Rianca de Wet van klerekas.com gee vandag raad oor wat gaste moet aantrek vir troues… wanneer die “dress code” nie noodwendig vir almal sin maak nie. Lees verder om meer te hoor.
Elke bruilof is ’n fees wat sáám gevier word. Alhoewel die bruidspaar se uitrustings natuurlik die meeste aandag trek, dra die gaste se uitrustings tog by tot die hele atmosfeer van troues.
In vandag se tyd is die kleredrag by troues nie meer slegs streng formeel en tradisioneel nie. Moderne troues se kleredrag wissel van formeel, tot semi-formeel, informeel of selfs “kom soos jy is, dis ’n bring-en-braai”.
Indien jy bekommerd is oor wat om aan te trek, hier is ’n paar wenke om in ag te neem wanneer jy jou keuse vir ’n trou-uitrusting maak.
Die seisoen en klimaat waarin die troue plaasvind, gaan hoofsaaklik bepaal watter soort uitrusting gekies word. ’n Swaar langmourok gaan heeltemal te warm wees in die somer, terwyl ’n kortmou rok ysigkoud kan wees in die winter; dan is ’n baadjie of ’n elegante stola weer nodig.
Die troulokaal gaan ook jou keuse beïnvloed. Jou rok moet baie formeel wees vir ’n swierige troue by formele troulokaal, waarteenoor gemakliker en minder formele troulokale, ’n minder formele uitrusting verlang.
Dis belangrik om ook die troukaartjie te raadpleeg oor hoe formeel die kleredrag vir die troue moet wees. Die bruid is natuurlik die spil waarom alles draai, so dit is belangrik om haar keuse te respekteer en daarvolgens aan te trek.
Deesdae stel die bruidspaar baie keer ’n kleurkaart vir gaste voor, waarvolgens hulle dan moet aantrek, sodat die gaste se uitrustings mekaar komplementeer wanneer almal saam afgeneem word.
Onthou dis die bruid se sonskyndag! Al sou jy dit nie noodwendig so gedoen het nie, neem haar behoeftes in ag en probeer ’n uitrusting kies wat min of meer by die voorgestelde kleure vir die troue pas.
Indien die kaartjie sê die drag is formeel, behoort vrouens formele lang rokke, deftige cocktail-rokkies of stylvolle eenpakke aan te trek. Mans behoort ’n deftige broek, knopieshemp en baadjie aan te trek. ’n Das of strikdas is opsioneel.
’n Skemerkelk-funksie verlang ’n uitrusting wat bietjie meer formeel as informeel is, maar minder formeel as formele drag. Cocktail-drag is deesdae baie gewild vir troues. Dis ’n stylvolle balans tussen elegant en gemaklik. Eerder as ’n formele lang rok, kan dames korter rokkies, knie-lengte of midi-rokke dra. Mans dra steeds ’n deftige broek, knopieshemp en baadjie.
Indien die kleredrag semi-formeel is, is dit belangrik om die tyd van die dag wanneer die troue plaasvind in gedagte te hou. Dra donkerder kleure indien die troue in die aand is, en ligter kleure en materiale vir ’n oggend-troue. Mans kan ’n langbroek en informele knopieshemp aantrek. Hou weereens die tyd van die dag ingedagte wanneer hy besluit op die kleur van sy knopieshemp, donkerder kleure werk beter vir die aand en ligter kleure is meer gepas vir die oggend.
Informele kleredrag beteken die geleentheid sal baie meer gemaklik wees. Dames kan ’n somersrokkie of mooi rompie en bloes dra. Vermy eerder ’n denim en ’n T-hemp, dit bly steeds ’n spesiale geleentheid. Wighakskoene of stylvolle sandale is mooi opsies vir dameskoene. Mans kan meer informeel aantrek, maar bêre eerder die T-hemde, gholfhemde en tekkies vir sportgeleenthede.
MOETS EN MOENIES VIR DIE TROUGASTE:
- Onthou dit is ’n teken van respek om elegant aan te trek.
- Bly weg van wit, ivoor, room of ligte sjampanje! Dis die bruid se spesiale dag en hierdie kleure is gereserveer vir haar uitrusting.
- Maak seker dat jou klere nie gekreukel is nie.
- Moenie ongemaklike, te klein of te kort uitrustings aantrek nie.
- Neem die lokaal ingedagte wanneer jy jou skoene kies, grasperke kan baie maklik jou hakskoene se hakke verniel en in die grond laat insak, dra eerder blokhakskoene of wighakskoene in hierdie geval.
- Tensy dit ’n strandtroue is, los jou plakkies by die huis.
Of jy ’n elegante aandrok, ’n modieuse knie- of enkellengte rok, of selfs ’n gestruktureerde eenstukbroekpak aantrek, dis belangrik om ’n uitrusting te kies waarin jy goed voel sodat jy die bruilof sáám met die bruidspaar kan geniet!
Besoek gerus www.klerekas.com vir pragtige klere, toebehore en skoene wat die koppe sal laat draai.
Foto: The Knot