Fotograaf 101 – Maak die regte besluit


Die fotograaf speel ’n groot rol in jou groot dag. Minette Badenhorst het met Image2U Photography gaan gesels oor hoe jy hierdie keuse moet maak.

Image2U Photography is passievol oor troufotografie. Hierdie getroude paartjie is bekend vir hulle opwindende en vriendelike persoonlikhede. Hulle verklap meer oor hulle besigheid en gee raad vir wanneer dit kom by die kies van ʼn fotograaf.

VERTEL ONS MEER VAN IMAGE2U PHOTOGRAPHY EN WAT INSPIREER JULLE?
“My liefde vir fotografie het begin op ʼn baie jong ouderdom, omdat ek nog altyd baie lief was vir foto’s. Ek het meer van die diere- en aksiefoto’s gehou, terwyl Christo die een was wat geduldig kon wag vir die regte oomblik.

Ek was self daardie bruidtjie wat nie ʼn fotograaf kon bekostig nie en geen idee gehad het hoe belangrik dit is om te belê in die regte een nie. Vandag is ons bitterspyt daaroor want ons het niks foto’s van ons spesiale dag nie en dit is waar ons liefde en passie vir paartjies en troues ontwikkel het. Ons het Image2U Photography in 2016 professioneel begin en vandag kyk ons nie terug nie.

Ons geniet dit om vir paartjies hulle foto’s te wys en terug te vat na die spesiale oomblikke op hulle groot dag. Daardie oomblik van liefde, geluk en nuwe drome is vir ons ’n inspirasie en die lekkerste deel van ons werk.”

WATTER STYL FOTO’S NEEM JULLE?
“Stylvol, romanties, tradisioneel, modern en tydloos. Ons is gefokus daarop om belangrike detail – van die venue tot die kos (wat jy as paartjie nie noodwendig gaan onthou nie) vir hulle vas te vang in foto’s. Ons glo in ware liefde, om dit vas te vang by elke paartjie en om die liefdesverhaal oor te sit in foto’s wat vir altyd ’n herinnering van hulle mooiste dag sal wees.”

HOEKOM MOET PAARTJIES JULLE AS FOTOGRAAF OORWEEG?
“Ons weet daar is baie fotograwe in die bedryf en die kompetisie is groot. Wat Image2U Photography uniek maak is die feit dat ons ʼn man- en vrou-span is. Dit maak ʼn groot verskil, want ons kan tred hou met hoe ons bruid en bruidegom voel.

Troues is iets wat die moeite werd is om te vier en te koester, en ons glo dat die bruidspaar verdien om verskaffers te hê wat in hulle opwinding deel. Dit maak ook ʼn groot verskil op die dag van die troue, want jy sal ’n fotograaf wil hê wat opgewonde, professioneel, ge-organiseerd, vriendelik en kalm en ook ekstra kreatief is tydens die troudag.

Ons hou daarvan om spanning te verlig sodat die bruidspaar hulle dag ten volle kan geniet. Ons gaan saam deur die troubeplanningsproses en dit gee ons die kans om die kliënt beter te leerken. Ons het ʼn passie vir elke troue wat deur ons lense beweeg en die visie om elke bruid se fantasie oor haar perfekte dag te sien, en dit maak ons ʼn sterk span fotograwe.”

IS DAAR ENIGE SPESIALE PAKKETTE WAT JULLE VIR PAARTJIES BIED?
“Ja, ons bied spesiale pakkette aan ons kliënte wat nagfotografie insluit en het huidiglik ʼn promosie aan vir paartjies wat die Silwer- of Goud-opsie by ons bespreek tussen Mei en Augustus 2019. Hulle kry dan die nagfotografie gratis by.

Nagfotografie verwys na die aktiwiteit om beelde in die nag, tussen skemer en aandbreek, vas te lê van die paartjies. Dis vreeslik romanties en die paartjies geniet dit vreeslik baie.

Kliënte kan kies uit verskeie beskikbare pakkette. Dit sluit 350 tot 800 foto’s in en afhangend van die pakket kry hulle dan ook ʼn ontwerpersalbum in ʼn pragtige boks wat uniek aan Image2U is. Al die foto’s word ook op ʼn luukse geheuestokkie gelaai. Ons verpakking is baie uniek en ons bied ook ʼn spesiale en unieke geskenkie aan die ouers, wat by sekere van ons pakette ingesluit is.

Die bruidspaar kry ook ’n spesiale slide show – wat van die foto’s en musiek in die agtergrond insluit – wat dit baie meer interessant maak om hulle dag met vriende en familie te deel.”

WATTER RAAD SAL JY AAN PAARTJIES GEE WAT BESIG IS OM OM ’N FOTOGRAAF TE SOEK?
“Ons raad aan voornemende bruidspare is om seker te maak dat jy jou fotograaf nie net vir fotostyl kies nie, maar ook persoonlikheid. Julle moet gelukkig en gemaklik wees, want die persoon gaan baie tyd saam met julle spandeer.

Om ʼn fotograaf vir jou troue te kies is ʼn baie groot besluit en daar is baie elemente wat oorweeg moet word. Sien dit as ’n belegging eerder as ’n uitgawe.

Maak seker jy kyk na genoeg foto’s of vorige troues op die fotograaf se webblad en dat jy van hulle styl hou. So behoort jy ʼn goeie idee te kry van die tipe foto’s wat hulle kan neem. ʼn Goeie fotograaf wil met hulle werk spog, so daar sal baie voorbeelde beskikbaar wees.”

Die beplanning van julle troue, die soektog na die regte fotograaf en elke oomblik van die groot dag moet ʼn aangename ervaring wees. Geniet dit, want dit gaan vreeslik vinnig verby.

Vir meer inligting oor Image2U Photography, besoek hulle webblad.

Foto: The View From The Hudson
 

Written by Troukoors