Jou wittebroodnoodhulpboksie


ʼn Wittebrood moet vol opwinding, vreugde en liefde wees, tog is niemand gevrywaar dat dit sonder enige probleme sal wees nie. Vir die rede, kan dit nie sleg wees om ʼn wittebroodnoodhulpboksie byderhand te hê nie.

Dit is ʼn baie oulike idee vir strooimeisies om die oggend van die troue so boksie vir die bruid te gee, of selfs die bruid aan haar man of andersom, om die opwinding van wat voorlê aan te hits. Of julle nou weggaan vir wittebrood of sommer net tyd by die huis of iewers naby die huis saam spandeer, kan hierdie items van groot hulp wees om hierdie tydjie net nog meer sorgvry en gerieflik te maak.

An-Sophie Jonker lys items wat nodig is vir ʼn wittebroodnoodhulpwittebroodboksie

MEDIKASIE
Siek word of sleg voel is die laaste ding wat enige iemand voor wil wens op hulle wittebrood. Ongelukkig word mens blootgestel aan soveel kieme, veral as jy op reis gaan. Hier is ʼn paar moet-hê-medisyne om byderhand te hê in jou wittebroodnoodhulpboksie:
• Diareemedikasie: Ongesuiwerde water of ʼn kiem kan baie ongemaklikheid veroorsaak. Maak seker jy het medikasie om dit sommer vinnig in die kiem te smoor.
• Naarpille: As julle vlieg is dit definitief nodig om saam te neem. ʼn Mens eet ook nie altyd kosse wat jou liggaam aan gewoond is nie en dit is gewoonlik ryker as die kosse waaraan jy gewoond is. Jy gaan nie spyt wees nie.
• Verkoue- en sinusmedisyne: Neem saam sodat jy dadelik kan begin drink as jy ʼn loopneus begin kry. Jy wil nie vier dae later met infeksie sit omdat jy dit nie kon behandel het nie.
• Pille vir pyn en koors: As die skemerkelkies die vorige aand te lekker was, gaan jy tog te dankbaar wees hiervoor.

HANDSANITEERDER
As julle baie plekke besoek, neem sommer hierdie as ʼn voorsorgmaatreël om kieme te vermy.

PLEISTERS
As jy nuwe skoene gekoop het of dalk net ʼn ongeluksvoël is, maak seker jy pak pleisters in jou boksie.

DROË SJAMPOE
Hierdie is ʼn lewensredder op die oggende wat julle bietjie wil inlê en jy nie lus het vir hare was nie. Dit werk soos ʼn bom en sit sommer weer ʼn gesonde glans in jou hare.

ʼN REISGROOTTE ONDERARMSPROEI
Na ʼn besige dag, of selfs net baie warm somers oggend sal die item jou sommer weer vars en vrolik laat voel.

NAELLAK
Pak ʼn naellak wat baie naby aan jou huidige kleur naels is in. Ongelukke gebeur, naels breek of dop af en niemand is lus vir ure se naels regmaak nie. ʼn Vinnige regmakertjie met een laag kleur oor en jy is weer reg vir die avonture. Kry sommer van die wat in 30 sekondes droog word!

SNOEPHAPPIES
Klein pakkies neute of biltong kan wondere verrig vir ʼn leë kolletjie op jou maag. Dit sal help dat jy nie pasgetroude manlief se kop af byt as jou bloedsuiker bietjie laag raak nie.

KERSE EN ʼN BOTTEL WYN
Hierdie is ʼn wenner vir ʼn moeitelose, impulsiewe romantiese aandjie. Na ʼn aand uit of ʼn lekker ete, gaan steek die kerse aan, sit ʼn bietjie musiek op en maak die bottel wyn oop en geniet dalk een van die lekkerste aande van jou wittebrood.

Hierdie wittebroodnoodhulpboksie is ʼn eenvoudige voorbeeld, maar dit kan handig te pas kom. Jy kan nog heelwat ander items byvoeg volgens jou behoeftes. Pak dit in ʼn mooi boks, sit briefies by as jy wil en dit is werklik ʼn besonderse geskenk vir pasgetroudes oppad na hul wittebrood toe!

Foto: Texas Old Town

Written by Troukoors