Eksklusief: Hoezit Samelewing se Francois Boyce trou en reik debuut-enkelsnit uit

Die gewilde sosialemediaster, Francois Boyce van Hoezit Samelewing, het onlangs trou beloof aan die liefde van sy lewe, Amoré van Tonder. Ons is bevoorreg om hulle troufoto’s eerste te deel. Lees verder                               om meer te sien.

 

Francois en Amoré het in die kerk ontmoet nadat hulle albei gedurende inperking Somerset-Wes toe getrek het. Hy is die man waarvoor sy haar hele lewe lank nog bid en alhoewel hulle nie van dag een af geweet het dat hulle vir mekaar bedoel was nie, het hulle gou genoeg agtergekom dat hulle sonskyn tot mekaar se lewens voeg.

Sy het verlief geraak op sy borrelende lag en aansteeklike humor en hy op haar sagtheid en opregte hart. Beide voel tuis en veilig in mekaar se arms.

Hulle was ongeveer agt maande verloof voordat hulle vir ewig aan mekaar trou beloof het.

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?

“Ek doen gereeld oudits op plase en hy het my een dag genooi om die laaste werksdag te vier voordat die Kersseisoen sou begin. Hy het my gevat na Ernie Els se wynplaas in Stellenbosch. Een van die dames wat daar werk is reeds ingelig dat ons daar verloof gaan raak en het goed saam gespeel. Sy het ons verwelkom en aangebied om ons vir ’n toer deur hulle besonderse mooi kelder te vat. Ek was absoluut in vervoering het niks vermoed nie. Ons vier dan net die begin van die Feesseisoen. Ek het alles bekyk totdat ons amper aan die einde van die kelder was. Ek kon baie goed onthou dat Francois ewe skielik dieper begin asemhaal het. Ek het nog by myself gedink: “Wat gaan nou aan met die man?”. Toe ek omdraai staan hy op een knie, reg met die groot vraag.”

VERTEL ONS MEER OOR JULLE TROUBEPLANNING?

“Omdat ons elke dag met baie mense te doen kry, was dit vir ons belangrik om ’n klein en intieme troue te hê, met die hooffokus om te trou en te kuier saam met ons gesinne. Ek is gek oor Pinterest. Dit was die perfekte platform wat ek kon gebruik om ’n visuele prentjie te kry van my droom vir ons troue.

Aangesien ek en Francois in Somerset-Wes bly en ons ’n troue in Bloemfontein moes reël, het my Ma se hantering van sekere beplanning aan daardie kant ’n groot verkil gemaak en definitief baie spanning van my afgehaal. Sy weet presies waarvan ek hou en wat my smaak is. Dit het die proses heelwat vergemaklik. 

Wat die beplanning aanbetref, was ek nie noodwendig ’n tipiese bruid nie. Ek was deur die hele proses baie ontspanne.

My raad aan ander bruide wat trou sou wees om eers ’n bietjie te brainstorm met idees indien jy nog nie ’n definitiewe idee het van hoe jou spesiale dag moet lyk nie. Vat tyd en besluit waarvan jy jou. Dit maak die proses dan soveel makliker wanneer jy begin soek na idees en kleurskemas. Dit is belangrik om jou aanstaande man ook in te sluit. Al sê mense baie dit is die vrou se groot dag en sy droom al lank daaroor, is dit net soveel die man se spesiale dag en het hy ook dalk gedroom oor julle troudag.

Maak hom deel van die proses. Laat hom toe om insette te lewer rondom die kleurskema, blomme ensovoorts.” 

 

WAT WAS JULLE KLEURSKEMA EN TEMA? 

Ek het geweet dat ek iets eenvoudig tog stylvol soek. Ek en Francois hou albei van grys en was dit maklik om te besluit dat dit definitief deel van ons kleurskema moes wees. Ons het toe ’n sage groen bygevoeg omdat ons gevoel het dit is ’n kleur wat tydloos is.”

BESKRYF JULLE TROUDAG?

Ek dink ons albei kan sê dat ons troudag besonders spesiaal was en presies wat ons wou hê dit moes wees. As ons dit moes oor doen dink ek nie ons sou enigiets verander het aan die dag nie.Ek dink die feit dat ons troue baie klein was het baie spanning van my afgehaal. Ek kon elke oomblik inneem. 

Ons was definitief emosioneel op die dag. Trou kan opwindend wees, maar tog ook senutergend. As ek weer moes kies, het ek ons troue presies dieselfde beplan en sou ek dit nie anders wou hê nie.

Elke oomblik was spesiaal. Van die eerste oomblik wat julle mekaar sien tot die foto’s wat julle gaan neem wat vir altyd gaan hou, tot die lekker samesyn van die familie was dit net ’n ongelooflike lekker ervaring.”

HET ENIGIETS SPESIAAL (OF SELFS SNAAKS) OP JULLE TROUDAG GEBEUR?

“Ons het ’n ongenooide gas gehad by ons troue – oom Eskom. Hy was selfs so voorbarig en het sy vrou, beurtkrag, saamgebring. Dit het ons intieme troue net op ’n ander vlak van intiem gesit, want toe ons weer sien toe is daar net kerse. Dit het wel die geselsies, grappe en stories om die tafel ongelooflik lekker gemaak. Almal het deelgeneem en die kuier was lekker verby.”

HET JULLE ENIGE SELFDOEN-PROJEKTE AANGEPAK VIR DIE TROUE?

“Ja, ons het so paar selfdoenprojekte gehad. Elke gas het ’n wynbottel as geskenk gekry met ’n etiket wat ons self ontwerp het. Die spyskaarte en name vir die tafel het ons ook self gemaak.”

Vandag, 23 September 2022, reik Francois ook sy eerste enkelsnit uit. MEISIE VAN FRASERBURG is ’n voetjeuklekker Afrikaanse sokkietreffer wat hy saam met Landru Ehlers van die groep Wolwe-Dans geskryf het. Dit is geïnspireer deur sy eie liefdesverhaal en is vervaardig deur Dirk van Niekerk van Noted Music.

Dis nou beskikbaar op alle digitale platforms.

 

DIENSVERSKAFFERS

Plek, koördinering, spyseniering, drankies, blomme en dekor: Lochs Hoek Farm For All

Skryfbehoeftes: Bénédictions Décor Bloemfontein

Troukoek: Erna Matthys, 082 774 9416

Foto’s: GoUrban Photography 

Musiek: Hoezit Samelewing

Trourok: Hannelore, 082 976 9147

Hare: Yolande Rautenbach, 083 610 2596

Grimering: Sharlien Nel van Posh Lab Dan Pienaar

Bruidegom se uitrusting: Suit Hire – Strand 

 

Written by Troukoors