naweek, minwetend van sy planne. Na ons vrydagmiddag daar aangekom het, het hy my gevra om saam met hom op die klippe in die riviertjie te gaan loop. Toe ek weer sien, gaan staan hy op een knie. ’n Jaar en 11 maande later is ons getroud.

HOE HET DIE BEPLANNING VIR JULLE SPROKIESTROUE VERLOOP?
Na ons op ’n finale datum besluit het, het ek op ’n punt begin en een ding op ’n slag aangepak. Ek het ook ’n leêr en afmerklysie gehad vir alles wat moes gedoen word. Ek het die troue heeltemal alleen beplan en alles self gedoen.

WAT WAS DIE KLEURSKEMA, TEMA EN ATMOSFEER VAN DIE SPROKIESTROUE?
Ons kleurskema was khaki, hessian, roomwit, en verskillende skakerings van ligte pienk. Die tema was bosveld gewees. Dit was sommer net ’n lekker troue en almal het hulleself geniet. Dit was glad nie styf nie. Die plaas en natuur het definitief bygedra tot ’n rustiger atmosfeer.

VERTEL ONS MEER VAN DIE TROUDAG, HET DAAR IETS AGTER DIE SKERMS OF SPESIAALS OP DIE DAG GEBEUR?
Ons dag was die perfekte sprokiestroue, gevul met goeie emosies en kalmte. My strooimeisies het die, oggend toe ons wakker word, vir my gesê ek moet sorg dat ek half-drie die middag klaar is, want daar is iets wat ek moet gaan doen. Die middag ry ons toe ’n entjie vir die “iets wat ek moet gaan doen.” Daar staan toe, die grootste verrassing, ’n helikopter, wat my man gereël het om my na die kerk toe te vlieg. Net nadat ek geland het, het een van die strooijonkers my laat weet, ons moet eers wag, die dominee het nie opgedaag nie. Hy het verdwaal. ’n Uur en 15 minute later het hy opgedaag en ons kon ons sprokiestroue plaasvind!

WATTER RAAD HET JY AAN TOEKOMSTIGE BRUIDE WAT HULLE SPROKIESTROUE BEPLAN?
* Geniet elke oomblik daarvan om jou troue te reël. Dit voel soos ’n ewigheid en almal se slegte kante kom uit, maar dis iets om te onthou na die tyd.
* Jy kan almal se opinies en raad kry, maar dit moenie oor iemand anders gaan as oor jou nie.
* As daar goed is wat skeef loop, vat dit soos dit kom.
* Jy kan ’n groot of ’n klein begroting vir jou troue hê en dit ewe mooi laat lyk as jy slim te werk gaan.
* Daar is baie Facebook-groepe, wat aan bruide raad en idees verskaf, asook vrae beantwoord.

Die twee plaasliefhebbers, kon op geen ander manier hulle sprokiestroue vier as met die rustigheid van die natuur nie. Alhoewel daar ’n paar verrassings vir Berdéne gewag het, het sy met ’n rustigheid wat net die natuur kan verskaf ewige trou aan Rumano beloof.

Die sanggroep, Elvis se Seun, het spesiaal ’n liedjie vir die paartjie se groot dag geskryf. Gaan luister dit hier. Dit was om dankie te sê dat die paartjie ’n rukkie terug deel was van die musiekvideo van hulle treffer, Ek Mis Jou en omdat hulle goeie vriende is.

Daar was ook ’n fotohokkie en die gaste het hulle gate uit geniet. Gaan kyk hier na die album. Die doelgemaakte props is deur The Peachy Peony gemaak.

 

DIENSVERSKAFFERS:
Venue: Sekopo Private Game Reserve
Kos, dekor en blomme: Function Hyper
Drankies: Craftwagen
Ruikers: Ilana Welmans – Proviand Wedding Accessories
Spyskaarte en naamkaartjies: Creque Designs
Troutoebehore: Lazer Classic
Lanterns: Heartwood CNC Creations
Fotograaf: RDK Photography
Videograaf: Heinz Boesenberg
Musiek: Magic Bean Records
Vermaak: Elvis se Seun
Fotohokkie: Snap-Ease Boothtography
Trourok: Timeless Bridal Couture
Bruidegom se uitrusting: Suit Connexion
Hare en grimering: Yoané Makeup & Hair
Vervoer: Westdune’s Aviation
Bykomstighede vir strooijonkers en strooimeisies: The Wedding Store
Juwele: Shani D Jewellery
Strooimeisierokke: Smoorverlief Bridal
Strooijonkers se vellies: Wanderlust/liefde wen

Written by Troukoors