Nuwejaarstroue kan pret wees


’n Nuwejaarstroue is simbolies van ’n nuwe begin, in ’n nuwe jaar. An-Sophie Lourens deel idees vir as jy dit oorweeg om volgende Nuwe Jaar die knoop deur te haak.

Daar het ’n klomp paartjies oor die Nuwe Jaar verloof geraak en dit is ’n baie opwindende tyd van die jaar… en ’n nuwejaarstroue kan beslis ook baie prettig wees.

Sjampanje wat borrelend oorloop, lewendige musiek en ʼn vreugdevolle atmosfeer. Dit klink mos na die perfekte nuwejaarsaand. Dit kan ook klink na die perfekte bruilofsfees. Met nuwejaarsaand om die draai, wat van ʼn nuwejaarstroue?

Dit mag dalk net die meeste gaste se lekkerste nuwejaarsaand nóg wees en beslis een wat hulle vir altyd sal onthou. Hier is ʼn paar wenke en idees oor hoe om die beste nuwejaarstroue te hê.
• Die dekor hoef beslis nie ʼn kopkrapper te wees nie. Dit kan net so prettig en mooi wees soos ʼn nuwejaarspartytjie. Maak dit feestelik, tog nog stylvol en elegant. Hou die kos ook smaaklik en feestelik, dit is mos almal se laaste lekker eet voor die “groot dieet” weer in die nuwe jaar gaan begin.
• Konfetti en sjampanje is ʼn moet. Dit kan sommer ʼn paar keer in een aand gepop en gegooi word.
• Vuurwerke (as dit in ’n afgeleë en goedgekeurde plek geskiet word) is pragtig om te aanskou op enige geleentheid, maar op nuwejaar is dit ekstra mooi en spesiaal. Dit kan nog mooier wees as dit op jou nuwejaarstroue is. Foto’s met vuurwerke in die agtergrond gaan verseker ook sorg vir die mooiste, onvergeetlikste herinneringe vasgevang op kamera.
• Dit is ʼn baie spesiale datum. Jy en jou toekomstige man kan die beste huwelikherdenkings geniet, waar julle nie net ʼn nuwe jaar en nuwe vooruitsigte geniet nie, maar ook dankbaar kan wees vir nog ʼn geseënde jaar as getroudes en uitsien na nog een wat voorlê.
• Al die gaste gaan lus wees vir ʼn makietie. Dit is dan nou mos ʼn tyd van feesvieringe en almal hou van samesyn. Die meeste mens het nog verlof vir ʼn paar dae of kan hulle vakansie so reël dat hulle die nuwejaarstroue as ʼn lekker wegbreek sien.
• Swart, goud en silver is feestelike kleure. ʼn Mens kan baie lekker daarmee speel en ʼn mens kry baie dekor in daardie kleure.
• Jy kan jou uitnodigings of die spaar-die-datum-kaartjie, sommer ʼn lusmakertjie maak vir die nuwejaarstroue. Dit kan byvoorbeeld ʼn klein botteltjie sjampanje wees met die besonderhede op.
• Jy kan ook oulike nuwejaarsêgoed op bordjies sit om humor in die aand in te bring. Hierdie items kan selfgemaak en baie oorsproonlik wees, byvoorbeeld, ʼn horlosie op elke tafel wat die ure aftel tot middernag wat sê: “Ek wag my lewe lank al vir die dag.” Die tafelnommers kan ook ʼn kaartjie wees wat aan die gaste ʼn nuwejaarsvoorneme voorstel. Selfs ʼn boksie waarin gaste nuwejaarsvoornemens en ʼn mooi gelukwensing kan plaas, sal versker sorg vir sommer baie pret.
• Jou strooimeisies het ʼn rede om behoorlik te blink op jou troudag. Hulle kan mooi blink rokke dra om in die kleurskema in te pas. In plaas van ruikers, kan hulle dalk ballonne van verskillende syfers dra, byvoorbeeld, ʼn twee-, nul-, een en agt syfer ballon, wat die nuwe jaar aanwys.
• Elke gas kan ʼn groot Sparkler kry waarop staan “Laat die liefde gloei,” asook die troudatum. Dit kan asemrowende foto’s maak. Kies dalk ʼn spesiale oomblik waarop almal hulle Sparklers kan aansteek en laat die liefde behoorlik gloei!
• Almal hou van foto’s neem tydens Kersfees of Nuwe Jaar, maak dalk ʼn fotohoekie en laat die gaste daar hulleself gate uit geniet. Dan kan hulle vir altyd die herinneringe koester en ter selfde tyd sommer baie pret hê.

Nuwejaarsaand, sterre wat blink en liggies wat helder skyn. Vuurwerke, sjampanje en geselligheid in die lug. Jy en jou man en die begin van julle nuwe lewensreis aan die begin van ʼn skoon bladsy nuwejaar. Wat is dan mooier, meer spesiaal as julle nuwejaarstroue!

Kyk hierdie paartjie se prettige oujaarsdans. Kliek hier om die video te sien.

Foto: Easy Weddings

AS JY OPSOEK IS NA DIE PERFEKTE SPYSENIERING VIR JOU NUWEJAARSTROUE KLIEK OP DIE ADVERTENSIE HIER ONDER!

Written by Troukoors