Somertroue in Suid-Afrika


ʼn Somertroue in sonnige Suid-Afrika is baie spesiaal, alles te danke aan ons beeldskone natuurskoon en lekker weer. Soms kan die warm weer ʼn mens se trouplanne ʼn bietjie pootjie. An-Sophie Lourens gee raad.

Somertroues is ’n gewilde tendens in ons land. Hierdie artikel sal handig te pas kom as jy beplan om in die volgende drie maande te trou of dalk iewers in die toekoms ’n somertroue beplan. Ons gee idees en wenke oor hoe om die hitte aan te pak sodat jy nie jou vingers verbrand nie.

• Kry lekker koel somershempies of rokkies vir jou en jou strooimeisies om in reg te maak vir die groot dag. ʼn Mens kry die mooiste blomme- of patroonsomerskledingstukke wat jou en jou strooimeisies moeiteloos, beeldskoon sal laat lyk in aanloop tot jul somertroue.
• Speel met jou haarstyl. Jy kan byvoorbeeld ʼn mooi los haarstyl hê vir die seremonie en foto’s en daarna dit opvat vir die onthaal en die res van die aand. Dit kan koeler wees, veral as jy daarvan hou om te dans en as die onthaalsaal nie so baie ventilasie verskaf nie.
• Maak seker dat jy waaiers of lugverkoeling het in die kamers waarin julle regmaak. Jy wil nie hê jy moet papnat gesweet by die kansel afloop nie. Selfs papierwaaiertjies of sambrele kan ʼn mens lekker afkoel of beskerm en sommer as ʼn oulike bykomstigheid dien vir jou somertroue se foto’s.
• Gaste gaan verseker ʼn yskoue lemonade of bier baie meer geniet as in die winter. Gebruik eenvoudige, lekker somerselemente op jou spyskaart, soos vrugte, slaaie en roomys. Jy kan baie van jou verversings self maak vir jou somertroue. Hou die etes en drankies lig, koel en verfrissend.
• Maak seker daar word vir jou gaste gesorg ten opsigte van skadu of skuiling. Indien jy vooraf weet dat hulle in die son gaan sit of in die son in vaskyk tydens die seremonie, raai hulle aan om hoede of sonbrille saam te bring. Jy wil immers hê dat hulle dié somertroue ook moet geniet.
• Blomme is baie goedkoper en maklik verkrygbaar in die somer. Gebruik dit om meer koste-effektiewe dekor te skep. Gebruik die mooi kleure en geure wat somer vir ons bied.
• ʼn Mens het definitief meer spasie om mee te werk in die somer. Gebruik dit om van die verwelkomingsaktiwiteite buite te doen en selfs om tydens die onthaal ʼn buite-kuierarea te skep met bankies of sitplek. Dit is altyd lekker om ʼn bietjie vars lug te skep veral na jy op ʼn paar liedjies gedans het. ʼn Buitelug somertroue gaan gaste beslis aan die gesels hê. Hang mooi liggies in die bome en maak jou eie dansvloer. Sorg net dat daar nie enige reën voorspel word nie.
• Jy kan dieselfde bostuk van jou trourok afwissel met ʼn lang en kort romp. Jy kan vir die seremonie en foto’s ʼn mooi lang formele romp dra en vir die onthaal ʼn korter romp dra. Dit kan baie verligting bring na ʼn lang warm dag en dalk net vir jou ʼn tweede asem gee.
• Nog ʼn lekkerte, jou wittebrood mag dalk net op ʼn idilliese eiland wees. Jy kan mooi goudbruin brand en lang eksotiese skemerkelkies geniet saam die man van jou drome.

Met hierdie idees en wenke kan jy jou somertroue sommer ekstra spesiaal maak. Wees kreatief en gebruik die hitte, asook die skoonheid van somer tot jou voordeel. Speel die dag en die weer in jou kop af en maak so ʼn besluit of iets gaan werk of nie, of waarvoor jy voorsiening gaan moet maak. In Suid-Afrika se somerson sal julle liefde seevier.

Foto: Pinterest

KLIEK ONDER VIR DIE PERFEKTE VENUE VIR JOU SOMERTROUE

Written by Troukoors