Troue met elegante skakerings van grys en pienk


’n Troue wat gesellig genoeg was om deurnag te hou, maar elegant genoeg was vir die glansblaaie van ’n bruidstydskrif, was die uiteinde van Dries en Alecia se mooiste dag. Minette Badenhorst het meer hieroor gaan uitvind.

Hierdie pragtige kuiertroue was presies wat Dries en Alecia nog altyd van gedroom het. Dit was ʼn dag en aand van vele pret. Die elegante dekor-items soos die kristalle en selfs die kant op die troukoek, het perfek gepas by die atmosfeer en troutema. Ons gesels met dié gelukkige paartjie oor hulle troue.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN VOOR DIE TROUE?
“Ons het die eerste keer in Januarie 2017 ontmoet, deur sy niggie, wat ʼn goeie vriendin van my is. Hy het in Pretoria gewoon en ek in Johannesburg, maar ons het in Vanderbijlpark ontmoet by Stonehaven. Sy niggie het daarna in “full blown match-maker mode” gegaan, deur seker te maak ons is nou en dan by dieselfde funksie. Sy het ons in Mei genooi na ʼn vertoning, waar ons langs mekaar aan tafel beland en begin gesels het. Dit is waar alles ‘amptelik’ begin het. Ons het die aand om gekuier en hy het my nommer gevra, maar my nooit gekontak nie. Hier moet ek wel noem dat ek glad nie kan flankeer nie, so hy was redelik oortuig daarvan dat ek nie belangstel nie. Teen die volgende Dinsdag kon ek my nuuskierigheid nie meer inhou nie en ek het toe besluit om hom te kontak. Ons het daardie naweek gaan koffie drink en van daar af was ons nog altyd saam.”

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK VOOR DIE TROUE?
Alecia: “Ons kan vir ure aaneen gesels oor enige iets en alles. Ons verstaan mekaar se loopbane en is beide baie gedrewe, en ons ondersteun mekaar se drome en vooruitsigte. Hy het ook die grootste hart, hy is altyd bereidwillig om sy medemens uit te help en die een persoon waarop mens kan staatmaak. Daarby is hy nog aantreklik ook.”

WANNEER HET JY GEWEET DAT JULLE VIR MEKAAR BEDOEL WAS?
“Van dag een af was dit net maklik. Ons het in mekaar se lewens ingepas soos daardie laaste legkaartstukkie wat die prentjie voltooi. Ons kom met mekaar se mense oor die weg, en vir my veral wat ʼn baie klein familie het wat vreeslik na aan mekaar is, het dit vir my so baie beteken dat hy so goed met die mense in my lewe oor die weg kom.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Op ʼn Maandag het hy my woonstel opgemaak met roosblare op die vloer, rose en kerse die hele sitkamer vol en het aandete gekook. Ek het by die deur instap, en hy het aan die ander kant van die sitkamer gestaan met die ring in sy hand.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Die eerste ding wat ons gedoen het is was om na venues te gaan kyk, want die venue sou die datum en alles anders bepaal. Ons het na so ses troulokale rondom die Vaaldriehoek gaan kyk, en op Klip Rivier Country Estate besluit. Omdat die datum so naby was en boonop die Vrydag voor ʼn langnaweek, het ons amper onmiddellik die ‘save-the-dates’ uitgestuur.

Ek is nogals administratief-georiënteerd, so ons het vroeg begin om die kleure en verskaffers bymekaar te kry sodat alles in plek kan wees. Toe ons die eerste keer by die venue was, het ek geen idee gehad wat my kleurskema moet wees nie, maar Dries was eintlik die een wat twee kleure lint bymekaar gesit het wat net perfek gepas het. Die res was eenvoudig, ons het nie ʼn moeilike kleurskema of tema gehad nie so dit was maklik om dekor en blomme te kies wat daarby pas.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN DIE ATMOSFEER WAT JULLE WOU SKEP VIR JULLE TROUE?
“Oorheersend grys, so duifgrys, met pienk wat eintlik net by die blomme en klein details op die programme en servethouers deurgeskemer het. Ons wou gaan vir ʼn elegante styl, so ons het baie glas en kristal op die tafels gehad wat mooi by die grys en spatsels pienk ingepas het.”

