Troue in die Kaap


’n Troue in die Kaap het perfek by Charl en Mia se liefdesverhaal ingepas. An-Sophie Lourens verklap meer oor hulle spesiale dag.

Charl en Mia Bester se Kaapse avontuur het hulle verlief, verloof en getroud gelaat. Hulle het ook, nes die Kaap in ʼn romantiese, tydlose styl hulle bruilofsfees gevier! Ons het gaan uitvind hoe die paartjie se Kaapse avonture tot ’n troue gelei het.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN VOOR DIE TROUE?
“Ek het die inskrywing van Charl gelees op ʼn Facebook-groep, Boer soek ʼn Vrou/Vrou soek ʼn Boer: “Hi, ek is ʼn 26-jarige man van die Kaap. Ek is ʼn boer in my hart, maar nie in my beroep nie. Ek is nuut in die Kaap en is graag op soek na goeie geselskap. Like of comment hieronder en ek kontak jou!” Ek het dit gelike en twee dae later het Charl my gekontak. Ons was dadelik smoorverlief!”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE VERLIEF RAAK OP MEKAAR?
Mia: “Sy geduld, hy is ongelooflik romanties en het die grootste hart. Ek weet hy sal berge vir my versit en hy hanteer my elke dag soos ʼn prinses.”
Charl: “Haar eerlikheid, goedhartigheid en geduld. Sy aanvaar my nes ek is en probeer my nie verander nie.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG VOOR DIE TROUE GEVRA?
“Op ons vier maande herdenking was hy weereens sy romantiese self en net so geheimsinnig. Hy het my Riebeeck Kasteel toe gevat en gesê ons slaap daar die aand. Na aandete het hy my opgestuur kamer toe en gesê hy gaan die bestuurder iets vra oor ontbyt. Net daarna het iemand aan ons deur geklop en gesê Charl wag vir my onder by die kroeg. By die kroeg was daar ʼn glasie sjampanje, ʼn roos en ʼn briefie met aanwysings. Ek begin toe al die aanwysings volg met kersies wat die pad verlig. Ek het ʼn paar keer by ʼn stop gekom waar ek ʼn briefie en ʼn geskenkie gekry het. By die laaste stop het Charl agter my gestaan. Hy het my ʼn drukkie gegee en gevra dat ek die kombers vir ons moet oopgooi sodat ons kan sit. Ek het gedraai om die kombers oop te maak, toe val daar sjokolades uit. Toe ek omdraai om sy hulp te vra, is Charl op sy knie agter my en vra my om sy vrou te wees.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Ons het eintlik alreeds ons venue en datum bespreek nog voor ons verloof was, so net na die verlowing het ons ʼn gastelys opgestel en ʼn geskatte begroting. Ek het elke trouskou bygewoon, want jy kry soveel idees en loop soms goeie winskopies raak.”

WAT WAS JULLE KLEURSKEMA, TEMA EN DEKOR?
“Ons kleurskema was vlootblou, marsala en ʼn bietjie goud. Ons het nie regtig ʼn tema vir troue gehad nie, as ek wel ʼn tema moet noem sou dit Tydloos en Romanties wees.”

WAT HET AGTER DIE SKERMS GEBEUR BY JULLE TROUE?
“Tydens die onthaal het ons ʼn fotohoekie gehuur. Ons hutsmerk vir die troue was #Bestertroufees en ons wou dit aan die onderkant van elke foto hê, met die datum. Gelukkig het van my strooimeisies die fotohoekie eerste beproef en besef dat die hutsmerk #BestertrAufees is. Gelukkig kon hulle dit vinnig regstel!”

WATTER RAAD HET JY VIR BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?
• Wees deel van ALLES.
• Hou by jou keuses.
• DIY so vêr as moontlik!
• Indien dit moontlik is, maak dit ʼn naweektroue!

WATTER ITEMS HET JULLE SELF GEMAAK?
• Ons spyskaarte, naamkaartjies en tafelname gedruk en gevou.
• Ons het Steri Stumpies gekoop as dankiegeskenke en kaartjies daaraan vasgebind.
• Ek het ʼn hartjie pons by Merripak gekoop en al die konfetti uit ou boeke gepons.
• My tannie het ons mooi paadjieloper vir die kerk geverf. Dit was ʼn groot taak en 10m lank!
• Ek het self ons troukoerantjie ontwerp en laat druk op ongedrukte koerantpapier. Dit was veel goedkoper as om dit te laat doen en sodoende het ek geweet dit is perfek en sonder spelfoute!
• Die tafellys.

Die Kaap het nie net goeie wyn bedien vir die twee nie. Hulle het liefde met die eerste oogopslag, ʼn verlowing waarvan baie meisies droom en ʼn onvergeetlike troue ervaar. Met goeie beplanning en harde werk, het hulle romantiese en tydlose dag die begin van nog vele avonture verseker.

Kyk die video van hulle troue hier!

DIENSVERSKAFFERS
Venue en drankies: Groenrivier Function Centre
Spyseniering: Malita Joubert Catering
Blomme en dekor: Kadou Floral Design
Skryfbehoeftes: The Pink Collection en Anna Nonsens
Troukoek: Sugar Studio
Fotograaf: Chenel Kruger Wedding Photographer
Videograaf: Barefeet Videography
Musiek: DJ Wico
Vermaak: Kirsten Adams
Trourok: Ilse Roux Bridal
Hare: Clarita Smit
Grimering: Clarita Smit
Bruidegom se uitrusting: Smart Men Suit Hire en Markhams
Vervoer: Graham van Heerden van Mercseum Durbanville

Written by Troukoors