’n Toepassing om gaste na jou troue te nooi


’n Toepassing wat troubeplanning maklik en vinnig maak, is beslis die ideaal. Veronique Joseph verklap hoekom dit modern en die moeite werd is om hierdie roete oorweeg.

Troubeplanning kan ’n groot uitdaging wees en kan baie stres veroorsaak. Bruide word oorweldig deur raad, idees en begrotings en soms weet jy nie waar om te begin of waar om kostes te sny nie. Daar is gelukkig ’n helder lig in die donker tonnel. Jy kan nou baie geld spaar deur jou uitnodiging op ’n toepassing te ontwerp om via e-pos of WhatsApp te stuur. Hoe werk dit?

Jy ontwerp jou uitnodiging op ’n toepassing soos byvoorbeeld weddinginvitationapp.com en deel die skakel dan met jou gaste. Dis baie meer georganiseerd en die beste van alles is, dat jy al jou troufoto’s op die toepassing kan laai na die troue en so ook maklik met almal kan deel.

Gaste kan ook op die toepassing antwoord of hulle troue toe kom of nie, wat baie oproepe en tyd sal spaar!

Hier is nog ’n paar voordele daarvan om jou uitnodiging deur middel van ’n toepassing te doen:

GOEDKOOP EN VINNIG

Drukwerk en posgeld is duur en kan soms lank vat of verkeer uitkom. Met ’n toepassing is jy in beheer en skakel jy baie ekstra kostes uit.

DIS OMGEWINGSVRIENDELIK

Eko-bewuste bruide kan nou rustig wees met die wete dat haar uitnodigings nie bome beskadig nie. Dit spaar haar ook baie werk, omdat niks gepos, gevou of versier hoef te word nie.

DIE TOEPASSING HET MEER FUNKSIES

Omdat almal met die toepassing verbind is, maak dit kommunikasie maklik. Nou kan jy vinnig uitvind watter liedjies jou gaste aanbeveel vir jou groot dag of wie watter dieetvoorkeure het.

Die ligging van die troulokaal kan moeiteloos met gaste gedeel word en julle geskenkregister kan maklik gedeel word.

Party toepassings sal selfs jou gaste toelaat om self te besluit waar hulle wil sit, wat baie stres kan uitskakel.

Oorweeg gerus om ’n toepassing te gebruik en ontwerp iets waaroor jou gaste nog vir lank gaan praat. Om troue te beplan, was nog nooit so maklik nie!

Foto: My Postcard 

Written by Troukoors