Verlowingsfotosessie op ’n familieplaas


’n Verlowingsfotosessie op die bruid se familieplaas moes opmaak vir die feit dat die troue nie daar kon plaasvind nie, en die eindresultaat is pragtig. An-Sophie Lourens het meer gaan uitvind oor die storie agter die sessie.

Al kon Chandi nie haar droom troue op hulle familie se wildsplaas hou nie, kon sy wel ʼn droom verlowingsfotosessie daar hê. Nog beter saam met ʼn fotograaf wat soos haar eie sussie voel.

Chandi en Jan-Adriaan vertel hoe hulle saam met hulle fotograaf, Maria Marguerite Photography, beeldskone verlowingsfoto’s geneem het.

DIE FOTOGRAAF SÊ…

WAT WAS DIE TEMA VAN JULLE VERLOWINGSFOTOSESSIE EN HOEKOM?
“Chandi het nog altyd gesê dat sy baie graag op hulle familie se wildsplaas wil trou, maar teen die tyd wat hulle begin het met die reëlings, gastelys en die logistieke het hulle na ander opsies begin kyk. So ek het vir haar die voorstel gemaak, waarna sy dieselfde idee gehad het om die verlowingsfotosessie op die wildsplaas te doen. Ons het besluit om slegs op moderne dierpatrone te fokus en die groen- en bruinkleurskakering van die plaas te gebruik.”

HOEKOM IS ʼN VERLOWINGSFOTOSESSIE ʼN GOEIE IDEE?
“Ek dink dit is uiters belangrik om jou fotograaf op ʼn meer persoonlike vlak te leer ken, en hoe dan nou beter as om by julle verlowingfotosessie te begin. Dit gee jou ʼn voorsmakie van hoe julle groot dag gaan verloop.”

WAT IS DIE LEKKERSTE DEEL VAN JOU WERK?
“Ek is verlief op liefde, hoe mooi en rein dit is. Ek hou daarvan dat mense nog glo in die huwelik en dat dit opreg is, asook die mooi wyse waarop mense liefde vier. Natuurlik ook dat ek elke dag omring word deur skoonheid.”

DIE PAARTJIE SÊ…

HOE HET JULLE ONTMOET EN VERLIEF GERAAK?
“Ek en Jan-Adriaan het in 2012 ontmoet, terwyl ons altwee by Tukkies studeer het. Ons was ook bure en dit was net ʼn kwessie van tyd totdat ons verlief geraak het. Ek het met die eerste oogopslag op die kêrel van langsaan verlief geraak.”

HOEKOM HET JULLE BESLUIT OM DIE VERLOWINGSFOTOSESSIE TE DOEN EN HOE HET JULLE DIE PERFEKTE FOTOGRAAF VIR DIE GELEENTHEID GEKRY?
“Maria Marguerite is soos my ousus. Ek ken haar al my hele lewe lank. Toe ons verloof geraak het, het Maria vir ons ʼn gestileerde verlowingsfotosessie as ʼn geskenk gegee. Dit was een van die beste geskenke wat ek nog gekry het. Ek glo werklik sy is een van die bestes en die foto’s bewys dit oor-en-oor.”

BESKRYF JULLE PERFEKTE TROUDAG…
“My perfekte troudag sal iewers op die platteland wees, ʼn plaas gevoel met ʼn tikkie blink. Daarmee saam, lekker kos, goeie wyn, vrolike musiek en ʼn ongelooflike lekker tyd!”

Met so ʼn mooi paartjie, ʼn hegte vriendskap en sentimentele venue kan daar net pragtige en kosbare foto’s geneem word. ’n Verlowingsfotosessie is altyd ʼn goeie idee, en dit is ʼn bonus as jy sommer jou troue se fotograaf kan gebruik.

Written by Troukoors