Troulokaal 101 – Wat jy moet bevestig


Jou troulokaal is die hartklop van jou funksie. Yolanda Wessels verklap wat jy die aand voor die troue moet bevestig om seker te maak dat alles perfek is.

Die aand voor die troue is gewoonlik ’n gewoel en gewerskaf by die troulokaal, maar met ’n paar slim wenke kan jy dié spanning vryspring. Ek het gaan kers opsteek by Black Oystercatcher Wynkelder, Restaurant en Troulokaal se Salmon Becker.

1. Die aand voor die troue behoort jou tafels reeds uiteengesit te wees. Vra jouself die volgende vrae: Is die vloerplan gemaklik? Is daar genoeg spasie vir die gaste om vrylik rond te beweeg? Sal jou gaste gemaklik sit?
2. Heel moontlik is dit die laaste keer dat julle in die troulokaal is voor die onthaal. Let op na die beligting en reel indien jul enige veranderinge wil maak. Luister na die gehalte van die musiek (as julle ’n DJ gaan gebruik) en maak seker die musiek is nie te hard of te sag nie.
3. Kommunikasie met die koördineerder by die troulokaal is van uiterse belang. Indien die troue grootliks buite plaasvind, vra oor opsies indien die weer versleg en waarheen dit verskuif kan word. Die koördineerder sal heel waarskynlik uitstekende voorstelle kan maak oor hoe om sulke situasies aan te spreek en te verbeter.
4. Hou in gedagte dat daar ’n groot gedeelte van die dekor en blomme eers die oggend van die troue opgestel en afgehandel gaan word, sowel as kleiner details wat nog bygevoeg kan word. Dit is juis die lekkerste verrassing vir jou en jou gaste om die finale produk te sien by die troue self.
5. Maak seker om die aand voor die troue so ’n bietjie tyd saam met die koördineerder by die troulokaal deur te bring (verkieslik saam met die seremoniemeester). Onthou om die tydlyn van verrigtinge te bespreek. Stel gaste aan (familie, strooimeisies en die strooijonkers) om te kommunikeer met die koördineerder gedurende die troue indien daar enige vrae sou opduik. Maak ook seker dat die koördineerder bewus is van enige spesiale versoeke of inligting, soos byvoorbeeld persone wat eerste bedien moet word met kos en reëlings rakende die kroeg.

Gebruik die aand voor jou troue om die finale inligting deur te gee, sodat jy die groot dag sonder spanning met jou geliefdes, familie en vriende kan deurbring in die perfekte troulokaal.

Vir meer inligting oor Black Oystercatcher Troulokaal, besoek hulle webblad.

Foto: Kikitogrpahy
Blomme en dekor: Annahes Event Decorators

ELKE TROUE KORT OOK MOOI SKRYFBEHOEFTES, KLIEK HIER VIR MEER INFO

Written by Troukoors