Haarstyl wat jou trourok sal komplementeer


Die rok, skoene en juwele is in plek, maar jy weet glad nie watter haarstyl die beste by jou droomrok gaan pas nie. Liza de Jager van Bella Vestito gee raad om hierdie takie makliker te maak.

Om die perfekte haarstyl vir jou troudag te kies, kan nogal ’n uitdaging wees. Daar is baie dinge om in ag te neem. Die vorm van jou gesig, jou rok se snit, asook die tipe troue wat jy het. Dit altyd ’n goeie idee om jou haarkapper te raadpleeg om te hoor watter styl jou gesigsvorm sal komplementeer. Maar as jy ’n haarstyl wil pas wat by die snit van jou rok sal pas, kan jy hierdie handige wenke volg.

Die Bootnek-snit
Hierdie snit kom net oor die sleutelbeen. ’n Gesofistikeerde, skoon upstyle haarstyl soos ’n Franse rol sal goed by hierdie styl rok werk.

Die illusie neklyn
Hierdie neklyn is baie gewild op die oomblik. Dit skep ’n tweede neklyn, met deursigtige tulle of kant, wat tot by die sleutelbeen kom. Hierdie snit is meer speels en onthullend as die bootnek-snit en sal goed werk saam met ’n losser haarstyl, vlegsels en ’n half-op-half-af-styl.

V-neksnit
’n Upstyle lyk altyd baie goed saam met hierdie tipe snit. Al is die hare net opgevat tot in die nek.

Halternek-snit
’n Eenvoudige, skoon upstyle sal perfek werk saam met hierdie roksnit, tensy jy ’n baie lang nek het.

Moulose snit
Hierdie snit is baie veelsydig wanneer dit by haarstyl kom, omdat enige styl dit sal komplementeer. Hier kan jy die styl kies wat die beste by jou pas. ’n Half-op-half-af-styl of ’n haarstyl wat na die een kant toe neig sal baie mooi lyk hierby.

Assemetriese styl
Dit is die beste om die fokuspunt van jou haarstyl aan die teenoorgestelde kant te maak as die kant van die rok waar daar ’n mou of fokuspunt is. Dit help om visuele balans te skep.

Onthou dat hierdie slegs riglyne is en dat daar baie ander faktore is wat ’n rol kan speel wanneer jy die perfekte haarstyl vir jou mooiste dag moet kies.

Foto: Senivpetro – Freepik.com

Written by Troukoors