Raad om die perfekte trourok te kies


Raad om jou droomrok te kies, is wat enige vrou wat pas die ja-woord gegee het, nodig het om te hoor! An-Sophie Lourens het met mode-ontwerper, Marius de Jager van Designs by Marius, hieroor gesels.

Marius is al vir negentien-jaar in die troubedryf en sy raad is ʼn moet-hoor vir alle toekomstige bruide. Marius sê: “Dis onsin dat somerbruide dink hulle moet iets sonder moutjies dra en winterbruide dink hulle moet toe wees tot onder die kieliebak. Dis ook absolute waansin om jou drome vir die wind te gooi en te doen wat die bruide oor die water doen. Dit is sinneloos om raad te volg van vrouens met middelyfies so groot soos potlode en boesems soos waatlemoene. Wat van jou droom?”

Hier is sy raad:

• “Bly weg van die Chinese winkelsentrums af! As ek nog een rok van China af moet probeer red, gaan ek in my hande huil.”

• “Ontwerpersuitrustings is nie gratis nie, maar ʼn goeie ontwerper kan wonderwerke verrig met min. Kry ʼn goeie ontwerper wat dieselfde “taal” as jy praat en deel jou hart se droom met hom of haar. Maak ʼn plakboek met al jou idees en werk saam aan die ontwerp van jou trourok.”

• “As dit somer is, wees relevant tot die weersomstandighede. Wees versigtig om nie in die swaarste satyn en kant voor die kansel te staan nie. Jou staan sal verander na lê en sweet en moontlik hitte-uitputting.”

• “ ʼn Klein kantmoutjie of skouertjie wat fyn afgerond is, kan baie sensueel en ʼn positiewe bate wees vir jou somer trourok. Somer beteken nie noodwendig off the shoulder nie. Ek sou egter ʼn driekwart- of volmou vermy soos die pes. As jy ʼn bo-arm wil wegsteek, sal ʼn klein moutjie in elk geval beter wees en minder aandag rig op jou arm as ʼn langer mou.”

• “Dink eerder aan ligte materiale soos chiffon, tulle en sy. Iets wat lig is en asemhaal.
Rekstof is ʼn fantastiese keuse as dit by somerbruide kom. Jy kan enige danstoertjie uithaal sonder dat jy 30kg se materiaal saam met jou rond worstel.”

• “Kyk na die positiewe en negatiewe bates van jou liggaam. As jy groot borste het… Baie geluk! Ek dink net nie dis nodig dat jou rok se wentelasiesisteem oor jou borsmaat moet wees nie. Maak maar eerder jou borste ’n bietjie toe, almal sal kan sien hoe mooi dit is in ʼn mooi snit. Jou man sal dit ook waardeer as die twee eerder vir hom weggesteek word, eerder as om vir al die lastige ooms en nefies te wys.”

• “As jou bate ʼn perdebylyfie is, beklemtoon dit dan dienooreenkomstig met smaak en styl.”

• “Wees oopkop met jou negatiewe bates. As jy ʼn magie moet wegsteek of dalk ʼn paar boudjies het wat soos speenvarkies in ʼn streepsak baklei, luister na jou ontwerper se raad! Daar is maniere om jou tekortkominge weg te steek en die positiewe te laat skyn.”

• “Trourok-kies is een van die lekkerste avonture ooit as dit reg aangepak word.
Doen navorsing oor jou ontwerper. Doen deeglike ondersoek oor sy werk en kliëntediens. Maak seker dat jou rok in ʼn redelike tyd voltooi en afgelewer sal wees en luister na goeie raad.”

• “Maak seker dat jy kry waaroor droom, maar wees realisties! Besluit oor jou begroting hetsy koop of huur en hou in gedagte jy kan nie ʼn Porche ry as jy net ʼn Bantam-bakkie kan bekostig nie.”

• “Neem iemand positief saam na jou rok konsultasie en passings. Negatiewe Nellie wat nie haar droomrok kon kry nie en in haar Chinese nommer voor die kansel gestaan het omdat sy nie beplan het nie, is nie die beste keuse nie en haar raad sal goor wees.”

Hierde praktiese raad van Marius de Jager kan werklik ter harte geneem word. Iemand wat al so lank in die bedryf werk, weet waarvan hy praat! ʼn Laaste stukkie wysheid van hom af: “Wees eerlik met jouself, jou liggaam en jou beursie, en wees getrou aan jou rok!”

Foto: Freepik

Written by Troukoors