Maak saambly na die troue makliker


Saambly na die troue is ’n groot aanpassing. Veral as beide van julle direk uit julle ouerhuise trek. Gina van Staden gee raad om dié aanpassing makliker te maak.

Sodra die pragtige troue en wittebrood verby is, is dit tyd vir realiteit om in te skop en natuurlik vir julle om as man en vrou saam te woon. Saambly kan nogal vreesaanjaend wees vir pasgetroudes. Maar julle sal oorleef, hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou om te keer dat julle hiermee sukkel.

MY PLEK OF JOUNE?
Indien julle reeds in jul eie plekke bly moet julle besluit of jy by hom, of hy by jou gaan intrek. Om in ʼn nuwe huis saam te begin nesskrop is die ander opsie. Hou faktore soos spasie (veral as julle gesin begin groei), werkafstande, veiligheid en finansiële kwessies in gedagte. Saambly is ook meer uitdagend aan die begin, veral as elkeen reeds hulle eie gewoontes het.

MANS EN VROUENS VERSKIL
Aanvaar dat daar ʼn hele paar uitdagings met saambly kom. Sommige vroue is baie netjies, terwyl hulle mans dink dat wasgoed langs die wasgoedmandjie hoort. Party vroue dink weer dat al hulle geld in een dag spandeer moet word, terwyl hulle mans daarop gefokus om te spaar. Hierdie verskille is soms moeilik, maar om ʼn middeweg te vind, is wat julle huwelik suksesvol gaan maak.

GELDSAKE
Nie een van julle gaan presies dieselfde hoeveelheid geld as die ander verdien nie. Deel julle finansiële verantwoordelikhede in en om die huis eerder persentasiegewys op. Dit sal nie regverdig wees om die uitgawes gelykop te verdeel indien een minder as die ander verdien nie. Dit gaan ongelyke laste veroorsaak. Saambly verg beplanning – doen dit van die begin af reg.

VERDELING VAN PLIGTE
Die einigste tyd wanneer ʼn huwelik 50/50 is, is wanneer dit kom by verantwoordelikhede en pligte in en om die huis. Die een se las behoort nie swaarder as die ander s’n te wees nie, want dit maak die deur oop vir baklei en bitterheid. Bespreek elkeen se pligte reeds voor die troue, sodat daar nie rusie ontstaan wanneer julle reeds saam ingetrek het nie.

Saambly is een van die opwindendste aspekte van die huwelik en as elkeen vooraf weet wat van hom of haar verwag word, maak dit die aanpassing soveel makliker.

Foto: Freepik

Written by Troukoors