VERTEL ONS MEER OOR JULLE TROUE SE KUIERATMOSFEER?
“Ons wou absoluut ʼn kuiertroue hou. Dit was vir ons belangrik dat almal dit moet geniet. Ons voorwaarde toe ons na venues gekyk het was dat dit langer as 24h00 kan oop bly, sodat mense kan kuier so lank soos hulle wou. Klip River Country Estate het ʼn boma-area wat hulle voorberei met ʼn lekker vuur vir mense wat nog wil verder kuier nadat die saal gesluit het. Ons het dit verseker reggekry, want mense het tot half vier die volgende oggend gekuier.”

BESKRYF JULLE TROUE?
“Mense vertel altyd voor die tyd dat die dag verby vlieg, maar jy kan nooit volkome voorbereid wees nie. Ek en die strooimeisies het die vorige aand al op die venue oorgeslaap, so ons kon die dag saam begin met ʼn lekker ontbyt. Dit was maar ʼn huilerige dag van sonsopkoms af, want ek is nogals ʼn emosionele persoon so die trane het pal gerol. Dit was wel grootliks ʼn lekker kuierdag waar almal gedoen het wat hulle moes, met vele grappe tussen-in.”

WAS DAAR ENIGE SPESIALE OOMBLIKKE OP JULLE TROUE WAT JULLE WIL DEEL?
“Ek dink dit was spesiaal vir Dries om die pak wat ʼn erfstuk van sy oupa was te kon dra. Op so ʼn dag is daar baie fokus op die bruid se rok en die “somethings”, dat die bruidegom se oomblikke soms verlore raak. Dit was vir my spesiaal dat hy die pak kon dra, daarom soveel te meer vir hom.”

WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?
“My leuse was altyd dat ʼn ding net vir ʼn aand hoef te blink. Koop ʼn R20 plastiekdiamant wat mooi gaan lyk op die foto’s eerder as ʼn R200 swarovskidiamant wat na die aand êrens in ʼn kas gaan stof vergaar.

Die belangrikste is dat dit jou dag moet wees. As jy voel dat alles presies was soos jy dit wou gehad het en jy sou niks wou verander nie, weet jy jy het die perfekte troue.”

WAS DAAR ENIGE VAN DIE DIENSVERSKAFFERS WAT JOU TROUE EKSTRA SPESIAAL GEMAAK HET, EN WIE JY SAL AANBEVEEL?
“My fotograaf (Marni Olivier van Oliv’ Photography) is ʼn vriendin en dit was vir my ʼn groot voorreg om haar as fotograaf daar te kon hê. Ek het geweet my foto’s is in veilige hande omdat sy so ʼn ongelooflike persoon is. Sy laat ’n mens op jou gemak voel en die hele sessie is groot pret. Haar passie vir fotografie kom so duidelik deur die hele proses, en haar foto’s is wêreldklas.

Jacolette Calitz van The Golden Studio was ongelooflik. Sy het al my skryfbehoeftes ontwerp, insluitend ons monogram, tafelplasings, kerkprogrammetjie, bruidshempies en spyskaarte. Sy het my idees perfek op papier neergesit en haar ontwerpersoog het gesorg dat dit selfs beter uitgekom het as in my gedagtes.”

 

DIENSVERSKAFFERS:
Venue, koördinering en spyseniering: Klip River Country Estate
Dekor: Crystal Designs
Blomme: Panorama Flowers
Troukoek: Sweetly Cakes
Skryfbehoeftes: Jacolette Calitz – The Golden Studio
Foto’s: Oliv’ Photography
Musiek: DJ Melissa
Trourok, grimering en hare: Designs by Marius
Dankiegeskenkies: Creative Brands

Written by Troukoors