Hoërskoolliefdes hou troue


’n Troue was die laaste ding waaraan PJ en Carin gedink het toe hulle op skool ontmoet het. An-Sophie Jonker deel meer oor hulle spesiale dag.

Carin en PJ is hoërskoolliefdes wat na tien jaar besluit het om uiteindelik troue te hou. Selfs nie eers reën, hael of donderweer kon die hoërskoolliefdes se spesiale troudag vir hulle bederf nie.

“My en PJ se storie is een van my gunsteling-liefdesverhale wat nog ooit geskryf is. Ons is hoërskoolliefdes wat by ’n skoolsokkie ontmoet het. Sy heel eerste woorde aan my was: “Jy het my hart gesteel”. Ek het gedink hy is ʼn rokjagter en ek wou niks van hom weet nie. Ons het daarna by ʼn jeugprogram by ons kerk op Sondagaande mekaar beter leerken en ek het besef ek was verkeerd. Dit was nie lank nie toe is ons albei smoorverlief op mekaar. Oor die jare het ons gegroei en so het ons verhouding ook sterker geword. Hierdie jaar is ons al 10 jaar saam, maar dit voel maar net soos ʼn paar maande. Ons is ongelooflik dankbaar vir ons storie en dat ons bevoorreg is om so groot deel van mekaar se lewens saam te kon ervaar.”

ONS TROUE

“Ons het eintlik van die begin af saamgestem dat daar net drie dinge is wat vir ons belangrik is op ons troue:

1) Ons wil dit deel met die mense wat ons lief het.

2) Ons wil dit net geniet.

3) Ons wil ons liefde vir mekaar vier.

Natuurlik raak ’n mens baie keer vasgevang in al die reëlings van die troue, maar op die ou einde moet jy net weer al jou varkies op hok kry en onthou wat belangrik is. Ons het baie gehou van ʼn woudagtige gevoel in die berge met ʼn buitelugseremonie. Ons wou trou naby waar ons groot geword het en verloof geraak het. Ons dag het glad nie uitgedraai soos ons dit verwag het in terme van die weer nie. Net toe ek by die venue stop, het die hemel oopgebars en dit het begin sous. Dit het gereën, gehael en die donderweer het geslaan, maar ons het dit nie in ons pad laat staan nie. As ons vandag terugkyk na ons perfekte troue sou ons dit nie enige ander manier wou gehad het nie.”

ONS FOTOGRAAF…

“Ons het deur, wat voel soos ʼn duisend, fotograwe se webtuistes en foto’s gesif om te besluit op ʼn fotograaf, maar ons het nie gevoel asof enige van hulle se styl en die gevoel van hulle foto’s deurgedring het na ons toe nie. Een aand was ek weer op een van my soektogte, toe kom ek op Carolien and Ben Photography se werk af. Ek het dadelik geweet hulle gaan perfek wees vir ons troue. Van die heel begin af was Carolien ongelooflik vriendelik en behulpsaam. Dit het dadelik vir my gevoel asof hulle die hele pakket is. Dit is ook goed om ʼn verlowingsfotosessie te doen saam met die fotograaf wat julle op julle troudag gaan afneem. Vanuit ʼn getroude paartjie se oogpunt berei dit jou voor om voor die kameras te wees en te weet wat om te verwag op julle troudag.”

Carin en PJ se woudagtige, buitelug-troue sal hulle vir altyd koester en onthou. Vir die Hoërskoolliefdes het stormagtige weer op hulle troudag nietemin gepla nie, hulle het net weer besef selfs deur die storms van die lewe, is hulle liefde vir mekaar al wat saak maak.

DIENSVERSKAFFERS
Troulokaal: Cheerio Gardens
Dekor en blomme: Bride in Bloom
Skryfbehoeftes: Piekfijn
Foto’s: Carolien en Ben Photography
Rok: Bridal Room
Hare en grimering: Angelique Nel
Strooimeisierokke: Gelique

Written by Troukoors