Videograaf of spaar?


’n Videograaf kan ’n duur uitgawe wees, maar die herinneringe wat hy vasvang is onvervangbaar. An-Sophie Lourens verklap of dit ’n luukse of noodsaaklikheid is.

Een van die meeste vrae waarmee verloofde paartjies worstel, is of hulle ʼn videograaf op hulle troue moet hê. Dit klink mos nou baie spesiaal en aanloklik, maar sjoe laat dit nie die begroting die hoogte in skiet nie!

Theodore van Mense met Gesigte Productions spesialiseer in trouvideos en ons het by hom gaan aanklop om te hoor wat maak die ekstra koste van ʼn videograaf die moeite werd.

Wat sê Theodore:
“Verskeie mense wonder of dit regtig die moeite werd is om daardie ekstra geld uit te haal vir ʼn videograaf, die kort antwoord is, sonder twyfel! Ek is self al getroud en kan met alle eerlikheid sê ek speel meer gereeld ons lokprent terug as wat ek deur ons album blaai. ʼn Video neem jou terug na jou spesiale dag, met elke beeld wat verbyflits onthou jy daardie kosbare oomblik en kry sommer hoendervleis en trane in jou oë van voor af.

Ons het al met verskeie mense gesels wat na die troue sal sê hulle is spyt dat hulle nie ʼn videograaf bespreek het nie. Foto’s is ʼn pragtige herinnering, maar ʼn video leef jou weer in die oomblik in.”

Met so ʼn motivering is dit moeilike om dit nie te wil oorweeg nie. Theodore stel voor dat as jy wel besluit om ʼn videograaf te gebruik, jy die volgende aspekte in gedagte moet hou.

• Finale produk: Maak seker wat jou finale produk is. Alhoewel die videograaf heeldag by jou troue is, beteken dit nie noodwendig alles word afgeneem nie. Indien jy slegs ʼn lokprent bespreek het, is dit nie moontlik om na die tyd die volle diens en toesprake te ontvang nie.
• Musiek: Daar is verskeie wette rondom die musiek wat gebruik mag word vir die redigering van jou video. Dit sal meestal nie moontlik wees om jou video op jou gunstelingliedjie te kry nie. Indien jou video op musiek geredigeer word sonder ʼn lisensie, kan dit van die internet af verwyder word met boetes.
• Styl: Elke videograaf het ʼn sekere styl. Gaan kyk verskeie videos van die videograaf en maak seker jy hou van sy styl en musiek smaak.
• Prys: Maak seker jy kies ʼn videograaf met ʼn prys waarmee jy gemaklik is. Te goedkoop – die finale produk sal wys dat dit te goedkoop was. Te duur – jy mag moontlik nie gelukkig wees met jou video nie aangesien jy voel jy het te veel geld vir dit betaal. Soek vir ʼn kombinasie afslag indien jy ʼn fotograaf en videograaf by dieselfde verskaffer bespreek.
• Storie: Alhoewel dit indrukwekkend is om net kunstige skote in jou video te hê vir drie tot vier minute, is dit nie wat mens oor ʼn paar jaar wil hê nie. Die doel van ʼn lokprent is om in ʼn kort tydperk soveel as moontlik elemente van jou troue deur te gee. ʼn Mens kort net ʼn vinnige flits van ʼn sekere gebeurtenis om weer al die herinneringe terug te bring.

Theordore se laaste raad aan verloofdes of toekomstige bruidspare is: ʼn Mens se troue gaan in ʼn oogwink verby, die dag self is uiters oorweldigend. ʼn Video help jou werklik om jou dag vir altyd te onthou. Probeer jou bes om ʼn videograaf by te voeg op jou spesiale dag, alhoewel dit nou soos ʼn groot uitgawe lyk, sal jy nie vir ʼn oomblik spyt wees nie!

Foto: Pinterest

KLIEK HIER VIR MEER INLIGTING

Written by Troukoors