Wintertroue in die stad


’n Wintertroue kan pragtig wees, veral met die stadsliggies in die agtergrond. An-Sophie Lourens het met Radisson Blu Hotel se Etienne O’Connell gesels oor hoe om die beste te maak van die koue seisoen.

Alhoewel ʼn wintertroue nie almal se eerste keuse is nie, is daar ʼn ekstra spesiale sjarme aan die woorde “I Do” as dit tydens die kouer maande beloof word. Die resultate kan asemrowend wees, veral as jou spesiale dag afspeel met ʼn stedelike Jozi-agtergrond.

Etienne O’Connell, hoof van funksies by die Radisson Blu Hotel in Sandton, sê dat alhoewel die platteland oor die jare die meeste bruide se voorkeurtroubestemming was, die stad van goud net so ’n groot aantrekkingskrag geword het, veral vir ’n wintertroue. Hy sê: “Johannesburg is ʼn smeltpot vol gemengde kulture. Dit bied ʼn lewendige, polsende en kosmopolitiese opset waar bruidspare hulle beloftes kan uitruil. Die stad bied ʼn betekenisvolle eenvoud, terwyl jy, jou gaste se asems wegslaan met die uitleg van argitektuur en gesofistikeerde afwerkings.”

So waar begin ʼn mens om jou wintertroue te beplan? Etienne deel wenke oor hoe om so ʼn soort winter troue te beplan:

DIE VENUE
“Besluit op ʼn begroting en die vereistes wat julle in ʼn venue wil hê. Venues wat spyseniering doen en verblyf kan bied is baie geriefliker en verminder stres. Baie venues is ook goedkoper in die winter. ʼn Lekker warm en snoesige binnehuise troulokaal met ʼn idilliese uitsig is ideaal vir ’n wintetroue. Kry ʼn venue wat gemak en mooi uitsigte vir julle en julle gaste sal bied.”

DIE BEPLANNING
“Daar is vele troukoördineerders in die stad beskikbaar met talle netwerke en wat ʼn passie het om jou droom troue te reel. Radisson Blu Hotel het ʼn Something Blue-troupakket wat ʼn troukenner insluit. Die koördineerder lei bruidspare met besluite soos troukoeke, dekor, spyseniering, asook begrotings.”

DIE TEMA
“ʼn Wintertroue in die stad is die moderne weergawe van ʼn feëverhaaltroue. Kies ikoniese, stylvolle en gesofistikeerde dekor wat julle as paartjie weerspieël. ʼn Venue in die stad sal ook pastelkleure en blommetemas of donkerder skakerings en metale komplementeer. Vind uit watter dekor is beskikbaar by julle venue, sodoende kan julle baie geld spaar deur hulle dekor te gebruik en dalk net ʼn paar ander elemente by te voeg.”

DIE BELIGTING
“Daar is niks wat ʼn spasie so kan transformeer soos die regte beligting nie. Kerse, feëtjieligte, gloeilampies, gekleurde ligte en lanterns skep warmte aan ʼn stedelike wintertroue. As julle venue ʼn skilderagtige uitsig van die stad se liggies het, speel met die vertoning deur minder draperings te gebruik en dof ander ligte ʼn bietjie uit.”

DIE FOTOGRAFIE
“Kies julle fotograaf noukeurig en maak seker dit is die regte persoon om julle spesiale wintertroue en -atmosfeer vir altyd vas te vang.”

DIE VERMAAK
“As julle vermaak verkies, maak seker dat julle dit vroegtydig reël, hou ook julle begroting en spasie in gedagte. Om die stedelike gevoel te omhels, kies ʼn plaaslike orkes om op te tree en dans die nag weg op julle gunstelingmusiek, terwyl julle teug aan plaaslike bier en wyn, selfs ook ʼn lekker warm koppie koffie om jou wintertroue af te sluit.”

DIE DANKIEGESKENKE
“Laat jou dankiegeskenke geïnspireer word deur gesofistikeerdheid en omhels die wintertema. Die beste plek om te gaan soek is jou naaste Chinese winkelsentrum.”

ETIENNE SE LAASTE STUKKIE RAAD…
“Geniet jou dag. Maak die beste van Jozi se kulture en moet nooit perspektief of jou sin vir humor verloor nie. Tyd vlieg, maak seker jy het genoeg tyd vir mooimaak, eet en om jouself gate uit te geniet op jou wintertroue!”

Die winter is om die draai en met hierdie wenke kry enige toekomstige bruid sommer wintertroukoors. Etienne is verseker die titel “hoof van funksies” werd by die Radisson Blu Hotel in Sandton. Gaan loer gerus op hulle webblad. Jy het nou alles wat nodig is om ʼn sprokiesverhaal van ’n wintertroue in die stad te hê.

Foto: Alexandra Elise Photography

Written by Troukoors