Troue met ’n elegante, tydlose atmosfeer

Julian en Claire Tabone wou ’n stylvolle troue hê en het gaste se asems weggeslaan met hulle keurige dekor en elegante atmosfeer.

Julian en Claire het heel toevallig in ’n restaurant in Hazelwood ontmoet toe sy uit was saam met haar vriendin, en ook haar strooimeisie, Suné, en hy saam met sy vriend en strooijonker, Henri (wat die meisies toevallig ook geken het). Hulle het van die eerste oomblik af tot mekaar aangetrokke gevoel en die res is geskiedenis!

Hulle het in die Kaap verloof geraak na ’n staptog in Lions Head, waarna hulle dit met ’n glasie vonkelwyn gaan vier het in hulle pragtige see-uitsig woonstel in Kampsbaai.

Johan Ungerer van Johan Ungerer Signature Weddings vertel meer oor die beplanning van hulle troue.

WAT WAS DIE TEMA VAN DIE TROUE?

“Daar was geen spesifieke tema nie, maar die einddoel was om ’n tydlose, moderne, elegante en stylvolle atmosfeer te skep vir die paartjie en hulle gaste.”

HOEKOM HET JULLE HIERDIE SPESIFIEKE KLEURSKEMA GEBRUIK?

“Die kleurskema van die troue wat swart, wit, olyfgroen en roosgoud. Ons wou wegbeweeg van alledaagse kleurkombinasies en ’n dramatiese effek skep met die dekor.”

WATTER KLEURE EN TEMAS IS TANS GEWILD?

“Sagte en neutrale klere is baie gewild, in skakering van sagte pienk, olyfgroen, klassieke blou en verskeie aardse kleure.”

OM BLOMME EN DEKOR TE KRY WAT JULLE KLEURSKEMA PAS, MOES ’N UITDAGING GEWEES HET – WAAROP HET JULLE BESLUIT?

“Die dekor is oorheers deur swart elemente soos tafeldoeke, servette, kerse, kandelare, tafelnommers en spyskaarte, wat versag is deur wit, groen en roosgoud elemente. Ons het wit blomme gebruik om die prentjie mee af te rond.”

HOEKOM IS ’N GOEIE TROUBEPLANNER BELANGRIK?

“Dit maak die reis vir die paartjie baie maklik en verminder die stres wat hulle rondom die troue ervaar, sodat hulle net kan fokus op die dag en om dit te geniet.”

HOE KAN JY ’N TROUE REËL EN STEEDS JOU BEGROTING LAAT KLOP?

“Alles gaan oor beplanning. Besluit op jou begroting en hou daarby. Jy het nie ’n reuse-begroting nodig om jou troue stylvol te maak nie. Hou dinge eenvoudig en moenie oorboord gaan met alles nie. Dis die detail en eenvoud wat jou troue stylvol en perfek gaan maak.”

HET JY ENIGE RAAD VIR PAARTJIES WAT GAAN TROU?

“Geniet elke oomblik van die beplanning, want dis ook ’n groeiproses waarin julle mekaar beter leer ken. Doen wat julle wil en waarvan julle hou en moenie bekommerd wees oor wat ander mense dink nie. Daar is baie diensverskaffers wat nie buitensporig duur is nie en graag wil help om jou drome waar te maak, so kies goed.

Claire voeg by: “Wees oop vir idees en druk jou persoonlike stempel op jou troue af. Kies en belê in ’n troubeplanner wat jou behoeftes verstaan en aandag gee aan die detail. Johan was ongelooflik en het dadelik verstaan wat ons wil hê. Hy het binne ons begroting gebly en deurgaans met ons gekommunikeer. Hy het ook baie effektief en professioneel met ons familie, gevolg en ander verskaffers gewerk. Geniet elke oomblik van jou troudag en skep herinneringe wat jy vir altyd sal koester. Dis immers die begin van julle lewens saam.”

DIENSVERSKAFFERS:

Plek en Spyseniering: Chez Charlene Wedding Venue

Koördinering: Johan Ungerer Signature Weddings

Blomme: DITU Consultants

Troukoek: Sweetly Detailed

Drankies: Deetlefs Wine Estate

Dekor: Lampyridae Lights, Chez Charlene Wedding Venue

Skryfbehoeftes: Johan Ungerer PR & Marketing (ontwerp) en Minuteman Press Lynnwood (drukwerk)

Dankiegeskenke: Nicole’s Macaroons

Foto’s en video: Diverse Studio

Vermaak: Gloriosa Music

DJ en beligting: Thabiso Khambule

Trourok: Michelangela Bridal Boutique

Troupakke: Black Tie

Hare: Hair Arte’

Grimering: Halouw Make-Up Academy

Ringe: C.H. Diamonds

 

 

Written by Troukoors