Eksklusief: Eerste foto’s van sangeres Melanie J se foto’s om nuwe enkelsnit te vier

Melanie J het onlangs met die liefde van haar lewe getrou en reik binnekort ’n nuwe enkelsnit uit wat geïnspireer is deur hulle liefdesverhaal. Lees verder om meer te hoor oor hulle troue en die liedjie, TWEE IS BETER AS EEN.

Donavon en Melanie se troue wat ’n pragtige viering van hulle liefde vir mekaar en God. Die paartjie het op TikTok ontmoet. Die paartjie was vir ’n hele ruk saam, voordat Donavon die groot vraag op haar verjaardag gevra het.

Vir hulle troue, wou hulle iets skep wat albei se smaak inkorporeer. Hulle het besluit op ’n pastel-kleurskema, met goue elemente om ’n sagte en romantiese atmosfeer te skep.

Ons het meer gaan uitvind oor hulle troubeplanning:

WAT IS DIE TEMA VAN DIE TROUE EN WATTER ATMOSFEER WIL JULLE SKEP? 

“Ons het ’n mengsel van ons al twee se smaak ingebring. Ek wou ’n tydlose klassieke vintage gevoel skep, wat ons vermeng het met rustieke elemente.”

WAT IS DIE KLEURSKEMA EN HOEKOM HET JULLE DAAROP BESLUIT? 

“Pastelle met goud. Ligpers was my hoofkleur gewees, want dit was ook die kleur van my ouers se troue.” 

IS DAAR ENIGE SELFDOEN-PROJEKTE WAT JULLE VIR DIE TROUE AANGEPAK HET EN HOEKOM HET JULLE BESLUIT OM DIT SELF TE DOEN?

“Nie ek en my man self nie, maar ons familie het dit vir ons gedoen tussen die VK en SA. Ons het ook plaaslike besighede probeer ondersteun wat handgemaakte items verkoop.” 

WATTER DEKOR EN BLOMME IS VIR DIE TROUE GEBRUIK EN HOEKOM?

“Oorspronklik wou ek net peonies gehad het, maar in Februarie is hulle uit seisoen uit. MK Event Management het ons wel verras met rose wat ingevoer is uit Kenia. Dit was sagte pienk/ pers rose en wit oop rose. 

Die kleur van die blomme het die pastelle van die hele troue mooi bymekaar gebring. Die onderborde was wit met gedetailleerde antieke goue patrone en die eetgerei was ook goud om by alles te pas. Ons het ook rustieke lanterns gehad wat om die swembad geplaas is, met feëtjieliggies  wat van binne na buite skyn. Dit was sprokiesmooi.” 

HOEKOM HET JULLE OP DIE VENUE BESLUIT VIR JULLE TROUE?

“Die venue is baie intiem en bring skep ’n elegante voorkoms in die natuur. Die venue het ook alles ingesluit en dit vir ons gemaklik gemaak dat ons nie hoef te sukkel om alles gereël te kry uit twee lande nie.” 

HET JULLE ENIGE RAAD VIR PAARTJIES WAT OP TROU STAAN? 

“Fokus op mekaar in hierdie tyd. Leer om oor te gee aan ander mense wat hulle hulp aanbied. 

Nie alles gaan loop soos mens dit beplan nie en daarom moet mens op die Here vertrou en nie in jou eie krag vertrou nie.” 

Donavon en Melanie se dag was gevul met liefde en vreugde en almal wat dit bygewoon het, het dit vreeslik geniet. Hulle liefdesverhaal getuig dat twee mense hulle pad na mekaar toe kan vind, uitdagings kan oorkom en ’n sterk verhouding kan bou.

Hulle verhouding en liefdesverhaal, was ook die inspirasie agter die sangeres se nuwe enkelsnit, TWEE IS BETER AS EEN.

Hierdie geestelike Afrikaanse popsnit, wat sy saam met Jolanda Becker geskryf het, gaan oor ’n verhouding wat, ten spyte van fisiese afstand en uitdagings, gegroei het tot ’n betekenisvolle liefdesverhouding wat in geloof saam gebind is.

“Prediker 4:9-12 en my eie verhouding was die inspirasie agter TWEE IS BETER AS EEN,” vertel sy. “In die liedjie is daar ’n deel wat sê: ‘Ek het jou jare reeds liefgehad, in gebede was jy geskryf.’ Ek en Donavon ken mekaar nou wel nie vir jare nie, maar waarvoor ek vir so lank gebid het, het waar geword toe ek hom ontmoet het. Nie een van ons het gedink dat ons iemand spesiaal gaan vind nie, maar min het ons geweet watter wonderlike plan God vir ons het. Vandag is ons getroud.”

Die liedjie, met sy diep lirieke en lekkerluister-wysie, is deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en die doel daaragter is om vir diegene hoop te gee wat al opgegee het op die liefde.

“Al verstaan ons nie die seer waardeur ons nou gaan nie, sal daar ’n dag kom wanneer ons wel sal begryp hoekom ons sekere dinge moes ervaar. Soms kom liefde nie wanneer ons dit graag wil hê nie, maar wanneer ons vrede gemaak het met waar ons is en wie ons groei om te wees.”

Die liedjie kan vanaf 6 Maart 2023 oor die radio gehoor word en sal op 10 Maart 2023 op stromingsplatforms beskikbaar wees.

 

DIENSVERSKAFFERS

Venue, koördinering, drankies en spyseniering: Ché Venue  

Blomme en dekor: MK Event Management 

Verhurings: All Things Wedding

Skryfbehoeftes: Tintel Tong Creativ

Troukoek: Simply Exquisite Cakes

Foto’s: The Harvest Times

Videograaf: Orange Vinyl Studios

Musiek: Cream Cheese DJ’s 

Hare: Irina Duchess of Mane  

Grimering: Zianca Archer Makeup en K.Lee’s Make-up & Personal Care  

Ander: Serenity Candles; The Mobu Shop, Anneki Creations 

 

 

 

Written by Troukoors