Marmerkoekies vir jou troue saam met Louvelia’s


Marmerkoekies kan pragtig lyk op die snoeperytafel of as dankiegeskenkies op jou troudag. Minette Badenhorst het gaan uitvind hoe jy hierdie lekkernye self kan maak.

Tanya Deetlefs is die eienaar van Louvelia’s en die ‘kreatiewe-bakster-hand’ agter hierdie versierde marmerkoekies. ʼn Gereelde vraag is: Hoekom juis die naam? “Dit is ʼn kombinasie van my ouers se name Louis en Ovelia. Dit is my manier om my dankbaarheid en eer aan hulle te toon,” sê sy.

Louvelia’s bak lekker en pragtige koekies vir enige geleentheid, of sommer net vir die lekkerte daarvan, enige iets van outydse soetkoekies tot gemmerkoekies. Hulle spesialiseer in suikerkoekies en die unieke versiering daarvan.

Loer hier onder hoe om hierdie marmerkoekies self te maak.

BESTANDDELE
• Basiskleur ‘flooding consistency royal icing’ van jou keuse – ek het wit gebruik.
• Sekondêre kleur ‘flooding consistency royal icing’ van jou keuse – ek het pienk gebruik.
(Wenk: Gebruik jel-voedselkleursel, dit verander nie die dikte van die royal icing nie)
• ʼn Diep bakkie om in te werk
• ʼn Bekertjie of lepel
• ʼn Klein bakkie
• Sosatiestokkies
• ʼn Afdrip- of afkoelrakkie
• Handdoekpapier
• Gebakte koekies – jy kan winkelkoekies ook gebruik, maak net seker dit is ’n lekker stewige koekie wat uitgerol is, byvoorbeeld Eet-Sum-More-koekies

MAAK JOU MARMERKOEKIES SO!
1. Plaas die basiskleur van jou keuse in die diep bakkie.
2. Plaas jou sekondêre kleur in die bekertjie of klein bakkie. Gooi of skep ʼn lepelvol van die sekondêre kleur op jou basiskleur.
3. Gebruik jou sosatiestokkie om die twee kleure liggies te meng, totdat dit amper soos marmer lyk.
(Wenke: Moenie die twee kleure te veel meng nie, dan gaan jy die marmereffek verloor; Handdoekpapier is jou beste vriend! Vee die kant van die bekertjie gereeld skoon sodat jy nie onnodig mors nie.)
4. Doop jou koekie, bokant van koekie na onder, in die royal icing.
5. Lig die koekie teen ʼn hoek op sodat die versiersel slegs aan eenkant afloop. Werk versigtig sodat jou koekies nie breek nie.
(Wenke: Moenie te klein koekies gebruik nie; gebruik koekies met eenvoudige vorms.)
6. Plaas op jou afdrip- of afkoelrakkie.
7. Die koekies sal afdrip en droog word.
(Wenk: Om seker te maak jou marmerkoekies is mooi droog, laat twee dae vir droogtyd toe.)

ROYAL ICING-RESEP
• Twee eierwitte, net genoeg geklits om die kiem te breek
• ʼn Paar druppels suurlemoensap
• 2.5 koppies versiersuiker, gesif

METODE
Meng al die bestanddele goed saam teen ʼn lae spoed.
(Wenk: Volg die videoskakel na Nadia van My Little Bakery. Sy verduidelik die dikte van royal icing baie mooi.)

* Die marmerkoekies is deel van ’n gestileerde fotosessie. Gaan loer gerus hoe die ander foto’s lyk en hou die blog dop om nog oulike selfdoenprojekte uit hierdie sessie te sien.

Foto’s: Celeste Cilliers Photography

Written by Troukoors