As jy jou troue moet uitstel


Suid-Afrikaners is van Vrydag af huisgebonde en paartjies wat binne die volgende twee maande sou trou, gaan moet uitstel. Hanteer dit so om dit vir jouself en almal anders makliker te maak.

Om die verspreiding van die wêreldwye Koronavirus-epidemie te bekamp, het President Cyril Ramaphosa gisteraand aangekondig dat Suid-Afrikaners vir die volgende maand huisgebonde gaan wees.

Omgelukkig beteken dit ook dat julle jul troudag gaan moet uitstel omdat niemand mag reis in hierdie tyd nie.

Alhoewel dit ontstellend en frustrerend kan wees, beteken uitstel darem nie afstel nie en gaan jy moet kophou om jou groot dag… na ’n ander datum te skuif. Wie weet, dalk is hierdie nog ’n bedekte seën en gaan jou tweede datum nog beter wees as die eerste een!

LAAT WEET JOU GASTE
Behalwe as julle besluit om in die hof te gaan trou en om alles te kanselleer, gaan julle die datum moet uitstel en is dit nodig om julle gaste dadelik van hierdie planne te verwittig.

Alhoewel julle nie noodwendig dadelik ’n nuwe datum gaan hê nie, kan jy solank ’n WhatsApp-broadcast of e-poslys skep met een boodskap wat dan aankondig wat julle planne is.

Wenk: Oulike visuele boodskappe, met pittige sêgoed kan help om die bui te lig!

*** Hou ons blad dop vir voorbeelde!!

Hierdie platforms kan dan weer gebruik word om gaste te laat weet sodra die nuwe datum is plek is. Dit sal jou uitgawes beperk – veral as jy ’n mooi elektroniese uitnodiging doen om die nuwe datum aan te kondig.

Trouwebblaaie kan ook hiervoor gebruik word… en ouer mense kan met ’n oproep laat weet word.

GESELS MET JOU VENUE
Kontak jou venue en gesels oor wat die proses is wanneer jy jou troue moet uitstel. Omdat hulle net soveel hierdeur geraak word as jy, behoort hulle meer as gewillig te wees om die datum te herskeduleer.

Vra onmiddellik hulle beskikbare datums aan vir die res van die jaar en kies ’n veilige opsie… hoe gouer jy dit doen, hoe gouer is die nuwe datum vas en kan jy alles in orde kry.

As hulle geen datum beskikbaar het waarin julle belangstel nie, kan julle kyk na uitstel tot 2021 of jou deposito verbeur en ’n nuwe venue soek.

Indien gelde reeds oorbetaal is, sal beide partye moet regshulp inkry, aangesien hierdie omstandighede nie in enigiemand se beheer is nie.

WEES REDELIK MET DIENSVERSKAFFERS
Elke diensverskaffer wat in die troubedryf werk, wil graag hulle verpligtinge nakom en sy/haar werk deel maak van julle spesiale dag.

Aangesien die Koronavirus in niemand se beheer is nie, is dit belangrik om redelik te wees. Net soos met jou venue en gaste, moet jou diensverskaffers ook in kennis gestel word dat julle die troue gaan uitstel.

Nuwe beskikbare datums moet ook aangevra word, sodat daar so min as moontlik van jou troue hoef te verander.

Lees ook elke verskaffer se terme en voorwaardes deur voordat jy hulle kontak.

Indien van jou diensverskaffers nie meer beskikbaar is op die nuwe datum nie, gaan jy beslis jou deposito verbeur.

Albei partye moet regshulp inkry indien gelde reeds vereffen is, aangesien hierdie spesiale omstandighede is.

Onthou dat jou diensverskaffer groot skade gaan ly in hierdie tyd… deur redelik te wees en hulle dalk eerder dan vir ’n volgende geleentheid te gebruik – eerder as om jou geld terug te vra – indien hulle nie jou troue kan maak nie, kan hulle help om deur hierdie moeilike tyd te kom.

MOENIE BRIDEZILLA WORD NIE
Op die ou einde van die dag, verdien jy ’n baie spesiale troue en jy kan dit steeds kry… jy moet net ’n rukkie langer wag. Moenie mense nou onnodig wegstoot of seermaak omdat jy ontsteld is nie. Hierdie is nie die einde van die wêreld nie en die son sal weer skyn.

Maak die beste van jou tyd in kwarantyn en doen goedjies wat die uitstel van jou troue die moeite werd maak… soos handgemaakte dankiegeskenkies waarvoor jy nie andersins sou tyd kry nie, of oefen om kolwyntjies te versier en maak jou eie troukoek (en gebruik jou bakker wat nie op jou nuwe datum beskikbaar is nie vir jou ma se vyftigste verjaardag)!

Dis wat jy van die situasie maak wat tel. Sterkte vir almal in hierdie moeilike tyd.

Foto: Hip-Hip Hooray

Written by Troukoors