Kyle Grant se raad vir julle eerste Kersfees as getroudes


Kersfees is om die draai en dalk is dit julle eerste een as Mnr. en Mev. Kyle Grant, wat onlangs sy eerste solo-enkelsnit uitgereik het, gee raad om hierdie geleentheid onvergeetlik te maak.

Kersfees kan ’n baie romantiese en betowerende tyd wees vir pasgetroudes. Dit is ’n tyd van liefde en samesyn en is een van daardie mylpale wat beslis ’n spesiale benadering verdien. Net vir hierdie een jaar, is dit dalk goed om die fokus op julle – as paartjie – te plaas en so tussen die familiefeeste tradisies van julle eie te begin.

Kyle Grant, voorheen die hoofsanger van die groep ADAM, het pas sy eerste solo-enkelsnit uitgereik en dit is juis ’n pragtige Kersfeesnommertjie met die naam, Grown-Up Christmas List. Hierdie kersballade, is ’n inspirerende gesprek met Kersvader vanuit ’n volwassene se perspektief en pas sy pragtige stem soos ’n handskoen. Dit is beslis iets om tydens julle eerste Kersfees saam op julle musiekspeellys te sit. Laai dit af op digitale platforms soos iTunes of Spotify.

Die musiekvideo is ook pas uitgereik. Kyk dit hier!

Kyle is al vir ’n paar jaar gelukkig getroud en hy en sy vrou, Elizca, beplan om binnekort ’n gesin saam te begin. Hy gee raad oor hoe julle die beste kan maak van julle eerste Kersfees saam:

* Die tyd wat julle saam spandeer is die belangrikste, nie die prys van die geskenke nie.

* Neem baie foto’s. Eendag sal daardie oomblikke “priceless” wees.

* Moenie te diep in die bottel kyk nie. Julle wil darem hierdie Kersfees onthou in die jare wat voorlê.

* Spandeer julle eerste Kersfees saam op ’n plek wat goed is vir julle albei se siel. ’n Plek waar julle mekaar 100% kan vier en net julself kan wees.

* Los maar die dieet vir Nuwejaar. Eet soveel en net wat julle wil en moet julle nie steur aan ander se kommentaar nie.

Natuurlik kan jy ook jou vrou of man se knieë lam maak as jy so ’n mooi stem het soos Kyle en ’n spesiale serenade of twee vir hom of haar kan doen.

Maak julle eerste Kersfees ekstra-spesiaal en laat elke oomblik tel!

Foto’s: Facebook

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Written by Troukoors