Verlowingspartytjie in die winter


Jou verlowingspartytjie kan warm en snoesig wees met die regte benadering. An-Sophie Lourens deel kreatiewe maniere om jou gaste gelukkig te hou.

Warmsjokolade, dik komberse en ure se flieks kyk, klink ʼn bietjie lekkerder op ʼn koue wintersaand as om uit te gaan en te probeer jouself geniet terwyl jy eintlik vries van die koue. Tog kan julle nie julle verlowingspartytjie vryspring nie en moet jy jou gaste ook motiveer om dit by te woon..

Troues sorg vir baie feesviering, selfs voor die troue, soos die verlowingspartytjie, die kombuistee en die henneparty. Die partytjies wag ook nie dat die winter oor is nie. Ons het ʼn bietjie gaan kyk na warm partytjie idees en hoe jy ʼn koue wintersdag of aand kan geniet. Hier is ʼn paar idees:

• Wyn- en sjokoladeproe: Daar is min dinge wat ʼn mens se binneste so warm laat voel soos ʼn goeie glasie rooiwyn. Daar is nog minder dinge wat ʼn mens so gelukkig kan maak soos goeie sjokolade. Met goeie wyn, lekker sjokolade en vriende wat saam jou verlowingspartytjie hou kan ʼn koue wintersdag sommer vinnig warm word. Jy kan uitvind waar in jou omgewing ʼn mens wyn en sjokolade kan proe of dit sommer self by jou huis aanbied. Doen net goeie navorsing en koop die regte produkte aan.
• Boheemse partytjietema: Hou ʼn boheemse verlowingspartytjie met baie komberse, groot kussings, warm vure en liggies in die bome. Pak stoele met baie kussings en komberse in ʼn sirkel om ʼn groot vuur. As almal eers snoesig en gesellig om die vuur sit en kuier, is die koue skoon vergete.
• Sop en sjerrie: Vir jongmense mag dit dalk klink of dit ʼn verlowingspartytjie vir die ouetehuis is, maar hulle sal vinnig verkeerd bewys word. ʼn Mens kry die geurigste, interessantste soorte sop waaraan gaste hulle lippe kan aflek. Jy kan groot, vars gebakte brode saam met die sop bedien en die sjerrie baie mooi op die tafels laat vertoon. Die sjerrie kan ook eerder in heerlike nageregte geproe word as die gaste verkies om iets anders te drink.
• Fondue-aand: Enige tyd van die jaar is perfek vir fondue, maar dit maak dit beter as jy langs ʼn kaggel kan sit, lekker snoesig aangetrek en gesellig kan peusel aan lekkernye. Jy kan mooi tafel dek of sommer die fondue stelle by verskillende stasies pak met verskillende bestanddele. Jy kan ʼn kaasrondte of -stasie hê met broodjies en peuselhappies, een met rou groente en vleis wat in olie gebraai word (jy kan ook die opsie hê om ʼn lagie deeg om te rol en dit lekker bros te laat braai) en natuurlik ʼn nageregrondte. Vir nagereg kan daar verskillende soorte sjokolade, koekies, malvalekkers en ander lekkernye wees.

Wees kreatief en dink aan idees en temas waar gaste warm sal kan aantrek. Dink aan die omgewing waar jy dit wil hou en maak seker dit is warm genoeg. As dit buite is, sorg vir vure of verwarmers. Bedien kos en drankies wat die gaste by jou verlowingspartytjie warm sal laat voel. Maak nie saak wat jy besluit om te doen om jou troue voor die tyd te vier nie, met die regte konsepte vir die winter sal dit ʼn groot sukses wees!

Foto: Wedding Wire

Written by Troukoors