Troue by die rivier op ’n lente-oggend


’n Troue in die lente was presies wat Theo en Nicole Strydom wou hê. An-Sophie Jonker verklap meer oor hulle spesiale dag.

Rustig, spesiaal, emosiebelaai en tasbare liefde is die perfekte beskrywing van die troue waarvan hierdie oulike paartjie gedroom het en wat moontlik gemaak is deur hulle baie bekwame diensverskaffers.

ONS STORIE…
“Ek het Theo ontmoet as een van my kliënte. Een van ons werksafsprake het in ʼn laataand-koffieafspraak verander. Ons het daarna ’n paar onskuldige afsprake gehad. ʼn Foto op sy lessenaar van sy Staffie het my nog meer verlief gemaak op hom. Ek het verlief geraak op sy sagmoedige hart en die manier waarop hy Jesus se liefde reflekteer na almal wat hy ontmoet. Ek het eintlik al gedroom oor hom as my man, voordat ons vriende geword het. Ons het deur baie moeilike tye gegaan terwyl ons uitgegaan het, waarin ons baie saam gebid het en dit het ons verhouding net sterker gemaak.”

ONS VERLOWING…
“Theo het my Parys toe gevat om my te vertel van sy oupa se betrokkenheid in die bouery van die meeste geboue in die dorp. Hy het my ook gewys waar sy ouers verloof geraak en troue gehou het. Ons het later na die hangbrug gaan kyk. Ek het met sy pa gestaan en praat en toe ek omdraai, staan Theo op sy een knie. Sy ouers was daar om dié groot oomblik met ons te deel, wat dit net nog meer spesiaal gemaak het. Ons het in September 2018 verloof geraak en September 2019 getrou.”

ONS TROUE
“Pinterest was my grootste bron van inspirasie en Sonja van Sophia’s was absoluut my steunpilaar. Sy het die mooiste idees gehad vir ons blomme en dekor. Ons kleurskema was blosblou en sagte pienk. Dit was ʼn ligte, gelukkige, lentetroue, met ʼn baie rustige atmosfeer. Die meeste van ons vriende het gesê dit was die rustigste troue waarby hulle al ooit was. Als het so mooi uitgedraai en die dag was so spesiaal. Ek huil elke keer as ek na die video kyk. Die toesprake was baie emosioneel en spesiaal. Ek was baie kalm deur al die reëlings, maar daarvoor moet ek al my verskaffers bedank. Hulle was wonderlik en het almal ʼn ekstra myl vir ons geloop. My oupa is twee maande voor ons troue oorlede en die oggend voor ons troue het ek op die balkon gestaan en kyk hoe die gaste kapel toe stap. Ek het my oupa saam met die gaste sien stap. Ek het besef hy is in gees saam met ons. Dit was baie spesiaal.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Moenie bekommerd wees oor die klein goedjies nie. Geniet elke oomblik van julle beplanning. Neem eerder te veel as te min foto’s van jou troue, die dag gaan ongelooflik vinnig verby.”

WATTER DIENSVERSKAFFERS HET JULLE DAG EKSTRA SPESIAAL GEMAAK?

  • Sonja van Sophia’s
  • Zonja van Creatric M
  • Michelle van Unmissable

“Hulle almal het my so spesiaal laat voel en nie net soos nog ʼn bruid waarmee hulle besigheid doen nie. Hulle is almal baie spesiaal en het baie talent.”

Nicole se droom het letterlik waar geword die dag toe Theo haar vra om sy vrou te wees en hulle ʼn jaar later die knoop deur gehaak het op ʼn pragtige lente-oggend. Inblos blou en sagte pienk het hulle, hulle baie spesiale, rustige en emosiebelaaide troue gevier. Dit was ʼn heerlike lente vir die nuutgetroudes.

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördineerder en spyseniering: Pont de Val
Blomme en dekor: Sophia’s
Verhurings: Meraki
Skryfbehoeftes: Creatric M
Fotograaf: Stephanie Grace Photography
Trourok: Helen Fontaine
Hare en grimering: Unmissable Makeup
Bruidegom se uitrusting: Eurosuit

Written by Troukoors