Liefde vir ’n stads- en plaasjapie


Liefde het gemaak dat die stadslewe nie meer vir Charné Labuschagne beskore is nie. Dit het sy besef die dag toe boer Werner en die plaaslewe vir haar die heel meeste vreugde begin verskaf het.

Werner het geweet as hy die dag bereid is om sy plaas op te gee en te trou, is dit ware liefde. Gelukkig was dit nie nodig nie, want Charné was maar te bly om die stadslewe te ruil vir die plaaslewe saam met haar boer.

HOE HET JULLE LIEFDE BEGIN?
“ ʼn Vriendin het my genooi om saam met haar en haar verloofde op Werner hulle se familieplaas te gaan kuier, waar ek hom vir die eerste keer ontmoet het. Daar was dadelik ʼn vonkie tussen die stadsmeisie en die boer.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET JULLE LIEFDE LAAT BLOM?
Charné: “Sy ongelooflike sagte hart. Hy sit almal altyd eerste en hy is altyd positief. Hy maak my elke dag lag, selfs wanneer ek nie in die bui is nie en ook sy liefde vir sy familie.”
Werner: “As Charné lag kan sy die hele kamer kry om saam met haar te lag. Alhoewel ek altyd sê sy het ʼn taxi hart, wat net meer en meer mense inlaai, het sy die mooiste, kleinste hartjie.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Op oujaarsdag 2016 het sy ma en ʼn vriendin my gevra om ʼn bietjie saam met hulle te gaan rondry op hulle wildsplaas. By die eerste hek waar ons moes stop was daar ʼn boksie met ʼn leidraad. Na ons nog leidrade gevolg het, het ons by my gunsteling-watergat gestop. Daar het ʼn bord gehang wat sê, “walk our story.” Soos ek deur die bome gestap het, het daar klomp foto’s in die bome gehang van ons herinneringe saam. In die middel van die bos het my boog gestaan en in die verte ʼn bord. Werner het ʼn lap van die bord afgetrek en daar het gestaan: “Charné, sal jy met my trou?” met ʼn ja- en nee-sirkel. Ek het eers heelwat later die ja-sirkel met my boog geskiet, na al die opwinding en emosie bedaar het.”

DIE KLEURSKEMA EN TEMA VAN JUL TROUE?
“Ek wou ons liefde vier met ’n elegante, klassieke troue. Die tema was Klassieke Elegansie met meestal wit en ʼn tikkie roosgoud en groen om die wit te breek.”

HET DAAR IETS SNAAKS GEBEUR?
“Terwyl ons in die kerk was om ons liefde te verewig, het ʼn aap besluit dat ons troukoek ongelooflik lekker lyk en hy het op die tafel gaan sit en homself gehelp met ʼn stukkie koek. My tannie het uit die kerk gekom en dit gesien. Toe sy met hom raas en probeer wegjaag, het hy sy hand net stadig uitgesteek, nog ʼn stukkie koek gegryp, dit stadig in sy mond gedruk en toe weggehardloop.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
• Om te spaar: Sit elke dag ʼn R5 of so weg. Op die dag voel jy dit nie, maar aan die einde van die maand het jy ʼn goeie klomp geldjies al gespaar.
• Mense sal altyd iets te sê hê oor iets waarvan hulle nie hou nie. Op die einde van die dag moet jy en jou man die dag saam met mekaar geniet, so probeer al die negatiwiteit uitsluit en fokus op julle liefde en die toekoms saam met mekaar.

HET JULLE ENIGE SELFGEMAAKTE ITEMS GEHAD?
• My pa het uit houtborde vir ons ʼn fotohoekie gebou. Ek en my strooimeisies het die borde swart geverf en plakkers wat ek laat druk het opgeplak.
• Ons het biltong- en droëworspakkies gemaak vir dankiegeskenke.
• Ek het ʼn groot rol blinkertjie-materiaal gekoop en velcro aan beide kante geplak vir servetringe.
• Ons het dieselfde materiaal as die strooimeisies se rokke gebruik en dit in fotorame geplaas vir tafelnommers.
• Kinders gee nie regtig om oor wat op die tafel is nie. Ons het vir die kindertafel ʼn ruiker gemaak uit lekkers uit, vir elkeen ʼn pret-aktiwiteiteboek gemaak en ʼn lekker boks met speelgoedjies binne-in om hulle besig te hou.
• Ons het ook groot, ou fotorame gevat en die inhoud uitgehaal, dit als oorgeverf en dit gebruik as ons welkom- en kerkborde.
• Ons het Love Bugs-skopdoppies gekoop en plakkers laat maak en op geplak vir elke gas. Toe ons in die onthaalsaal inloop as pasgetroudes, het almal die skopdoppie op ons gedrink.

Alhoewel Charné die stadslewe met sy glinster en glans verruil het, was hulle troue nogsteeds elegant en klassiek soos sy dit nog altyd wou hê. Dit saam met die plaasatmosfeer van geselligheid, gemaklikheid en tyd saam met mense-mense het die dag van liefde tot volmaaktheid gebring het.

DIENSVERSKAFFERS:
Venue, kos en drankies: Isiphiwo Boutique Hotel & SPA
Bloemiste: Bride in Bloom
Verhurings: Perfect Occasion
Skryfbehoeftes: M Botha Design
Troukoek: L’s Creations La Moraine
Fotograaf: JC Click
Videograaf: Barefeet Videographer
Musiek: Up a Tone Events
Trourok: Timeless Bridal Couture
Hare: M’s Studio Hairsalon
Grimering: KarenB Makeup and Hair
Bruidegom se uitrusting: Tux Tailors

Artikel: An-Sophie Lourens

Written by Troukoors