Jou dieet kan jou soos ’n prinses laat lyk op jou troudag


Jou dieet het ’n groot invloed op hoe jy lyk, voel en stres hanteer op jou groot dag. Slank (kykNET-kanaal 144) se dieetkenner vertel hoe ’n paar klein veranderinge ’n groot verskil kan maak.

Slank, met Leandie du Randt-Bosch as aanbieder, is tans elke Maandagmiddag te sien om 17:30 op kykNET, kanaal 144. Dit volg ’n paar deelnemers se verslankingsreis en deel ook nuttige raad oor gesondwees, dieet en mooilyk.

Careen Visagie, een van die kenners op die program, meen dat klein veranderinge aan jou dieet, wondere kan verrig vir jou troulyf. Pas sommer vandag nog jou dieet aan met haar voorstelle:

DRINK WATER!
Skoon drinkwater is baie nodig om die liggaam gesond te hou, die aptyt te beheer en reguleer, en die brein te ondersteun met funksionering en besluitnemingsprosesse. Water in jou dieet, sal jou help mooi lyk en kalm bly op jou troudag.

IDENTIFISEER DIE STYSELKOS IN JOU DIEET EN MAAK DIT MINDER
Kos wat stysel voorsien gee maklike energie aan die liggaam, maar veroorsaak soms nadelige hormoonreaksies en kan maak dat die liggaam vet stoor eerder as om dit af te breek. Dit wil geen bruid hê nie! Let op na snoepgoed soos sjokolade, skyfies, koeldrank en vrugtesap, suiker wat jy self byvoeg of wat reeds in kos verskuil is, maar ook pasta, brood, ontbytgraan, rys en aartappel. Probeer om hierdie kosse uit te skakel vir ’n paar weke en let op hoe dit jou beïnvloed – nie net jou gewig nie, maar ook jou middel omtrek, konsentrasie vermoë en kwaliteit slaap.

EET BAIE MEER GROEN GOED
Blaarslaai, komkommer, spinasie, blomkool, broccoli, kool ensovoorts is goud werd vir jou dieet – veral wanneer jy voorberei vir die mooiste dag in jou lewe. Maak jou kos geurig met die gebruik van ui, knoffel, vars kruie en speserye. Die groen groentes help nie net om jou versadig te hou nie, maar dit ondersteun ook jou liggaamfunksies wat verantwoordelik is vir skoonmaak en beskerming. Poog om jou etes te beplan rondom jou groente inname en gee kleur en variasie met ander groentes, gesonde vette en proteïene.

KNOOP ’N VERHOUDING AAN MET GESONDE, NATUURLIKE VETTE
Olywe, avokado, sade en neute, olyf olie en klapperolie wat nie geprosesseer is nie, en regte botter kan deel wees van jou dieet. Gesonde vette behoort deel te wees van elke ete. Dit hou mens versadig, bevorder die smaak van kos, verbeter suiker regulasie en nog baie meer. Vetjies aan die vleis van diere wat vry rond geloop het en gras gevreet het kan ook geëet word.

LAAT STAAN DIE PEUSELKOS TUSSEN ETES
Tensy daar ’n mediese probleem is wat peuselhappies tussen etes vereis, is dit goed om die liggaam kans te gee om kos behoorlik te verteer tussen etes. Dit ondersteun vetverbranding en verminder inflammasie. Let ook op om nie na 7nm aandete te eet nie.

Skakel vanaand om 17:30 vir die nuutste aflewering van Slank en besoek hulle webblad vir nog nuttige raad oor dieet en gesondheid wat jou kan help om te lyk soos jy graag wil op jou troudag. Daar is ook verskeie bekendes wat aan die program deelneem, waaronder Kevin Leo en Mimi Mahlasela.

Foto’s: Freepik en verskaf

Written by Troukoors