Macramé – dekoridees vir die boheemse bruid


Macramé is ’n splinternuwe trougier, wat oral kopuitsteek. Minette Badenhorst het meer gaan uitvind oor hoe hierdie knooptegniek jou spesiale dag kan saambind.

Macramé is die kuns van kreatiewe knoopvorming en ons is verlief op hierdie nuwe tendens. Dit kan op soveel verskeie maniere as dekor by ʼn troue gebruik word. Daar is verskillende knooppatrone wat gevleg kan word om variasie in voorkoms te gee. Dit is die perfekte dekoritems vir die boheemse bruid.

Die seremonie-area kan maklik versier word met Macramé. Dit kan van ʼn trouboog of raam afhang om ʼn pragtige agtergrond te skep. Kombineer dit met groenigheid en blomme om dit nog meer asemrowend te maak.

Hier is nog ʼn paar ander maniere hoe Macramé as stylvolle dekoritems gebruik kan word:
• Gebruik dit as tafelloper en skep so ʼn pragtige boheemse gevoel;
• Dit lyk selfs pragtig by die drankietafel, waar dit voor by die tafel gehang word;
• Hang dit as agtergronddekor by die nageregtafel;
• Draai ʼn klein weergawe van dit om die steel van die ruiker;
• Hang dit aan die agterkant van die bruid en bruidegom se stoele, vir daardie ietsie ekstra;
• Maak klein individuele macramé-hangsels wat elke gas as dankiegeskenkie kan neem. Dit kan dan op elke gas se plek gedek word, en dra so by tot jou boheemse tafeldekor.

Macramé is ʼn pragtige boheemse dekortendens wat ook elegant en stylvol lyk. Dit kan op soveel mooi maniere ingebring word by jou troudekor om alles mooi saam te bind, en boonop maak dit vir pragtige foto’s.

Macramé – The Craft of Creative Knotting, is ʼn boek deur Sweedse ontwerper Fanny Zedenius wat vir jou wys hoe jy dit self kan maak. Dit is verseker iets om te probeer vir al daardie kreatiewe bruide. Die boek is beskikbaar op takealot.com

Maak Macramé deel van jou spesiale dag en slaan jou gaste se asems behoorlik weg.

Hooffoto: Contentful

KLIEK ONDER VIR NOG INTERESSANTE TROU-ITEMS

Written by Troukoors