Diensverskaffers 101 met De La Mas


Die diensverskaffers wat jy vir jou troue gebruik bepaal die sukses van hierdie geleentheid. De la Mas het vir An-Sophie Jonker vertel wat elke bruid moet weet.

De La Mas is ʼn troubestemming wat in Pretoria geleë is. Bruidspare is altyd bekommerd dat diensverskaffers nie die mas gaan opkom die dag van die troue nie.

De la Mas se koördineerders vertel hoe diensverskaffers wel die mas kan opkom.

“By De la Mas weet ons dat die kos een van die belangsrikste elemente van ʼn troue is. Tog verskil elke troue se tema, begroting en bruidspaar se kossmaak. Ons probeer om ʼn goue middeweg te vind, waar die begroting en waarde vir geld, jou gaste iets gaan gee om oor te praat. Ons maak ook gebruik van die beste diensverskaffers in die bedryf.”

Hier is ʼn paar van die grootste kos- en drankiegunstelinge van die hele bruilofsfees by De la Mas:

1. Die bruid en gevolg ontvang ʼn skinkbord met versnapperinge sodat almal ietsie kan nuttig terwyl daar gereed gemaak word. Dit help ook so bietjie vir die vooraf senuwees.
2. Terwyl die dames regmaak kan, die manne ʼn vinnige worsie braai en ʼn biertjie geniet.
3. ʼn Botteltjie water word aan gaste voor die seremonie verskaf, wat natuurlik ʼn lekker lafenis is terwyl hulle wag.
4. ʼn Tradisionele oestafel na die seremonie: Niks is meer aantreklik as ʼn tafel met verskillende gegeurde brode, tuisgemaakte gegeurde botters en konfyte, beskuitjies, koue vleise, vrugte en natuurlik die hoogtepunt, verskillende soorte kase nie.
5. Jenewer en tonikumwater met verskillende garnering is tans ʼn groot treffer as die bruidspaar ʼn begroting het daarvoor.
6. Roomyskarretjies of selfs spookasem skep ook ʼn lekker peuselhappie wat weer die soettande gelukkig hou.
7. As nagereg is dit ook ʼn nuwe gier om oliebolle te bedien en dit is beslis elke sent werd. Daar bly op geen van dié troues ʼn krieseltjie oor nie.

RAAD OOR DIE ONTHAAL

• Daar is ongelooflik baie spanning betrokke by die reël van ʼn troue, probeer om dit te beperk deur die beste diensverskaffers in die troubedryf te nader.
• In die bedryf is die gesegde, goedkoop koop is duur koop, baie waar. Wanneer brandstof, tyd, familieonderonsies en almal se opinies bymekaar getel word, kon jy tien teen een ʼn bloemis betaal het om asemrowende ruikers te maak. Daar is die wanpersepsie dat selfdoen goedkoper is, maar dit is nie altyd so waar nie. Dit is lekker vir die bruidjies om op so manier betrokke te wees, maar is nie altyd die goedkoopste opsie nie.
• Platejoggies moet liewer betroubare diensverskaffers wees, eerder as sommer ʼn vriend met ʼn goeie klanktoestel. Van die akoestiek tot die beheer van die mikrofoon kan ʼn groot effek op die sukses van die onthaal se heildronke tot die atmosfeer van die aand hê. Moenie vergeet dat die bruidspaar, die venue en die vriend ook ʼn stewige boete opgelê kan word en hulle toerustig gekonfiskeer kan word as hul nie by SAMRO- en SAMPRA-geregistreer is nie.
• Alhoewel julle as bruidspaar derduisende rande aan ʼn wonderlike geleentheid spandeer, moet dit nooit uit die oog verloor word dat van jou gaste nie so sentimenteel voel nie. Hulle gebruik dikwels die geleentheid as ʼn lekker “kuier” wat soms hand uitruk en baie skade aan ʼn venue kan aanrig. Wees dus bedag daarop dat die bruidspaar vir skade verantwoordelik gehou gaan word en dus ʼn kans staan om jou breekskade-deposito te verbeur of selfs nog ʼn rekening van jou venue kan ontvang.
• Tradisionele gebruike is nie meer so van pas op hedendaagse troues nie en daar kan ook baie kostes bespaar word. Amper elke naweek beland die dankiegeskenkies net so in die asdrom. Alhoewel dit ook ʼn belangrike element van jou dekor kan wees, is die tendens om iets eetbaar of bruikbaar te gee die geskenke wat wel deur die gaste waardeer word.

Gaan kyk gerus op hulle webwerf en jy sal sien dat, met sulke uitmuntende spysenieringsopsies, goeie diensverskaffers en kennis oor wat werk en nie werk vir ʼn onthaal nie, dit duidelik is dat De la Mas die mas opkom as dit kom by hulle spyseniering en onthaal.

Foto: Facebook

Written by Troukoors