Trouvideo’s 101 – wat jy moet weet


Trouvideo’s is een van die beste maniere om jou spesiale dag te herleef. Daar is wel baie aspekte om in gedagte te hou om die beste besluite te neem wanneer dit by jou trouvideo’s kom.

Videograaf, Zandre Rossouw van Cinastage Studios, gee vir An-Sophie Jonker sy raad en opinie ten opsigte van die bruidspaar, venue en die videograaf om te verseker dat trouvideo’s paartjies se verwagtinge oortref!

BELIGTING
“As die lokaal te min of te veel lig het, is jou troukoördineerder die oplossing. Hulle ken die
area en weet ook waar meer of minder lig gaan werk. In al die areas is die kleur en kwaliteit van die ligte belangrik. Geel of oranje beligting kompliseer net die saak vir jou video- en fotograwe as jy ʼn donker venue wil belig. Gekleurde ligte het ook ʼn direkte impak op foto’s sowel as jou trouvideo’s.

Die belangrikste areas wat belig moet word is die plekke waar detail belangrik is. Die beligting gaan ook verskil op verskillende tye van die dag. As jou venue wel te veel lig het deur die dag, soos die kapel teen vroegmiddag, kan ʼn verspreider die antwoord wees, byvoorbeeld ʼn mooi afgewerkte gordyn kan baie goed hier werk. Nie te dik dat die gordyn dan weer die hele area donker los nie. Die verspreider kan enigiets wees wat jy gebruik om die lig te verminder sonder om al die lig te verwyder.

Die gloeilampe kan ook vervang word met gloeilampe wat ʼn laer watt uitsit om ʼn donkerder kleur te gebruik vir dekor en meubels. Vir ʼn donker kamer kan die gebruik van wit kleure ʼn aanwins wees. Wit weerkaats lig eerder as om dit te absorber. Ligte mure is ook jou vriend. Hier kan jy die ligte so posisioneer dat dit teen die mure en dak skyn. Dit gee ook meer lig sonder om die plek te veel te belig en hou ook die ligte wat benodig word minimaal. Feëtjieliggies op die tafels of dak kan ook help. Kerse kan ook saam die feëtjieliggies gebruik word.”

EERSTE DANS
“Die eerste dans is ʼn hoogtepunt vir enige bruidspaar. Om seker te maak dat jou eerste dans glad verloop, is daar ʼn paar goed om in gedagte te hou. Die eerste en belangrikste punt is met betrekking tot jouself. Niemand anders weet hoe die dans moet lyk behalwe jy en jou geliefde nie. So wees rustig, as daar ʼn foutjie kom dans net voort. Maak seker die videograaf is ingelig oor die danspassies, sodat elke draai perfek vas gevang kan word. Beligting is prioriteit. Dit sal met die venue en videograaf bespreek moet word, sodat albei partye die nodige toerusting het.”

AANDSESSIE
“Aandfotosessies is nie almal se forté nie. Dit is inderdaad vanselfsprekend om seker te maak dat dit wel iets is wat jou fotograaf gemaklik is om te doen. Dit is ook belangrik dat daar genoeg tyd gegee word vir die beplanning en uitvoer van die fotosessie. Die beplanning is gebaseer op die idee wat jy of die fotograaf het vir so ʼn sessie. Dit hang ook af of die idee wel gaan werk, want partykeer is dit nie moontik om alle idees vas te vang nie. Die meeste voorbereiding lê dan by die fotograwe.”

RAAD OOR DIE VIDEOGRAAF
“Die dag van jou troue is in ʼn oogwink verby. Dit is belangrik om seker te wees jou videograwe wat jou spesiale dag vasvang weet wat hulle doen. Die goedkoop opsie rakende jou foto- en videograwe is nie altyd die beste opsie nie en kan soms na die troue ʼn bitter smaak in die mond los. ʼn Portfolio van jou videograaf is baie belangrik, daarmee maak jy seker dat die kwaliteit van die videograaf se werk op ʼn standaard is waarmee jy gemaklik is. Kliënte resensies kan ook ʼn mooi prentjie skep van die diens wat jy kan verwag. Hou in gedagte wanneer jy ʼn troulokaal kies dat ʼn donkerder venue vir jou ander tipe foto’s sal gee as die van ʼn wit, ligte venue. Jou venue keuse moet dus gekoppel word aan die tipe foto’s en trouvideo’s wat jy graag as eindproduk sal wil hê.”

Zandré se kennis oor trouvideo’s kan jou help om die beste videograaf te kies vir jou troue en sodoende die mooiste video te hê. Trouvideo’s is ʼn manier om jou spesiale dag oor en oor te kan herleef!

Vir meer inligting oor Cinastage Studios, besoek hulle webblad.

Foto: Freepik

Written by Troukoors