Boudoir-fotosessie 101


’n Boudoir-fotosessie is dalk ʼn onderwerp wat liefs oor gefluister wil word, tog is dit een van die spesiaalste geskenke wat jy vir jou man of verloofde kan gee. An-Sophie Lourens het meer hieroor gaan uitvind.

As jy dink jy is te skaam, te mollig of nie “model” genoeg om in onderklere voor die kamera se lens te wees nie, moenie bekommer nie. Een ding is vir seker, daar is duisende ander vroue wat ook so voel.

Die beste ding van ʼn boudoir-fotosessie is, jy kan al daardie negatiewe gedagtes in ʼn boksie sit en dit by die venster uitgooi. Jou man of verloofde het jou gekies, hy aanvaar jou net soos wat jy is. ʼn Foto-album vol sensuele foto’s net vir hom, of jy nou ʼn potlood- of ʼn pampoenlyfie het, gaan vir hom een van die beste geskenke ooit wees!

Nadat jy die artikel gelees het, het jy hopelik genoeg moed bymekaar geskraap om jou lippe rooi te verf en vir jou man of toekomstige man iets te doen, wat net vir sy oë bedoel is en wat hy sonder twyfel sal waardeer. Hier is ʼn paar wenke:
• Besluit wat is jou motief om ʼn boudoir-fotosessie te wil doen. Die meeste se antwoord sal tien teen een wees, om iets spesiaals vir hul man te doen of vir hom ʼn geskenk te gee. Is dit nie meer as genoeg motivering om hierdie besluit voluit aan te pak nie?
• Dink watse soort styl jou boudoir-fotosessie moet wees. Wil jy net mooi sensuele foto’s neem, wat nogsteeds baie smaakvol en stylvol is of wil jy meer lyf wys en wulps en tergend lyk. Dink ook van watter tipe foto’s jou man van sal hou. Miskien hou hy van kostuums of dalk eerder net ʼn klassieke styl.
• Kies jou fotograaf reg. Dit moet natuurlik iemand wees om wie jy heeltemal jouself kan wees en gemaklik kan voel. Jou fotograaf moet ook jou kan verstaan en weet wat jy na soek uit die boudoir-fotosessie.
• Kry vir jou ʼn paar uitrustings. Enigiemand is opgewonde om iets wat hul nuut gekoop het aan te trek! Kies items wat jou laat gemaklik en mooi voel. Vat hakskoene saam, kousbande, pêrels, items wat vir jou aantreklik is. As jy dink jy gaan goed lyk met dit aan, gaan jou man ook so dink!
• Doen jou hare en grimering asof dit vir ʼn spesiale geleentheid is. Eerstens, dit sal jou goed laat voel oor jouself. Tweedens, as jy mooi voel het jy meer selfvertroue. Derdens, jou man gaan dit nog meer waardeer as hy sien hoeveel moeite jy vir die boudoir-fotosessie gedoen het.
• As jy besluit om ʼn familielid of vriendin saam te neem vir ondersteuning, kies iemand wat jou sal help om uit jou gemaksone te kom, eerder as iemand wat die boudoir-fotosessie net so veel betwyfel soos jy.
• Wees jouself en wees gemaklik met wie jy is en hoe jy lyk. Dit sal verseker dat die foto’s moeiteloos mooi uitkom. Dink aan jou man of verloofde terwyl jy dit doen. Geniet dit, drink sjampanje en lag baie!

’n Boudoir-fotosessie hoef nie meer iets te wees waaroor daar gefluister word nie. Met die regte fotograaf, mooi kledingstukke, grimering en hare, het jy niks om oor skaam te voel of dit nie te wil doen nie. Omhels jou skoonheid en jou vrouwees. Daar is ʼn 100 persent waarborg dat dit jou toekomstige man sal gelukkig maak!

Foto: Maler Photography

 

 

Written by Troukoors