Trougaste kan só gemaklik gehou word!

Trougaste is gewoonlik honger en geïrriteerd na die lang kerkseremonie. Verdere lang rondstaansessies kan nog meer sieldodend wees. Charlene Kotzé het gaan uitvind hoe om trougaste geduldig en rustig te hou tydens eindelose familiefoto’s.

Geen troue het waarskynlik al ooit seepglad verloop nie – vurige swaarbelaaide emosies kan ernstig vlam vat. Gemaklike trougaste is ’n noodsaaklike pilaar waarop die sukses van ’n troue geanker is. As daardie boksie afgemerk is, is ’n gelukkige bruidspaar feitlik verseker.

MOTORWAGTE
Trougaste raak dikwels die pad effens byster. Ongeduld kan lelik kop uitsteek wanneer motors bottelnek by die onthaalarea se ingang. Netjies gekleë koelkop motorwagte kan frustrasievlakke aansienlik verminder deur parkeerplekke aan te wys, ’n toeparkeerdery te verhoed en sommer ook te beduie waar die onthaalsaal is. Trougaste op hoë polvye kan ook net sóveel keer heen en weer loop!

STUURMAN AAN BOORD
Indien die seremoniemeester betrek word by familiefoto’s, kan iemand anders tydelik die leisels oorneem om trougaste ’n stappie nader aan die onthaallokaal te lei, voor almal verward en ongemaklik begin rondskuifel.

PEUSELHAPPIES, DRINKGOED
Na al die jare, bly die idee van ’n ou eetdingetjie vóór die onthaal, maar ’n treffer. Behou die tema deur die vingerete te laat pas by die omgewing: olyfplaas (olywe, beskuitjies en kaasverskeidenheid), wingerboord (sjerrie, druiwe, rosyne en grondbone), wildsplaas (biltonghappies en vrugtesap).

FOTOHOKKIE
’n Neiging, veral gewild onder jonger trougaste, is om ’n “photobooth” net buite die onthaalsaal te hê. Trougaste het mooi aangetrek en moeite gedoen vir die okkasie – dis baie gerieflik en groot pret om gou ’n foto of twee saam met ’n metgesel te neem.

SKYFIEVERTONING AS AGTERGROND
Soos trougaste inbeweeg, is dit soms ’n ysbreker om ’n skyfievertoning aan die rol te sit in die agtergrond. Die fokus moet natuurlik op die bruid en bruidegom wees – kindertydfoto’s, tye saam as paartjie en die verlowings-, henne- en hane partytjies. Tafelplasings is meesal ’n tameletjie – trougaste wat noodgedwonge langs vreemdelinge móét sit, het dan iets om verder oor te klets en te giggel.

LANG TOESPRAKE EN BEDANKINGS
Bedankings kan nimmereindig en bitter vervelig raak. Plaas eerder ’n lysie met bedankings strategies op die tafels, toegedraai om ’n olyfoliebotteljie, geknoop aan ’n druiwetrossie, vasgespeld aan ’n tarentaalveertjie, of slim ingespan as deel van ’n servetring. Die seremoniemeester kan dan fokus op sy eíntlike taak: vermaak, die vloei van verkeer kostafels toe (en later ook balke toe!).

PLATEJOGGIE
Sorg dat die platejoggie jonk genoeg is vir die nuutste treffers, maar ook oud genoeg vir ’n goeie ou “Golden Oldie”-skoffel. Laat ruimte vir versoeke en maak die trougaste deel van die hele trou-ervaring. Daar raak dalk net twee vreemdelinge verlief op die dansvloer na so ’n spesiale versoekie.

ONVERWAGSE REËNBUIE
Hou die onvoorspelbaarheid van reënseisoene in gedagte – weervoorspellings is selde presies in die kol. Trougaste is gewoonlik gejaagd en vergeet dikwels essensiële items tuis.’n Paar stylvolle handsambrele in die troukleure, kan mooi netjies op aandag staan in die voorportaal, net ingeval iemand deur die strortreën moet nael om iets in die kar te gaan haal.

TOILETGERIEWE
Ordentlike toiletgeriewe is ononderhandelbaar! Een verantwoordelike persoon kan nou en dan gaan kyk na die seep-, handeroom- en papiersituasie. (Steek ’n mop êrens onopsigtelik weg, nét ingeval!)

OPSKEPBEURTE EN REËLS
Kwantiteit en verskeidenheid is belangrik. Die bruidsouers wil nie rooigesig verskonings hoef uit te dink omdat die lamskenkels ná tafel drie se opskepsessie, te min was nie. Trougaste kan vriendelik gelei word om tafel vir tafel op te skep, maar daar sal áltyd iemand wees wat afdwaal. Vermy eerder drama as dit ander gaste nie te veel pla nie.

’n Trougas wil tog ook spesiaal voel: hierdie langverwagte dag is lankal gedagboek, duur kombuistee- en trougeskenke is gekoop en baie moeite is gedoen om besonders te lyk. Die troue behoort ’n bederf te wees vir elke liewe een van jou trougaste wat deel het aan hierdie groot dag!

Foto: Arabia Weddings

Written by Troukoors