Troutoebehore wat jy weer kan gebruik


Troutoebehore kan ’n fortuin kos, maar as jy slim is kan jy dit weer gebruik. An-Sophie Lourens vertel jou meer hieroor.

Die meeste troutoebehore kan jou nogal ʼn arm en ʼn been kos. Deesdae dink ʼn mens twee keer voor jy sommer net enigiets mooi op jou troudag wil hê, maar wat as jy dit weer kan gebruik?

Jy hoef nie duisende rande te spandeer vir net een aand nie! Sekere uitgawes gaan net vir een aand hou soos jou grimering, hare en natuurlik die kos en drankies. Wees dus slim met ander uitgawes, veral die troutoebehore. As jy duur items vir jou troue aankoop, dink mooi hoe jy dit nog na die dag kan gebruik.

HIER IS MANIERE HOE JY ALLERLEI TROUTOEHORE WEER KAN GEBRUIK:

Dekor…
• As jy ekstra dekor vir jou troue wil koop, dink hoe jy dit weer in jou huis kan gebruik. Daar is deesdae die mooiste koekstaanders. Dit is troutoebehore waarin iemand wat hou van onthaal definitief kan belê. Jy kan dit gebruik vir koek en tee by jou huis of selfs platter borde as jy peuselhappies uitpak.
• Lanterns wat op die tafels staan of ’n paadjie aanwys is die mooiste troutoebehore. Hierdie is fantastiese dekor in enige huis en kom dikwels baie handig. Dit lyk vreeslik mooi op ’n tuintafel en jy kan dit selfs in bome by jou huis hang.
• Houtskoolborde. Dis eerstens baie maklik om te maak, maar as jy moeite wil spaar koop ’n paar. Jy kan op jou troudag versies daarop skryf of die program en aanwysings. Na die troue sit jy een op jou yskas vir ’n inkopielys of notas of hang dit op as ’n welkombordjie by jou deur.
• Glashouers kan vir baie mooi troutoebehore sorg op ’n troue. Daar kan kerse in staan sommer net op ’n tafel rangskik word of lekkers ingegooi word. Dalk voel dit vir jou onnodig om ’n paar te koop, maar daar is soveel wat jy na die tyd daarmee kan doen. Jy kan beskuit in pak, blomme daarin rangskik, weer kerse daarin sit of jou sleutels daarin bêre. Jy kan dit selfs weggee met wat ookal daarin was vir mense wat jou gehelp het met die troue in plaas van ander geskenke.

Blomme…
• Ons hoor elke dag hoe duur is die blomme. Kyk dalk waar jy nie so baie blomme nodig het nie of net een enkelblom wil hê, byvoorbeeld ʼn voorportaal of in die kerk. Hierdie is die perfekte geleentheid vir ʼn paar valse blomme. Koop mooi blompotte en maak dit selfs op met ʼn paar vars blomme en plante tussen die valses. Dit is ook duur, maar dit gaan jou virewig hou en is altyd mooi dekor in ʼn huis. Vir ʼn paar van die mooi nagemaakte proteas kan jy maar so bietjie ekstra betaal, want jy gaan hierdie troutoebehore kan sien vir die res van jou lewe.

Klere en bykomstighede…
• Koop skoene en juwele wat jy weer op spesiale geleenthede kan dra. Dit geld vir jou strooimeisies en strooijonkers ook. Dit help nie daar lê peperduur balletskoene in elkeen se kas en jy weet nie een van jou sussies hou van die beknoptheid daarvan nie. Koop ʼn soort belt, das of hakskoen wat julle weer sal kan dra!
• Strooimeisierokke kan oor en oor na verskillende geleenthede toe gedra word. Jou meisies gaan ook glad nie omgee om daarvoor te betaal as hulle weet hulle gaan dit meer as een keer kan dra nie. Dis ook gerieflik as dit moontlik is om die rok korter te maak of aan te pas na hulle smaak na jou groot dag. Niemand soek eintlik dieselfde geval as in 27 Dresses nie.

Al spandeer jy hier en daar geld op iets wat nie so noodsaaklik is vir jou troudag nie, maak dit dit beter om te weet dis nie net vir een aand nie en jy kan dit weer gebruik. So kan jy al die mooi troutoebehore op jou troue hê en sommer ook virewig in jou huis geniet!

KLIEK HIER VIR OULIKE DOELGEMAAKTE TROUTOEBEHORE

Written by Troukoors