Verona Goslett vier die liefde… al moes sy haar troue uitstel

Gelukkig laat die liefde hom nie onderkry nie, nie eers deur ’n pandemie wat troudagdrome en lewens verwoes nie.

Omroeper, televisieaanbieder en joernalis, Verona Goslett, het pas ’n pragtige ballade oor die liefde met die naam, Voorwaardes, bekendgestel.
Alhoewel sy dit graag vir haar verloofde sou wou speel op hulle troue, moes hulle hierdie spesiale dag uitstel as gevolg van die Covid-19 pandemie. Dié siekte kon haar egter nie keer om wel dié liedjie, wat sy spesiaal vir hom geskryf het, met die publiek te deel nie.

Ons het met haar gaan gesels oor die liedjie en die liefde.

WAAROOR GAAN VOORWAARDES EN WAT IS DIE GENRE?

“Hierdie is ’n liedjie oor die liefde. Dit gaan oor die voorwaardes wat jy het vir die persoon wie jy liefhet. Dit is daardie reëls wat nagekom moet word vir as jy my wil hê, maar hierdie voorwaardes is eintlik ten voordeel van beide in die verhouding. ’n Mens kan amper sê dis lekker voorwaardes, goeie reëls wat die verhouding sal bou en laat hou.”

WAT WAS DIE INSPIRASIE AGTER DIE LIEDJIE?

“Hierdie liedjie kom reg uit my hart uit. Ek het dit een aand geskryf vir een spesifieke persoon in my lewe. Hy het al vir ’n hele wyle my hart by hom en ek skryf toe vir hom “voorwaardes” om hierdie hart te bewaar. Die koorgedeelte sê juis aan hom:

So ek gee jou voorwaardes                                                                                       

Vat my hart en bewaar dit                                                                                   

Dan’s ʼn stukkie van my by jou                                                                                     

Moenie twyfel nie, doen dit gou                                                                                   

Dit is my voorwaardes.”

VERTEL ONS MEER VAN JULLE TROUE WAT AFGESTEL MOES WORD?

“Ek sou Voorwaardes op ons troudag vir my verloofde gespeel het. Ek het dit juis vir hom geskryf. Ons troue is ongelukkig al aan die begin van die grendeltydperk uitgestel tot ons eendag wel ons bruilof kan hou. Intussen kon ons nog nie trou nie as gevolg van die grendeltydperk se regulasies. Ons harte is baie seer daaroor, maar dan besef ’n mens daar is soveel groter dinge wat aan die gebeur is en dat ons so baie het om voor dankbaar te wees.”

Voorwaardes volg in die suksesvolle voetspore van haar vorige treffers, Maskers, Sterker en Verloor Myself In Jou, wat baie goed ontvang is en op die trefferparades van verskeie radiostasies gekuier het. Beide snitte kan nog gereeld oor die radio gehoor word.

Verder vorm dit ook deel van haar debuut-album wat in Junie 2018 uitgereik is, net voordat sy deurgedring het na die uitkloprondtes van die realiteitsreeks, The Voice SA, nadat sy die beoordelaars beïndruk het met haar hartroerende weergawe van Avril Lavigne se Head Above Water tydens die blindeoudisies. 

Sy beskou haar deelname aan dié reeks as een van die hoogtepunte van haar musiekloopbaan sover: “‘The Voice SA’ was een van die beste leerskole en ervarings wat ek in my lewe gehad het. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek sal ook die vriendskappe wat ek daar gemaak het vir ewig koester.”

Verona, wat in Meyerton woon, was vier toe haar talent ontdek is. Haar tannie sou haar by die skool kom optel en dan sou die twee uit volle bors sing op pad huis toe. Later is haar ma aangesê om haar vir sanglesse te stuur. Op 8-jarige ouderdom het Heidi Schoeman van die Ateljee van Uitvoerende Kunste haar ingeneem en het sy haar eerste liedjie by die Vereeniging Kunstefees opgevoer waarvoor sy ’n A++ gekry het. Gedurende haar skoolloopbaan het sy gereeld aand Eisteddfods, skoolkonserte en kunstefeeste deelgeneem. Sy het ook haar Trinity Concert Certificate voltooi. Vir vier jaar was sy deel van die Suid-Gautengse Jeugkoor, CollaVocé. Sy het so ’n bietjie musiekteorie gedoen, speel klavier en kitaar en probeer altyd nuwe uitdagings aanpak soos om die ukulele te bemeester.

Na skool het sy eers besluit om haar sangloopbaan opsy te skuif om te gaan studeer. By die Noord-Wes Universiteit se Vaaldriehoekkampus het sy haar honneursgraad in joernalistiek voltooi. Gedurende hierdie tyd het sy die kans gekry om vir wyle die karakter, Brionay, in 7de Laan te vertolk en was ook naaswenner van die realiteitsreeks op kykNET, Jy is my liefling. Sy en haar goeie vriend, Llewellyn du Plessis, was ook die vervaardigers en aanbieders van die ASTV-reeks, Vir Ewig en Altyd, wat oor die troubedryf gehandel het. Vir ʼn jaar lank het sy ook as omroeper by 90.6 FM Stereo, die Vaaldriehoek se plaaslike radiostasie, as mede-aanbieder van die ontbytprogram gewerk. As sy nie sing nie, is sy ook ’n knap joernalis en ’n sosialemediaspesialis.

Tans is sy, net soos baie ander, besig om van die huis af te werk om die pot aan die kook te hou. “Ek is besig met my eie besigheid, maar werk ook vir ’n tydskrif waar ek hul sosiale media beman en joernalistieke- en aanbiedingswerk doen,” gesels die musikant. “Op die stadium is dit ook moeilik om vir die onmiddellike toekoms te beplan. Alles is vreeslik deurmekaar, maar intussen probeer mens maar innoverend wees en geleenthede raak sien wat die toekoms kan beter maak.”

Die deernis en opregtheid waarmee Verona die lirieke van Voorwaardes met haar sterk stem deur elke noot verweef, tref diep en behou die luisteraar se aandag tot aan die heel einde. Hierdie liedjie is ’n bewys van hoeveel diepte die sangeres het om te bied en gaan beslis gewild wees by spesiale geleenthede.

Kry die enkelsnit op iTunes, Google Play, Deezer en Spotify.

Liefde wen op die ou einde altyd, want wanneer alles anders chaoties is, is dit wat jou staande hou.

Written by Troukoors