Hoekom Vintage troues ʼn goeie idee is

hoekom 'n vintage troue 'n goeie idee is 1
Rose, pêrels en kant, wat kan nou meer romanties wees as dit? La Bella Vita Events, saam met Maxine Oakley wys vir ons, met hierdie mooi fotosessie, hoekom vintage troues so gewild onder Suid-Afrikaanse bruide is.

hoekom 'n vintage troue 'n goeie idee is 2

Vintage as trou-tema werk baie goed vir intieme, romantiese troues en veral vir bruide wat van ouwêreldse sjarme en elegansie hou. Prentjies van piekniek en teepartytjies uit fyn porselein kom in mens se gedagtes op, met meerminstylrokke met lae halse en ruglyne (saam met mooi kantsambrele en handskoentjies). Pragtig vir buitelug troues op ʼn wynplaas.

SALIEGROEN EN KORAALPIENK, DIE PERFEKTE PASMAATS
Sit hierdie twee kleure saam en jy sal nie spyt wees nie. Hulle skep ʼn vars gevoel en komplementeer mekaar perfek. Boonop is dit baie sag en aards, sonder om vaal te wees. Gebruik dit saam met hessian en kant om die prentjie perfek af te rond.

hoekom 'n vintage troue 'n goeie idee is 3

DIE LEKKER VAN MENG EN PAS
Nog ʼn groot voordeel van hierdie tema is dat jy verskillende oudhede en dekoritems soos boeke en teestelle kan meng en pas, om die troue so formeel of informeel as wat jy wil te laat maak. Dit maak dit ook beursie vriendelik, want alles hoef nie presies dieselfde te wees nie en kan jy lekker snuffel in slenterwinkeltjies en oudhede plekke vir mooimaakgoedjies. Jy kan self in ouma se kombuis gaan loer.

DEKADENTE KOLWYNTJIES EN LEKKERS
Troukoeke vir vintage troues laat toe vir tafels vol fynversierde kolwyntjies, of minimalisties versierde groot koeke waarop rose en bessies hulle skoonheid kan uitstal. Lekkergoed in mooi kardoesies, of papierhoringkies maak ook ʼn liplekker vertoning.

TUISGEMAAKTE GESKENKIES
Gastegeskenkies in delikate glasbotteltjies lyk pragtig op ʼn vintage tafel. Maak klein weergawes van julle gunsteling nagereg, of span jou ma se inlê talent in om ʼn persoonlike stempel op dit af te druk. Anders kan jy na vintage bedrukte handsakblikkies volgeurige liproom of lekkers kyk.

VANG JOU GASTE SE OOG
Hier is ʼn paar treffende fokuspunte:
* Een of twee koraal rose in fyn glas houertjies op die tafel in plaas van massas blomme, of ʼn stapeltjie boeke met lint om beklemtoon die romantiese gevoel van ʼn vintage troue en lyk afgerond sonder om oordadig te wees.
* Pêrels in die bruid se hare en om die nekke van die strooimeisies lyk vroulik en speels.
* Fyn teekoppies wat uit die bome hang met rose in, voel soos stukkies liefde wat bo die gaste se koppe sweef.
* Lapservette in die vorm van rose op die borde is eenvoudig en elegant.
* ʼn Leertjie met koue drinkgoedjies in konfytbotteltjies vang die oog en les die dors stylvol.
* ʼn Franse styl stoel met ʼn outydse lamp maak ʼn ideale fotohoekie vir die bruid en die gaste.
 
RAAD VAN DIE STILEERSPAN AAN TOEKOMSTIGE BRUIDE
* Maak seker dat die persoon wat jou rok maak presies weet wat hulle doen en wat jy van hulle verwag, elke meisie wil tog die mooiste voel op haar troudag.
* ʼn Goeie grimeerkunstenaar en haarstilis is ʼn moet!

hoekom 'n vintage troue 'n goeie idee is 4

DIENSVERSKAFFERS

Venue: Saffier Estate

Stilis, blomme en dekor: Maxine Oakley van Styling by Mo Event planning and services

Fotograaf: Nadia Basson Photography

Trourok en strooimeisierokke: Zikma

Grimering en hare: Anelda Botha

Artikel: Yolande van Deventer

 

Written by Troukoors