5 Skoonheidswenke vir ’n bruid: Die dinge waaraan ons nie dink nie


Skoonheidswenke vir jou troudag kom altyd handig te pas. Claudio Caldeira van Glo Beauty het raad vir die klein probleempies waaraan niemand voor die tyd dink nie.

Elke jong meisie wat trou wil graag op haar troudag die rustige, kalm en koel bruid wees. Maar wanneer daardie groot dag aanbreek is dit nie altyd die geval nie. Een van die grootste stresfaktore van die dag is natuurlik hoe jy gaan lyk op die dag en hoe jy kan voorkom dat enigiets skeefloop.

Dit is belangrik om voorbereid te wees. Daarom het ons ’n paar skoonheidswenke en –toertjies wat oorweeg kan word voor die groot dag.

WENK #1 – DIE WENKBROU-WENK

Kry daardie wenkbroue onder beheer, girl. Ek weet nie of dit net ’n onlangse ding is nie, maar amper elke liewe bruid maak hulle wenkbroue opvallend en onnatuurlik donker op hulle troudag. Jy moet jou bates beklemtoon, soos die grimeerkunstenaar sal sȇ, en dit is verstaanbaar. Maar die meerderheid bruide kan dit soms oordoen en hulle wenkbroue pikswart maak (yikes) en sodoende die aandag van haar oë of selfs lippe wegneem. ’n Mens kry ook natuurlik die teenoorgestelde. Sommige bruide sal weer nie eers hul wenkbroue liggies donkerder maak nie. In so ’n geval is die kontras tussen die amper-blonde wenkbroue en die bloedrooi lippe of swart oogpotlood heeltemal te groot.

WAT KAN JY DOEN?

Microblading is ’n tatoeëringstegniek waarin ’n klein toestel met verskillende klein naalde gebruik word om semi-permanente pigment aan die vel te voeg. Ons wenk is dan om van die tegniek gebruik te maak so ’n maand voor jou troudag. Deur jou wenkbroue te microblade, sorg jy dat hulle en voorkom jy dan dat jy heeltemal oorboord gaan met jou wenkbroue op die dag tot op die punt wat dit lyk asof jy dit met ’n permanente merker ingekleur het.

WENK #2 – DIE LEPELTEGNIEK

Hierdie een is ’n wenk vir die oggend van die troue. Alhoewel almal vir die bruid die vorige aand herinner: “Jy moet nou jou skoonheidslapie gaan inkry”, weet ons dat dit makliker gesê is as gedaan. Die gevolg van ’n rustelose nagrus, is natuurlik pofferige oë. Sakke onder die oë is genoeg rede om ’n bruid effens angstig te maak nog voordat die dag eers begin het. Ons het ’n maklike en 100% effektiewe oplossing vir die krisis – ’n Eetlepel.

Neem die eetlepel, skep vir jou ’n groot happie Nutella en eet dit. Dan is al die wêreld se probleme opgelos. Jy’s welkom.

Ha ha, grappie (As dit maar net so maklik was). Die metode werk so: Maak seker jy onthou om die aand voor die tyd ’n eetlepel in die vrieskas te bêre. Wanneer jy dan wakker word neem jy die yskoue eetlepel, gebruik die ronde agterkant van die lepel en rol dit oor die sakkies onder jou oë asof jy dit uitvryf. Hierdie metode is een wat werk en sal jou gou-gou help om ontslae te raak van pofferige oë. Bekende aktrise, Donnalee Roberts wys in ’n YouTube-video hoe sy van hierdie einste tegniek gebruik maak.

WENK #3 – BEDERF JOUSELF

Hierdie is die een tydperk in jou lewe waar jy een honderd persent selfsugtig kan wees en jouself so ’n bietjie kan bederf. Sodra jy trou, kyk jy na jou man ook en sodra jy kinders kry word hulle jou prioriteit. Geniet die verloofwees-fase ten volle en maak seker jy bederf jouself!

Dit bring ons by wenk nommer drie. Bittermin jong meisies se velle is perfek. Almal droom van ’n gladde, skoon, gloeiende vel op hulle troudag. Maar ongelukkig het die meeste van ons letsels, ’n puisie van tyd-tot-tyd, pigmentasie, sonvlekkies en selfs ’n paar plooie. Ons wenk aan jou is, begin sowat ses maande voor jou troudag al gaan vir gesigbehandelings of facials. Maak ’n afspraak by ’n goeie skoonheidsalon, gesels met ’n opgeleide terapeut sodat sy vir jou aanbevelings kan gee vir die regte velbehandeling vir jou gesig en kry daardie mooi gesig van jou in die beste velkondisie moontlik vir jou groot dag.

WENK #4 – ’N SEEPGLADDE DAG

Elke bruid wil seker maak dat sy van haar kroontjie tot haar toontjie perfek reg is vir haar groot dag. Selfs as dit kom by die hare op haar lyf. Jy wil tog nie mis skeer en iewers ’n random rytjie hare op jou bene aantref as jy klaar gebad het nie. Of nog erger, jy wil beslis nie jou ruiker agteroor gooi en die mense laat snak na hulle asem wanneer hulle jou ongeskeerde onderarmhare aantref nie. (Eeew). Hoe ookal dit sê, ’n bruid wil gewoonlik alles onder haar wimpers haarloos hê. Daarom die vierde wenk. Laserbehandeling. Hierdie nuwe gier is beslis een wat gaan bly en mense glo dat laserhaarverwydering die nuwe waks is, minus die ongelooflike pyn natuurlik.

Laserhaarverwydering sal nie net seker maak dat jy glad nie oor hare hoef te bekommer die dag wat jy trou nie, maar maak ook verseker dat jy geen ingroeihare, uitslae of pigmentasie sal hê nie. Hoewel dit een van die duurder opsies is, is hierdie roete, die beste een om te vat. Oortuig jou strooimeisies om in plaas van ander geskenke, eerder saam te span om vir jou ’n laserhaarverwyderingspakket  te koop om daai dag vir jou ekstra glad te laat verloop.

WENK #5 – LUISTER VIR MAMMA

Die luister-vir-mamma wenk is een wat ons seker is jy by sal aanklank vind. Drink baie water, moenie stres nie en maak seker jy kry genoeg slaap. Hierdie is ’n bladsy reguit uit die “Dinge wat jou ma altyd vir jou sê”-boek en ons glo dit is nie te versmaai nie. Die wenk mag dalk net die belangrikste een van die lot wees. Wanneer jy water drink voed jy jou vel van binne na buite. Genoegsame water-inname sal verseker dat jy ’n mooi vel het op jou troudag maar dit is beslis ’n gewoonte om aan te leer as jy wil hê jou vel moet op julle dertigste huweliksherdenking lyk soos op jou troudag. Moenie stres nie, jou ma is reg. Wanneer jy stres, reageer jou lyf daarop. Wanneer iemand stres kan jy dit dadelik opmerk aan die vaal kleur van hul gesig gepaard met donker kringe onder die oë. So vat ’n chill-pil soos hulle sȇ. Slaap genoeg. Geen verduideliking nodig nie, jy wil mos nie moeg lyk op jou troudag nie.

So daar het julle dit. Volg die vyf stappe om te verseker dat jy op jou groot dag op jou absolute beste lyk en voel.

Claudio Caldeira is ’n skoonheidskenner met sy eie skoonheidsalon, Glo Beauty, Pretoria. Hy deel elke maand nuttige skoonheidswenke vir die bruid en haar gevolg. Vir meer inligting oor die behandelings wat hy aanbied, of om ’n afspraak te maak, skakel 012 992 6041 of 062 776 7744.

Written by Troukoors