Kersete vir jou skoonfamilie


Om ʼn kersete te hou is gewoonlik baie pret, maar jou eerste een saam met die skoonfamilie kan dalk effens stresvol wees. An-Sophie Jonker het raad.

As jy die gelukkige wenner is om jou skoonfamilie vir kersete te onthaal, is hierdie artikel net vir jou. Ons deel vyf wenke oor hoe om jou eerste kersete saam met jou nuwe skoonfamilie seepglad te laat verloop!

  1. GOEIE BEPLANNING

Dit is baie belangrik om voor af jou spyskaart deeglik te beplan. Dink mooi na oor watter geregte jy vir jou skoonfamilie wil voorsit. Beplan watter bestanddele jy alles gaan nodig hê en maak seker jy gaan koop dit vroegtydig, sodat die teleurstelling van leë rakke jou nie in die gesig staar op Kersdag nie. Beplan ook hoe jy die geregte gaan voorberei en hoeveel tyd dit gaan neem. Doen soveel as moontlik van jou voorbereiding voor jou skoonfamilie by jou huis opdaag en maak alle kos wat ʼn bietjie kan staan vooraf. Jy sal baie minder gestres voel as jy weet jy het nie meer baie werk oor nie en nog meer as daar nie klomp oë op jou is as jy kos maak nie.

  1. ALLERGIEË

Maak seker jy vind voor die tyd uit of iemand in die familie allergieë of spesiale dieetvoorkeure het. Moenie net aanneem almal eet alles nie, selfs al maak jy nie eers volksvreemde disse nie. Jy wil nie iemand ongevalle toe jaag as gevolg van jou kersete nie en nog minder bakke vol kos oorhê omdat daar iets in is wat jou gaste nie eet nie.

  1. VELE HANDE MAAK LIGTE WERK

Steek vir skoonma en skoon-ouma aan die werk. Dit sal help om die las op jou skouers ligter te maak, maar jy sal ook nie volle verantwoordelikheid hoef te neem vir die kos op die tafel nie. Hulle sal baie geëerd voel dat jy hulle vra om te help, want dit beteken jy vertrou hulle genoeg om hulle in jou kombuis en jou spasie toe te laat. Hê die vrymoedigheid om vir hulle voor te sê watter gereg om te maak, of om hulle eie gereg te maak. Op beide maniere sal hulle voel jy betrek hulle by die kersete.

  1. IETSIE SPESIAAL

Probeer om ietsie spesiaal vir jou dekor op die kerstafel te doen. Dit kan ʼn foto wees van iemand spesiaal in die familie wat nie meer om die kerstafel is nie, ʼn klein persoonlike geskenkie vir elkeen of ʼn dankiegeskenkie. Gebruik jou kreatiwiteit. Dit sal almal sommer ekstra spesiaal en welkom laat voel by jou kersete.

  1. SKINK ʼN GLASIE WYN EN WEES JOUSELF

Kersfees is ʼn tyd van samesyn en feestelikheid. Dit is ʼn groot voorreg om dit saam met iemand, nog meer saam familie te spandeer. Wees dankbaar vir die Seun wat vir ons gebore is, wees dankbaar vir jou man en lewensmaat en wees dankbaar sy familie kan aan jou kerstafel aan sit. Moenie te veel bekommer oor die klein goedjies nie, want dan gaan dit vir jou voel of alles skeefloop. Skink ʼn glasie wyn en wees jouself, die vrou vir wie jou man lief is, want sy familie is lief vir jou vir dieselfde redes.

Om ʼn kersete vir jou skoonfamilie te hou kan ook pret wees en hoef nie ʼn stresvolle affêre te wees nie. Met goeie beplanning kan jy jou tyd optimaal bestee en enige onverwagte krisisse sommer dadelik uitskakel. Betrek jou skoonfamilie by die ete om almal welkom en deel van jou tafel te laat voel. Wees kreatief en laat elkeen ekstra spesiaal voel. Wees jouself en geniet die samesyn en die voorreg om familie om jou tafel te hê!

Foto: Freepik

Written by Troukoors