Kroegies by troues


Kroegies of kosstalletjies by jou troue, kan dit ’n heeltemal ander gevoel gee. An-Sophie Lourens het gaan ondersoek instel oor wat beskikbaar is.

Kroegies by troues is deesdae ʼn groot in-ding. Dit is nie net die tipe kroeg wat Suid-Afrikaanse omies se aandag baie maklik trek nie. Dit is eintlik net kos- of verversingstasies, wat soms ietsie sterkers sal bedien.

Dit is heeltemal verstaanbaar hoekom dit so ʼn groot tendens geword het, want dit is kreatief, prakties en natuurlik baie vermaaklik! Jy kan enige versversing wat jou hart begeer bedien by een van hierdie kroegies. Dit kan deel vorm van jou verwelkomingsdrankies, ʼn kositem tydens die onthaal bedien of by die nagereg. Hier is ʼn paar idees vir kroegies by jou troue.

• ʼn Mimosa-kroegie: Eerstens wonder jy dalk watse volksvreemde dis sal daar bedien word? Dit is eintlik net ʼn mooi naam vir ʼn sjampanje- en vrugtesapdrankie. Dit kan baie verfrissend wees op ʼn warm somersdag. Jy kan verskillende soorte vrugtesap meng met sjampanje soos lemoensap, litchi of appelsap. Dit kan ook in mooi glasbotteltjies bedien word met oulike etikette.
• ʼn Sangria-stasie: Sangria is ʼn Spaanse drankie van rooiwyn, lemonade, vrugte en speserye. Dit kan soortgelyk as die Mimosa-kroeg bedien word in mooi glasbotteltjies of selfs in groot glas konfytbotteltjies met mooi strooitjies. Soek dalk vir resepte wat nie-alkoholies is nie, sou daar mense wees wat nie alkohol drink nie of die aand rustig wil begin.
• ʼn Kaaskroegie: Daar is darem maar niks so lekker soos ’n krakerige beskuitjie met ‘n romerige kaas en ʼn stroopsoet vy nie. Hierdie stasie kan by die onthaal of by die nagereg uitgestal word. Jy kan verskillende kase, brode, smere, souse en vrugte uitpak en die gaste kan kies en keur. Maak naamplaatjies vir verskillende kaassoorte en skep so een van daai kroegies wat gaste altyd sal onthou.
• ’n Pannekoekstalletjie: Sou dit honde en katte reën op jou troudag gaan so ʼn stalletjie sommer baie aftrek kry. ʼn Pannekoek met roomys en sjokoladesous is egter ook lekker in enige weer. Jy kan kies of jy saam die verwelkomingsdrankies sout of soet pannekoeke wil bedien of dan vir voorgereg terwyl almal nogsteeds rondstaan en kuier. Vir nagereg kan jy verskillende soet vulsels uitpak en die gaste kan hulle eie pannekoek bou, byvoorbeeld die tradisionele kaneelsuiker, roomys en stroop, nutella of sjokolade.
• Sʼmores kroegie: Dit klink dalk soos ʼn tipe drankie wat jou ʼn kopseer kan gee, maar dit is eintlik net ʼn gesmelte malvalekkers tussen twee koekies. Pak verskillende koekies, malvalekkers, sjokolades, neute en nutella op ’n tafel uit. Sit vurke of stokkies in ʼn bak en maak ʼn groot kaggel of vuur. Elke gas braai dan ʼn malvalekker druk dit plat tussen twee koekies met ʼn sjokolade en jou mond en jou hart sal smelt van lekkerte. Dit kan sorg vir ʼn treffernagereg en dit is een van die mees ekonomiese kroegies om te oorweeg.
• ʼn Roomyskroegie: Hierdie kroegies sal jou terugneem na jou kinderdae, die Milky Lane-glas met lae roomys, sjokoladesous, neute, en weer roomys. Glasbakke vol smarties, sjokolade, neute, kersies en koekies, gaan nie net pragtig lyk nie, maar saam met ʼn paar balletjies roomys is jy weer kind met jou Milky Lane Sundae.
• ʼn Koffiekroegie: Wat ruik lekkerder as die aroma van vars gemaalde koffie. Selfs al pak jy net ʼn paar cappucino-sakkies uit met verskillende geure, warmsjokolade, verskillende tee en sommer net ʼn vars pot koffie. Sit ʼn paar koekies uit en sien hoe gesellig almal staan en kuier rondom een van hierdie kroegies.

Daar is werklik nog soveel meer idees om te gebruik vir kroegies by jou troue. Jy kan een huur of sommer net self een aanmekaar slaan. Dit kan selfhelp of met diens wees. Dit is prakties, gesellig en afhangende van jou item, baie ekonomies.

Foto: Josh Elliott Studios

KLIEK ONDER AS ʼN KOEK- OF LEKKERGOEDKROEGIE IN JOU BEPLANNING IS

Written by Troukoors