Huur slim wanneer jy trou!


Huur die meeste van jou trou-items – dit is onlogies om nie alle beskikbare hulpbronne te ondersoek en te oorweeg nie. Charlene Kotzé het gaan kers opsteek by kenners oor die moets en moenies.

Daar is soveel moontlikhede, dat dit die keuses rondom die huur van items baie bemoeilik. Alle idees lyk naderhand onweerstaanbaar. ’n Mens moet kop hou om nie ernstige flaters te begaan nie. Die idee van die huur van items is juis om geld te bespaar, maar dom keuses kan jou baie kos.

BESLUIT OP SEISOEN EN TEMA, MAAK LYSIES EN BEGROOT
• Baie venues bied ’n 10%-korting op winter-troues, troues in die week of op Sondae.
• ’n Duidelike prentjie in die agterkop verhoed ’n lukrake rondgesnuffel wat net verwarring veroorsaak.
• Lys élke aspek van die droomtroue.
• Die lysie sal ’n aanduiding wees van hoeveel spandeer kan word op die huur van items.
• Net gaste wat aktief deelhet aan die troupaar se lewe, hoef genooi te word.
• Betrek ander -’n bruid wat alles wil mikrobestuur raak ’n tikkende tydbom.

DOEN NAVORSING
• Kry kwotasies – vergelyk verskaffers wat dieselfde pakette bied.
• As iets net té goed lyk om waar te wees, is dit gewoonlik.

ALLES-IN-EEN OF VERSKEIE VERHUURDERS?
• Besluit wat self gedoen kan word om die begroting vir items wat jy wil huur te rek en wat kenners eerder moet behartig.
• Kreatiewe bruide, wat weet wat is in en wat nie, kan self professionele uitnodigings maak.
• Uitnodigings kan deur middel van ’n tydelike webblad vertoon word sodat gaste sommer aanlyn RSVP.

HUUR VAN DIE TROULOKAAL
• ’n Persoonlike besoek vooraf aan élke potensiële venue is ononderhandelbaar – hierdie keuse gaan die meeste kos.
• Alles-in-een-verskaffers kan onkostes laag hou as die druk te veel is vir die bruidspaar.
• Daar word gewoonlik redelik ruimte gelaat vir unieke idees.
• Sommige venues laat toe dat troupare hul eie verskaffers vir dekor en kos inbring.
• Dis ’n bonus as die kapel en onthaallokaal op die dieselfde plek is.
• ’n Venue wat reeds mooi versier of goed afgewerk is, gaan nie baie dekor benodig nie

KOÖRDINEERDER
• Die koördineerder moet opreg belangstel. ’n Mens tel opregtheid vining op uit die vrae wat hulle vra.
• Sommige venues is professioneel genoeg dat ’n mens kan staatmaak op watter koördineerder ookal daardie dag toegeken gaan word.
• Maar met ’n minder bekende maatskappy is dit beter om vooruit te bespreek en te onderhandel dat dieselfde persoon van begin tot einde die troureëlings behartig. (Maak dan seker dat dit so in die kontrak gestipuleer is, sodat mondelinge reëlings nie sommer sonder geldige redes verbreek word nie).
• Gesels en onderhandel – bou ’n goeie verhouding, wees entoesiasties oor moontlikhede maar realisties oor beperkinge.

FOTOGRAAF
• Die troufoto’s volg die bruidspaar vir altyd – nou is nie die tyd om ’n amateur ’n kans te gee nie.
• Behalwe vir basiese fotografie-kennis, moet die bruid se “beste kant” ook in ag geneem word. ’n Bruid wat voel sy lyk vet, gaan nooit weer na haar troufoto’s wil kyk nie
• Die fotograaf moet ook visie en tydsberekening hê om onverwagse geleenthede raak te sien – natuurlike veldblomme, ’n dwarrelwindjie in die agtergrond, ’n lang stofpad, ’n onverwagse reënboog, weerkaatsing op ’n plaasdam, voëls wat toevallig in formasie verbyvlieg.
• ’n Ervare videograaf gaan die openingsdans beter vasvang as ’n familielid met ’n selfoon.

MUSIEK
• ’n Platejoggie wat by SAMRO-geregistreer is, is professioneel.
• Maak vooraf ’n lys met gunstelinge maar gun hom ’n mate van vryheid sodat musiek spontaan vloei.
• Maak seker hy verstaan die bruidspaar se voorkeure. ’n Jong bruid gaan nie net Country wil luister nie en ’n ouer bruid gaan ongemaklik en geïrriteerd raak om heel aand in Vigiland se geselskap te wees.

VOOR DEPOSITOS VIR HUUR BETAAL WORD
• Besoek webtuistes soos www.hellopeter.com om te help om kansvatters te identifiseer.
• Betroubare verskaffers het webtuistes of Facebookblaaie.

Na alle uitgawes vir die items wat jy wil huur in ag geneem is, gaan die bruidspaar weet waar reserwes op ander aspekte spandeer kan word, soos op die troukoek, oulike konfetti-idees, kostafels, of gaste-geskenke. Die belangrikste is om alle reëlings op te volg – drie maande, een maand, een week en een dag voor die troue. Kansvatters wat reeds betaal is kan ’n bruidspaar se wittebrood op ’n hartseer noot laat afskop.

Foto: The Wedding Specialist

Written by Troukoors