maak jou hondekind deel van die troue 2
Wagter is al jarelank jou beste vriend, selfs voor liefie in die prentjie gekom het, en jy wil hom graag deel maak van die troue. Retha van die Canine Edu-Centre het raad oor hoe om te maak.

Dit is glad nie meer so ʼn vreemde verskynsel om honde deel te sien van troues nie. Vir party mense is hulle immers familie en verdien ook ʼn aandeel in die vreugde. Dalk wil jy hê hy/sy moet jou die paadjie afstap, as jy nie iemand anders het nie, of die ringe na die kansel toe dra. Dit is heeltemal doenbaar, maar net soos die ander fasette van julle troue, gaan hierdie deel ook beplanning en voorbereiding verg. Luister gerus na die raad.

WATTER TIPE OPLEIDING SAL ʼn HOND NODIG HÊ OM DIE BRUID OF HULLE RINGE DIE PAADJIE AF TE LOOP?
“ʼn Soliede basis in gehoorsaamheid is ʼn moet. Verder is ʼn troue ʼn sosiale affêre waar die hond baie vreemde mense, reuke en geluide moet kan hanteer, so ʼn goeie skoot sosialiseringsopleiding sal ook nodig wees. As dit onder die knie gekry is, kan die hond baie fynere opdragte geleer word soos om die ringe op sy rug of mond te dra en selfs die bruid die paadjie af te stap met of sonder ʼn leiband.”
 
HOE LANK NEEM SULKE TIPE OPLEIDING GEWOONLIK?
“Dit gaan afhang van die hond en die behoeftes van die kliënt, maar ʼn minimum van vier weke is nodig.”

WATTER TIPE HOND IS DIE BESTE KEUSE?
“Enige tipe hond kan gebruik word, party leer natuurlik stadiger as ander en party hanteer stres minder goed. So ʼn fynbesnaarde, senuagtige hond sal opleiding dalk moeiliker vind teenoor ʼn rustige kalm hond.”
 
KAN ʼn OUER HOND OOK GELEER WORD?
“Verseker! Ouer honde sal waarskynlik beter vaar met opleiding as ʼn 6 maande oue babahondjie wat nie ʼn lang konsentrasievermoë en goeie selfbeheersing het nie, maar enige ouderdom hond kan opgelei word.” ’

SAL DIT NODIG WEES OM DIE HOND KALMEERMEDIKASIE VIR DIE OKKASIE TE GEE?
“Weereens sal dit afhang van die tipe hond. Ek sal aanbeveel om ʼn meer natuurlike of kruiemiddel te gee in plaas van chemiese sederingsmiddels. Daar is baie op die mark beskikbaar en jy kan dit te koop kry by jou veearts of troeteldierwinkel.”

maak jou hondekind deel van die troue 3
Daar het julle dit, hondekind hoef nie alleen by die huis te bly nie en kan self ʼn fraai uitrusting vir julle huweliksfees dra! Maak net seker dat julle genoeg tyd op sy sit vir die opleiding en om hom/haar vooraf dalk aan meer sosiale omgewings bloot te stel. ʼn Hondepark soos Walkhaven, in Muldersdrift, is ʼn wonderlike plek om te kyk wat jou viervoet met ander dierasies en mense doen. Gaan trou dus gerus ʼn hond uit ʼn bos uit!

Artikel: Yolande van Deventer
Foto: Hello Love Blog

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA