ADAM se Christoff trou

Christoff de Beer, lid van die gewilde groep ADAM, het onlangs trou beloof aan die liefde van sy lewe, Leighré White. Lees verder om hulle eerste troufoto’s te sien.

ADAM se nuutste enkelsnit HUURVRY is onlangs uitgereik en is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms, maar dis nie die enigste rede wat dié ouens het om fees te vier nie, want Christoff de Beer het ook onlangs trou beloof aan sy sielsgenoot.

Ons het meer gaan uitvind oor hulle spesiale dag.

VERTEL ONS MEER OOR JULLE TROUBEPLANNING?

“Ek het met Pinterest begin en oor die jare foto’s en idees versamel waarvan ek hou. Ons het April gekies omdat dit die maand is waarin ons begin uitgaan het en verloof geraak het. Omdat dié maand reeds in die herfs is, het ons kleure gekies wat by die gevoel pas soos bruin, oranje, roes, room, goud, brons, ensovoorts. Ek was dankbaar vir kenners se raad oor die blomme, wat op die ou einde Boho-styl was, omdat ek nie kon besluit wat goed sou werk vir ons tema nie.”

WATTER TIPE ATMOSFEER WOU JULLE SKEP EN HOEKOM? 

“Geluk, natuurlike skoonheid, liefde en ’n gesellige kuier. Ek voel dis wie ons as ’n paartjie is en ek wou dit weergee sodat ons net ons self kon wees op die dag.”  

BESKRYF JULLE TROUDAG? 

“Dit was die perfekte dag. Alles was mooi en stresvry. Natuurlik was ek senuweeagtig om met die paadjie af te stap en het ek hard probeer om nie te huil nie, maar gelukkig was albei my ouers daar om my te ondersteun op hierdie groot dag in my lewe.”

WAT HET AGTER DIE SKERMS GEBEUR?

“Die week voor die troue was ’n moeilike een. My ma was in die hospitaal nadat sy albei haar gewrigte gebreek het en ek was bekommerd dat sy nie daar sou kon wees nie. Maar sy is ’n sterk vrou en was ten spyte van alles steeds aan my sy en ek is so dankbaar daarvoor.”

WAT IS JULLE RAAD VIR PAARTJIES WAT GAAN TROU?

“Moenie haastig wees nie, vat julle tyd en beplan ver genoeg vooruit. Sodoende sal jy nie gespanne wees omdat alles op die laaste nippertjie moet realiseer nie en sal jy teen die tyd van die troue genoeg tyd hê om alles af te betaal en nie nodig hê om daaroor te stres nie. Probeer ook om elke oomblik in te neem en te geniet. Onthou dat die gaste nie sal weet as alles nie presies lyk en verloop soos jy beplan het nie, so moenie dat dit jou omver gooi nie.”

DIENSVERSKAFFERS:  

Troulokaal, spyseniering en drankies: Green Leaves Country Lodge and Venue  

Koördinering: Leighré White

Blomme en dekor: La Vie est Belle Wedding Creative Co  

Verhurings: Eastco Party Hire and Festive Lights 

Skryfbehoeftes: Ontwerp deur Leighré White en gedruk deur Jama Llama en La Vie Est Belle Wedding Creative Co

Troukoek: Linda de Beer en Susan Wessels   

Foto’s: Dear J Photography 

Video: LB Videography 

Musiek: Bassline Pro Sound 

Trourok: Bride and Co Parkview  

Hare: Hair Fundi by Didi Wheeler 

Grimering: Dylran Amerika 

Naels: The Nail Studio by Chaney 

Bruidegom se uitrusting: Parktown Stores 

 

Written by Troukoors