Verlowingsfotosessie vir rekenaarspeletjie-liefhebbers

’n Verlowingsfotosessie het Anrich en Madison se troubeplanning op ’n hoë noot laat afskop. An-Sophie Jonker het meer gaan uitvind oor hierdie paartjie se kreatiewe kiekies.

 

Madison en Anrich is albei groot liefhebbers van rekenaarspeletjies. Hulle liefdesverhaal het begin by rekenaarspeletjies en ses jaar later het hulle selfs rekenaarspeletjies as tema vir hulle verlowingsfotosessie gebruik.

OOR DIE PAARTJIE…

HOE HET JULLE ONTMOET EN VERLIEF GERAAK OP MEKAAR?
“Ons het mekaar bietjie meer as ses jaar gelede ontmoet deur gemeenskaplike vriende, maar die liefde het eers opgevlam nadat ons uitgevind het dat albei van ons baie van rekenaarspeletjies hou. Ons het die Mxit-gedeelte gelos en mekaar beter leer ken deur ʼn speletjie genaamd Battlefield 3.”

HOE HET JULLE DIE FOTOGRAWE GEKIES VIR JULLE VERLOWINGSFOTOSESSIE?
“Ek het geen tyd gemors nadat Anrich my op 21 Oktober 2018 gevra het om te trou nie. Twee weke later het ek die perfekte fotograwe gevind, Carolien en Ben. Ons was mal oor hulle styl en die oorspronklikheid wat in hulle foto’s sigbaar is.”

WAAROM HET JULLE BESLUIT OM ʼN VERLOWINGSFOTOSESSIE TE DOEN?
“Ons het nog nooit voorheen ʼn fotosessie saam gedoen nie, daarom het ons besluit om vir ons verlowing een te doen en omdat ons die foto’s vir ons uitnodigings wou gebruik.”

OOR DIE FOTOGRAWE…

WAT WAS DIE TEMA VAN DIE VERLOWINGSFOTOSESSIE EN HOEKOM?
“Madison en Anrich het self met die arkade-konsep vorendag gekom omdat hulle albei lief is vir rekenaarspeletjies en graag ʼn spesifieke atmosfeer rondom hulle verlowingfotosessie wou vaslê.”

WAT WAS VIR JULLE DIE LEKKERSTE VAN DIE VERLOWINGSFOTOSESSIE?
“Madison en Anrich het ʼn tipe jeugdige energie en verbintenis met mekaar wat hulle groot pret maak om af te neem. Hulle was oop om enigiets te probeer en ons het dit ten volle benut!”

HOEKOM IS ʼN VERLOWINGSFOTOSESSIE DIE MOEITE WERD OM TE DOEN?
“ʼn Verlowingsfotosessie gee ʼn paartjie die kans om die fotograaf beter te leer ken en om te ontspan en vir die fotograaf vrae te vra sonder al die druk wat met die troudag gepaard gaan. Die tydperk van verlowing is só belangrik in aanloop tot julle troudag. Dit is een van die mees gejaagde en soms stresvolle tye vir ʼn paartjie wanneer hulle hul droomdag beplan en dit word maklik oorgeslaan.”

WATTER ADVIES HET JULLE VIR PAARTJIES WANNEER HULLE ʼN FOTOGRAAF KIES?
“Dit is bitter belangrik om iemand te kies met wie se werk julle as paartjie resoneer en wat deurlopend ʼn goeie produk lewer. Dit is deesdae ʼn groot versoeking om één foto op sosiale media (veral Instagram) te sien en op grond daarvan julle besluit te neem. Kyk egter na die fotograaf se werk as geheel, deur middel van blogposts en voorbeeld-albums, want dit gaan vir julle ʼn idee gee hoe hulle die verskillende aspekte van julle dag gaan afneem en op die ou einde julle liefdesverhaal op die mees gepaste manier moontlik gaan vertel. Onthou ook dat julle fotograaf die persoon is met wie julle op jul troudag agt tot twaalf ure gaan spandeer, wees dus seker dat julle oor die weg kom en dat hulle julle belange as paartjie eerste stel.
Ons voel dit is maklik om een goeie foto te kry, maar moeilik om ʼn goeie “people’s photographer” te wees. Dit is hoekom dit só lekker is om saam met Ben te werk – saam kan ons oplet na dit wat vir die paartjie belangrik is en dit uitlig.”

WAARVAN HOU JULLE DIE MEESTE VAN JULLE WERK?
“Ons is so bevoorreg om liefdesverhale te kan vertel. Ons ontmoet soveel verskillende en interessante mense en ons sien die mooiste plekke. Vir ons is dit soveel meer as ʼn werk, dit is ʼn geleentheid om dieper te kyk, verby watter roksnit nou in die mode is of hoe relevant die tafeldekor is, dit is om mense raak te sien – hulle stories, hulle energie, hulle saamwees.”

Madison en Anrich se gemeenskaplike liefde vir rekenaarspeletjies en nog meer, hulle liefde vir mekaar, is pragtig vasgevang deur die lense van Carolien en Ben. Die verlowingsfotosessie het nie net gesorg vir baie pret vir die paartjie en die fotograwe nie, maar ook vir lewenslange herinneringe aan die spesiale tyd in hulle lewens.

Foto’s deur: Carolien en Ben, kontak hulle vir meer besonderhede!

Written by Troukoors