Liefde is MNW Photography se inspirasie


’n Liefde en passie vir wat hulle doen en die kosbare oomblikke tussen
die paartjies wat hulle afneem, is die grootste rede hoekom
MNW Photography doen wat hulle doen.
Minette Badenhorst het meer hieroor gaan uitvind.

MNW Photography is ʼn man- en vrou-span, wat altyd die mooi in alles raaksien. Hulle word geïnspireer deur liefde en skakel dit dan om in die pragtige foto’s wat hulle met passie vasvang. Ons het meer gaan uitvind oor hierdie besonderse besigheid.

VERTEL ONS MEER VAN MNW PHOTOGRAPHY EN WAAR JULLE BEGIN HET?
“MNW Photography is as ʼn besigheid omskep uit ’n passie om liefde met die lens vas te vang. Ons liefde vir ons werk asook vir mekaar word geïnspireer deur die verhoudings van al die paartjies waarmee ons werk en ons wil dit met ons werk met ander deel.”

WAT IS JULLE FOTOGRAFIE-STYL?
“Ek en Quinton is albei lief vir natuurlik of ‘onbewese’ portrette en ons gee baie leiding aan ons paartjies om die perfekte voorkoms in ons stil of bewegende films te behaal. Ek maak dit my nommer een prioriteit om hulle so gemaklik as moontlik te laat voel. Ek doen die stilfoto’s, terwyl Quinton die bewegende film skiet. Ons manier van neem is baie vloeiend en gemaklik, dus sal die paartjie voel asof ons nie eers daar is nie. Om rou en natuurlike liefde vas te vang, is ’n prioriteit. Ons styl is baie lig, sag en gloeiend. Dit word geïnspireer deur filmbeelde (die sort wat net in ʼn donkerkamer ontwikkel kan word). Kliënte beskryf ook ons werk as dromerig, en dis ’n groot kompliment.”

WAT MAAK JULLE UNIEK EN WAT BIED JULLE EKSTRA AAN JULLE PAARTJIES?

“Die feit dat ons self ’n paartjie is, het voordele. Ons werk soveel makliker saam omdat ons mekaar se werk en bewegings ken. Ons kommunikeer ook baie goed, soms net met ons lyftaal. Die lekkerste deel is, dat ons tydens paartjiesessies mekaar kan gebruik om te demonstreer. Op hierdie manier stel ons die paartjies ook op hulle gemak. Ek neem die bruid en haar gevolg af, en terselfdertyd neem Quinton die bruidegom en sy gevolg af. Dus kry altwee dieselfde tyd en aandag.”

WAT SAL JY SÊ LAAT JULLE UITSTAAN?
“Wat ons meer laat uitstaan oor al die ander is die feit dat ons van die oomblik wat julle op ons besluit julle dra op ʼn silwer skinkbord. Ons help gerus ook met alle tipe goedjies al het dit absoluut niks met fotografie of videografie te doen nie, omdat dit deel is van kliënte se spesiale dag en ons offer ons tyd op tot en met na ons die finale pakkette gelewer het (en soms nog langer daarna). Ons hou daarvan om op ʼn persoonlike vlak ʼn band met ons paartjies te vorm, sodat ons die regte beeld van hulle, hul liefde en hulle outentieke storie kan vasvang. Die keuse van albei foto- en videograaf-span soos ons s’n is uniek en dit is vir ons ʼn groot eer wanneer ons bo al die ander raak gesien word en deel kan wees van ʼn paartjie se troubeplanningsproses.”

WATTER UNIEKE PAKKETTE BIED JULLE AAN PAARTJIES?
“Ons het verskillende unieke pakkette wat ons uitsonderlike aanpas vir elke bruid en haar aanstaande.  Paartjie kan met ons kontak maak en ons werk dan saam met hulle om die perfekte pakket te ontwerp.”

As julle opsoek is na iemand wat julle liefde perfek sal vasvang, besoek gerus MNW Photography se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

Foto: Facebook

Written by Troukoors