Troukoerantjie 101


’n Troukoerantjie is deesdae ’n gewilde tendens by troues. Miskien dink jy dit is ’n mors van tyd en geld of weet jy vir ’n feit dit is iets wat jy vir jou troue wil hê.

As jy miskien nog aan die onseker kant is, is hierdie artikel net vir jou. Ons het by Elaine Botha van I Do Creative Concepts gaan raad vra oor hoe die idee van ’n troukoerantjie werk. Dit is boonop haar gunsteling afdeling van troutoebehore!

WAT IS ’N TROUKOERANTJIE EN WATTER INHOUD KAN ’N MENS BINNE-IN VERWAG?
“’n Troukoerantjie is ’n prettige manier om baie details of inligting en vermaak in te bring vir jou gaste op die groot dag en kan natuurlik ook gebruik word vir ’n uitnodiging. Die inhoud sal afhang van die doel van die koerantjie. As dit op die dag gebruik word, sal dit inhoud insluit soos die spyskaart, verloop van die dag, wie is wie, persoonlike stories van die bruidspaar, die tafelplasings, speletjies, grappies, ens. As ’n uitnodiging sal dit die bruisdpaar se liefdesverhaal insluit, asook informasie oor die groot dag, waar mense kan oorslaap, hoe hulle daar kom en wat hulle kan verwag op die dag.”

HOE BESLUIT ’N MENS OP DIE ONTWERP EN DIE DRUK VAN SO ’N TROUKOERANTJIE?
“Ons ontwerp ’n troukoerantjie volgens die versoek wat ons kry vanaf ons kliënte. Ons kan die koerantjies skoon en klassiek hou in terme van ontwerp en sal dit dan druk op ’n skoon wit papier of ons sal gaan vir ’n antieke, rustieke gevoel en die koerantjies op koerantpapier druk.”

SOOS JY WEET KOS TROUES BAIE GELD, WAAROM SAL JY SÊ IS DIT DIE MOEITE WERD VIR ’N BRUIDSPAAR OM NOG GELD TE SPANDEER OP ’N TROUKOERANTJIE?
“’n Troukoerantjie is ’n baie ekonomiese opsie vir bruidspare, omdat ons al die inligting van die dag daarin kan sit. Die enigste items wat saam met die koerantjies gepaard sal gaan, is die tafelnommers. Dit gee ook jou gaste iets om te doen terwyl hulle in die kerk wag of terwyl die foto’s geneem word. Almal weet hoe die dag gaan verloop, wat hulle wil eet, waar hulle sit en dalk leer hulle iets nuuts van die bruidspaar wat hulle nooit geweet het nie. So dit is dalk ’n ekstra uitgawe, maar dit kan jou help om geld te spaar op ’n tafelplasingslys, die program en die spyskaart.”

WATTER TIPE ONTWERP VAN DIE TROUKOERANTE IS OP DIE OOMBLIK IN DIE MODE?
“In terme van die troukoerantjie, is dit maar nogsteeds bietjie meer antiek en rustiek, maar ons beweeg meer na klassieke en elegante ontwerpe. Blomme, waterkleure en geometriese ontwerpe is baie gewild, asook baie minimalisties en skoon ontwerpe.”

Inhoud-idees vir ’n troukoerantjie:
* Name van die bruidspaar, die dominee, ouers van die bruidspaar, strooimeisies en strooijonkers.
* Algemene inligting van die dag: Program, spyskaart, tafelplasings.
* Julle liefdesverhaal
* Julle geloftes.
* Iets interessant van julle kinderjare (foto’s, sê-goed, prentjies wat geteken is.)
* Verpersoonlike blokkiesraaisels, grappies en spotprente wat interessante feite van die bruidspaar verklap. Iets wat ook as vermaak gebruik kan word in die kerk en in die onthaal.

Hopelik kan Elaine se raad jou help om te besluit of jy ’n troukoerantjie wil hê vir jou troue. Alhoewel dit dalk ’n paar ekstra rand en moeite gaan kos, is daar soveel voordele om in gedagte te hou. Dit is ’n plaasvervanger vir baie ander elemente wat jy by jou troue wil hê.

Foto: Pinterest

Artikel: An-Sophie Lourens

KLIEK ONDER AS JY MEER VAN HULLE WERK WIL SIEN!

Written by Troukoors