Bosveldtroue 101 – wat elke bruid moet weet


’n Bosveldtroue is nie ongewoon vir Suid-Afrikaanse paartjies nie, maar kom soms met uitdagings. An-Sophie Lourens het raad.

Suid-Afrikaanse bruidspaartjies is geseënd met verskeie lieflike bosveldtrouplekke om van te kies. Wat is dan nou mooier as ʼn pasgetroude paartjie in die wilde natuur met ʼn Afrika sonsak in die agtergrond.

Dit is waar, dit is seker een van die mooiste prentjies van alle trou affêres. Tog kan die bosveld, soos enige bosveld uitstappie ʼn paar uitdagings inhou. As jy van plan is om ’n bosveldtroue te hou, is die artikel net die regte gids wat jy nodig het om die beste van die dag te maak en om enige hindernisse te voorkom.

ASPEKTE OM IN GEDAGTE TE HOU VIR JOU BOSVELDTROUE

• Die bosveld is meeste van die tyd ontsettend warm. Neem dit in ag in die kapel of die area waar die seremonie van julle bosveldtroue gehou gaan word. Dit kan ʼn baie mooi boodskap, vreeslik uitgerek laat voel as almal sit en sweet en nie kan wag vir daardie verfrissende verwelkomingsdrankie wat vir hulle wag nie. Hou dit in gedagte met die klere wat julle kies. Oorweeg dit dalk dat die bruidegom en sy span sonder dasse trou of dat almal hulle hempde oprol. Dink aan hoe jy jou en jou strooimeisies se hare kan doen om julle bietjie koeler te laat voel. Sorg dat julle grimering nie afloop al rol daar nou en dan ʼn druppel sweet iewers af.
• Met sulke ekstreme hitte, is ʼn laatmiddag donderstorm glad nie onmoontlik nie. Maak seker daar is genoeg skuilplek is vir as daar ʼn vinnige reënbui afstort. Dit kan ook baie vinnig koel word laat in die aand as daar ʼn briesie in die lug is. Groot bosveldvure is altyd gesellig en kan sommer ook warmte bied vir diegene wat koud kry.
• Miggies en muskiete is net so lief vir die bosveld. As julle op ʼn wildsrit gaan voor die seremonie of om foto’s te neem, hou Citronella-olie of muskietweerder byderhand. Nie jy of jou bruidegom wil met muskietbyte julle hele lewe lank op julle troufoto’s pronk nie. Miggies kan ook maklik onder die net van jou trourok opkruip en kom nie so maklik daar uit nie. Werk dus versigtig sou julle die bosse invaar vir foto’s.

Voor julle dalk afgeskrik word deur die bosveld en die onverwagse uitdagings wat dit mag inhou, hier is ʼn lys van dinge wat ʼn bosveldtroue meer as die moeite werd maak en dalk selfs iemand wat nie in die bosveld wou trou nie van plan laat verander.

• Die ongelooflike agtergrond en uitsigte wat dit skep.
• Die dierelewe en verskeidenheid voëls kan bydra tot die gevoel van julle bosveldtroue. Jy en jou gaste kan wilde diere sien oppad na die venue of selfs by die venue. Julle kan selfs ʼn vinnige wildsrit geniet as julle rondry vir julle foto’s.
• Laatnag geluide en die gelag van vriende wat elke bosveldkuier vergesel.
• Die rustige en gesellige atmosfeer van ʼn wegbreek uit die stad.
• Julle spyseniering en dekor kan eenvoudig wees, soos wat dit op die plaas hoort. Tog sal die egtheid van die natuur elegansie skep.
• Dis moeiteloos, onvoorspelbaar en sorg vir onvergeetlike herinneringe,

Al is die bosveld ontsettend warm, laat die Afrika-son warm op jou vel bak. As dit rëen, ruik die vars reuk wat uit die grond kom. Neem baie foto’s in die lang gras met die sonsak in die agtergrond. Kuier tot laataand saam vriende en familie om die vuur. Waardeer die naggeluide en die vuurvliegies. Vier julle liefde en toekoms in die beeldskone Suid-Afrikaanse bosveld en geniet julle bosveldtroue.

Foto: Vogue

Written by Troukoors